YouVersion Logo
Search Icon

LUKAS 16

16
Leer by wêreldlinge hoe om vir die ewigheid voor te berei
1Jesus het hierdie verhaal aan sy dissipels vertel: “’n Ryk man het ’n bestuurder in diens gehad om sy sake te behartig, maar gou het ’n gerug die rondte gedoen dat die bestuurder sy baas se besittings verkwis. 2Sy werkgewer roep hom toe in en sê: ‘Wat hoor ek van jou? Stel jou verslag op, want jy gaan ontslaan word.’
3“Die bestuurder het by homself gedink: ‘Wat nou? Dis klaarpraat met my hier; ek het nie die krag om te gaan slote grawe nie en ek is te trots om te gaan bedel. 4Ek het die oplossing! Dit gaan vir my boonop nog baie vriende besorg wat na my sal omsien as ek hier padgee!’
5“Hy het toe elke persoon wat aan sy werkgewer geld geskuld het, ingeroep om die situasie te bespreek. Hy het vir die eerste een gevra: ‘Hoeveel skuld jy hom?’ 6Die man het geantwoord: ‘Ek skuld hom 100 vate olyfolie.’ Die bestuurder sê toe: ‘Skeur op daardie skuldbrief en teken ’n ander een vir 50.’
7“‘En hoeveel skuld jy my werkgewer?’ het hy vir die volgende persoon gevra. ‘100 sakke koring,’ was die antwoord. ‘Hier,’ het die bestuurder gesê, ‘vat jou skuldbrief en vervang dit met een vir 80 sakke.’
8“Die ryk man moes tog die oneerlike bestuurder prys omdat hy so uitgeslape was. En dit is waar dat die mense van hierdie wêreld onder mekaar vindingryker is as die godvresende mense#16:8 Grondteks mense van die lig.. 9Ek sê vir julle, gebruik julle wêreldse bronne tot voordeel van ander, en maak só vriende. Op dié manier sal julle vrygewigheid vir julle ’n beloning in die hemel verseker.#16:9 Of Op dié manier, wanneer jou aardse lewe verby is, sal jou vriende jou verwelkom in die ewige wonings.
Wees getrou in alles wat God aan jou toevertrou
10“As julle in klein sake getrou is, sal julle ook in groot sake getrou wees. As jy selfs ’n klein bietjie oneerlik is, sal jy nie eerlik wees met groot verantwoordelikhede nie. 11En as julle onbetroubaar is met wêreldse rykdom, wie sal julle vertrou met die werklike rykdom van die hemel? 12En as julle nie betroubaar is met ander mense se geld nie, waarom sal julle met julle eie geld vertrou word?
13“Niemand kan twee eienaars dien nie. Want jy sal die een haat en die ander liefhê, of die een aanhang en die ander verag. Julle kan nie God én geld dien nie.”
God se koningsheerskappy maak die wet nie ongeldig nie
14Die Fariseërs wat baie lief was vir hulle geld het natuurlik hiermee gespot. 15Hy sê toe vir hulle: “Julle wil graag in die openbaar goed voorkom, maar God ken julle bose harte. Wat hierdie wêreld vereer, is ’n gruwel in die oë van God.
16“Totdat Johannes die Doper begin preek het, was die wette van Moses en die profete julle riglyn. Maar van toe af word die Goeie Nuus van God se koningsheerskappy verkondig en gretige skares trek op. 17Dit beteken egter nie dat die wet sy geldigheid verloor het nie. Dit bly van krag tot in sy fynste besonderheid. Dit is sterker en meer blywend as hemel en aarde.
18“Enigiemand wat van sy vrou skei en met iemand anders trou, maak hom skuldig aan huweliksverbreking, en enigeen wat ’n geskeide vrou trou, maak hom ook skuldig aan huweliksverbreking.”
’n Ryk man word ontnugter
19Jesus het gesê: “Daar was ’n ryk man wat pragtig aangetrek het en sorgeloos in weelde geleef het. 20Voor sy deur het ’n siek bedelaar genaamd Lasarus gelê. 21Terwyl Lasarus daar gelê en begeer het om van die oorskiet van die ryk man se tafel te kon kry, het die honde aan sy oop sere kom lek. 22Uiteindelik is die bedelaar dood, en hy is deur die engele weggedra om by Abraham te wees#16:22 Grondteks na die skoot van Abraham.. Die ryk man het ook gesterf en is begrawe. 23Hy het sy oë in die doderyk oopgemaak en terwyl hy gefolter word, het hy Lasarus in die verte by Abraham gesien.
24“Die ryk man het geroep: ‘Vader Abraham, ontferm u oor my! Stuur vir Lasarus hierheen om die punt van sy vinger in water te steek en my tong af te koel, want ek ly verskriklik in hierdie vlamme!’
25“Maar Abraham het vir hom gesê: ‘Kind, onthou gedurende jou leeftyd het jy alles gehad wat jy wou hê, en Lasarus niks. Maar nou is hy hier en word vertroos, en jy word gepynig. 26En buitendien is daar ’n groot kloof wat ons skei. Enigeen wat van hier na julle wil oorgaan, word op die rand gestuit, en niemand van daar af kan na ons toe oorkom nie.’
27“Toe sê die ryk man: ‘Asseblief, vader Abraham, stuur hom na my pa se huis toe. 28Want ek het vyf broers, en ek wil hê hy moet hulle waarsku teen hierdie plek van pyniging sodat hulle nie hier beland wanneer hulle sterf nie.’
29“Maar Abraham het gesê: ‘Hulle het Moses en die profete om hulle te waarsku. Jou broers kan hulle geskrifte enige tyd lees wanneer hulle wil.’
30“Die ryk man het geantwoord: ‘Nee, vader Abraham! Maar as iemand uit die dood na hulle gestuur word, sal hulle tot inkeer kom.’
31“Maar Abraham het gereageer: ‘As hulle nie na Moses en die profete luister nie, sal hulle ook nie luister nie selfs al sou iemand uit die dood opstaan.’”

Currently Selected:

LUKAS 16: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy