YouVersion Logo
Search Icon

KLAAGLIEDERE 4

4
Die Here se woede kom tot ’n einde
1Hoe dof het die goud geword!
Die fynste goud
het sy glans verloor.
Die uitgesoekte edelstene
lê oor die strate uitgestrooi.
2Die inwoners van Jerusalem#4:2 Grondteks Sion.
was hulle gewig
in goud werd.
Nou word hulle minder geag
as potte van klei.
3Selfs ’n jakkalswyfie
laat haar kleintjies drink,
maar die vroue van my volk
het wreed geword,
soos volstruise in die woestyn
wat hulle kleintjies ignoreer.
4Babatjies se monde is droog,
maar hulle kry niks om te drink nie.
Kindertjies soebat tevergeefs
vir iets om te eet,
en niemand gee vir hulle iets nie.
5Die mense wat vroeër
die lekkerste kos geëet het,
loop nou op straat en bedel
vir enigiets om te eet.
Dié wat vroeër
in paleise gebly het,
krap op ashope rond
vir iets om te eet.
6My volk se skuld
is groter as dié van Sodom,
wat in ’n oomblik vernietig is
sonder dat iemand kon keer.
7Ons leiers was
blinker as sneeu,
witter as melk
en so mooi soos edelstene.
8Hulle het nou swarter geword
as roet.
Niemand herken hulle meer
op straat nie.
Hulle vel het gekrimp
tot op die been.
Hulle het uitgedroog soos hout.
9Hulle wat doodgemaak is
in die oorlog,
is baie beter daaraan toe
as hulle
wat moet doodgaan van honger.
Hulle lewe kwyn weg
omdat daar niks is
om te eet nie.
10Sagmoedige vroue
moes hulle eie kinders gaarmaak
en hulle eet
om te kan oorleef.
11Maar nou is die Here se woede
uitgewoed.
Hy het sy ergste woede uitgegiet.
Hy het ’n vuur in Jerusalem#4:11 Grondteks Sion. losgelaat
wat dit afgebrand het
tot op sy fondamente.
12Daar was nie ’n koning
op aarde
of ’n mens in die wêreld
wat ooit kon dink
dat ’n vyand
Jerusalem sou binnegaan nie.
13Tog het dit gebeur
omdat haar profete oortree het
en haar priesters
regverdige mense
doodgemaak het in die stad.
14Soos blindes
het hulle voel-voel
deur die strate geskuifel.
Hulle klere was so vol bloed,
dat niemand aan hulle
wou raak nie.
15Mense het vir hulle geskreeu:
“Loop weg! Julle is onrein!
Gee pad!
Moenie aan ons raak nie!”
Hulle het weggevlug,
by heidennasies probeer bly,
maar selfs dié nasies
wou hulle nie daar toelaat nie.
16Die Here het hulle verjaag.
Hy gee nie om vir hulle nie.
Die priesters en leiers
word nie meer
geëer en gerespekteer nie.
17Ons het verniet gesit en wag
dat ons vennote ons kom help.
Ons het na nasies gekyk
wat ons nie kon red nie.
18Ons vyand was op ons spoor.
Ons einde het gekom.
Ons dae was getel.
Dit was verby met ons.
19Ons vyande het ons agtervolg,
hulle het op ons neergeswiep,
vinniger as arende uit die lug.
Toe ons die berge in gevlug het,
was hulle warm op ons spoor.
In die woestyn
het hulle ons reeds voorgelê.
20Ons koning, die lewe van ons volk,
die gesalfde van die Here,
is in hulle strikke gevang.
Ons het nogal gedink
ons is veilig onder sy leiding
tussen die ander nasies.
21Julle Edomiete wat in Us bly,
julle moet maar lag en lekkerkry.
Julle beurt kom
om dronk te word
van God se woede,
en dan kaal uitgetrek te word.
22Jou straf sal verbygaan, Jerusalem#4:22 Grondteks dogter van Sion..
Jy sal terugkom uit ballingskap.
Maar Edom,
jou straf het nou eers begin.
Dan gaan Hy jou sondes openbaar.

Currently Selected:

KLAAGLIEDERE 4: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy