YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 17

17
Jesus praat oor vergifnis, geloof en onbaatsugtige diens
1Jesus het aan sy dissipels gesê: “Dit is onmoontlik dat dinge wat mense laat struikel, nie oor julle pad kom nie. Groot ellende wag egter op hulle deur wie dit veroorsaak word. 2Dit is voordeliger vir sulke persone as ’n maalklip om hulle nek vasgemaak en hulle in die see gegooi word, as dat hulle vir een van hierdie geringes ’n struikelblok sou wees.
3“Gee ag op julleself. As jou broer aanhou sonde doen, wys hom tereg, en as hy tot inkeer kom, vergewe hom. 4Ook as hy sewe keer op ’n dag teenoor jou oortree, maar ook sewe keer na jou toe kom en sê: ‘Ek is jammer,’ moet jy hom vergewe.”
5Die apostels het toe vir die Here gesê: “Help ons. Ons het meer geloof nodig.”
6Die Here het gereageer: “Al sou julle maar net ’n geloof só klein soos ’n mosterdsaadjie gehad het, sou julle aan hierdie moerbeiboom gesê het: ‘Ontwortel jouself en gaan verplant jou in die see’ – hy sou julle gehoorsaam!
7“As een van julle ’n slaaf het wat besig is om te ploeg of om diere te versorg, sal hy aan hom, wanneer hy van die land af kom, sê: ‘Kom eet gou saam’? 8Nooit nie! Hy sal aan hom sê: ‘Maak iets gaar vir aandete. Bind jou klere vas en bedien my terwyl ek eet en drink. Eers daarna gaan jy self eet en drink.’ 9’n Slaaf wat sy opdragte uitgevoer het, ontvang mos nie dank nie!
10“Net só is dit ook die geval met julle: As julle alles gedoen het wat aan julle opgedra is, sê dan: ‘Ons is net nikswerd slawe. Ons het bloot uitgevoer wat ons moes doen.’”
Jesus genees tien mans met ernstige velsiektes
11Dit het gebeur terwyl Jesus deur die grensgebied tussen Samaria en Galilea op reis was na Jerusalem toe. 12Toe Hy aan die buitewyke van ’n sekere dorpie kom, het tien mans met ernstige velsiektes Hom tegemoetgekom, maar op ’n afstand bly staan. 13Hulle het hard na Hom geroep: “Jesus, Meneer, ontferm u tog oor ons!”
14Toe Hy hulle sien, sê Hy aan hulle: “Gaan wys julleself aan die priesters.” Terwyl hulle soontoe op pad was, het hulle gesond geword.
15Een uit die groep, toe hy sien dat hy gesond geword het, het omgedraai en met ’n harde stem vir God geloof. 16Hy het op sy gesig aan Jesus se voete neergeval en Hom gedank. Hierdie persoon was ’n Samaritaan.
17Toe merk Jesus op: “Was daar dan nie tien wat gesond gemaak is nie? Waar is die ander nege? 18Is daar niemand anders wat omgedraai het om God te loof behalwe hierdie vreemdeling nie?” 19Aan hierdie man het Hy gesê: “Staan op, gaan. Jou geloof het jou gered.”
God se koningsheerskappy begin nie met sigbare voortekens nie
20Toe Jesus deur die Fariseërs uitgevra is oor wanneer die koningsheerskappy van God dan begin, het Hy hulle geantwoord: “Die koningsheerskappy van God begin nie met sigbare voortekens nie. 21Hulle sal nie sê: ‘Kyk, hier is dit!’ of: ‘Daar is dit!’ nie, want die koningsheerskappy van God is hier by julle#17:21 Of binne-in julle..”
22Jesus het aan sy dissipels gesê: “Daar sal ’n tyd aanbreek wanneer julle sal begeer om tog net één van die dae van die Seun van die Mens te sien, maar julle sal dit nie sien nie. 23Hulle sal egter aan julle sê: ‘Kyk, daar is Hy!’ of: ‘Kyk, hier is Hy!’ Moenie gaan nie, en moenie agter hulle aanloop nie. 24Soos ’n weerligstraal flits en die hemel van die een kant na die ander kant verlig, só sal Ek, die Seun van die Mens, op daardie dag van My verskyn. 25Eers moet Ek egter baie lyding verduur en deur die mense van hierdie geslag verwerp word.
26“Net soos dit gebeur het gedurende die tyd van Noag, só sal dit ook gaan gedurende die tyd voor my koms as die Seun van die Mens: 27Hulle het geëet, gedrink, getrou en vroue in die huwelik uitgegee tot op die dag dat Noag in die ark ingegaan het. Die watervloed het gekom en hulle almal vernietig. 28Dit het ook net so gebeur gedurende die dae van Lot: Hulle het geëet, gedrink, gesmous, geplant en gebou. 29Op dieselfde dag dat Lot uit Sodom weggegaan het, het vuur en swael uit die hemel gereën en almal vernietig. 30Dit sal net so gebeur op die dag wanneer Ek as die Seun van die Mens bekendgemaak word.
31“Op daardie dag moet dié wat op die dakstoep sit terwyl hulle besittings nog in die huis is, nie afklim om dit saam te vat nie. Net so moet dié wat op die land is, nie terugdraai na die besittings agter hulle nie. 32Onthou maar net wat met die vrou van Lot gebeur het. 33Almal wat hulle daarop instel om hulle lewe te beveilig, sal dit verloor, maar hulle wat dit verloor, sal dit behou.
34“Ek verduidelik dit aan julle: Gedurende daardie nag sal daar twee mense op een bed wees; die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word. 35Daar sal twee vroue wees wat koring maal; die een sal saamgeneem en die ander een agtergelaat word.”#17:35 Sommige manuskripte het ook ’n vers 36 Twee sal op die land wees; die een sal saamgeneem word en die ander een sal agtergelaat word.
37Hulle vra Jesus toe: “Waar sal dit gebeur, Here?” Hy het geantwoord: “Waar die karkas lê, daar sal die aasvoëls bymekaarkom.”

Currently Selected:

LUKAS 17: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy