YouVersion Logo
Search Icon

KLAAGLIEDERE 3

3
Nogtans is daar hoop
1Ek is die man
wat ellende ervaar het
toe die Here kwaad was.
2Hy het my na ’n plek gejaag
waar daar geen lig is nie.
3Hy het teen my gedraai.
Sy hand is dag en nag
teen my.
4Hy het my laat uitteer.
Ek het net vel en been
geword.
Hy het die gebeente
van my liggaam gebreek.
5Hy het my omsingel
en my met swaarkry
en lyding omring.
6In ’n donker plek
het Hy my gaan wegsit
soos iemand wat lankal dood is.
7Hy het my ingehok
en met swaar kettings geboei
sodat ek nie kon uitkom nie.
8Wanneer ek bid
en smeek vir hulp,
ignoreer Hy my gebed.
9Hy pak my pad toe met klippe,
Hy laat my ompaaie loop.
10Hy is soos ’n beer
wat my voorlê,
soos ’n leeu
wat vir my lê en wag.
11Hy het my uit die pad gesleep,
my uitmekaargeskeur
en my net so daar laat lê.
12Hy het ’n pyl
in sy boog gespan
en sekuur na my gekorrel.
13Hy het sy houer met pyle
op my leeggeskiet.
14My eie mense lag vir my.
Hulle sing heeldag
spotliedjies oor my.
15Hy het my vol gemaak
met bitter dinge.
Hy laat my bitterheid drink.
16Hy laat my klippe kou.
Hy trap my weg in die grond.
17Ek het al vergeet
hoe dit is om gelukkig
en voorspoedig te wees.
18Ek roep uit: “Ek beteken niks.
Ek verwag niks meer
van die Here nie.”
19Wanneer ek aan my pyn
en my hartseer dink,
word ek bitter.
20Ek sal nooit ooit vergeet
van hierdie slegte tyd nie.
21Tog is daar een ding
waarop ek kan reken
en waarop ek altyd sal hoop:
22Deur die Here se troue liefde
is ons nie doodgemaak nie.
Hy hou nooit op
om vir ons om te gee nie.
Sy genade het geen einde nie.
23Op u ontferming kan ’n mens
altyd vertrou.
Dit is elke oggend nuut.
24Ek sê vir myself:
“My lewe behoort aan die Here.
Daarom vertrou ek op Hom.”
25Die Here is goed
vir hulle wat op Hom wag
en Hom soek.
26Dit is goed
om geduldig te wag
totdat die Here ons red.
27Dit is goed om van jongs af
te leer om geduldig
vir die Here te wag.
28Mense moet geduldig sit
en wag totdat die Here
aandag aan hulle gee.
29Daar is hoop vir jou
as jy stilbly.
30Draai jou ander wang
wanneer jou vyande jou beledig.
31Want die Here laat ’n mens
nie vir altyd eenkant nie.
32Hy bring wel hartseer,
maar Hy het ook medelye
omdat sy troue liefde so groot is.
33Hy geniet dit nie
wanneer mense seerkry
of hartseer is nie.
34Die leiers van sy volk
het gevangenes mishandel.
35Hulle het mense se regte vertrap
in die teenwoordigheid
van die Allerhoogste.
36Hulle behandel mense in die hof
onbillik.
Hulle dink Hy sien dit nie raak nie.
37Kan daar iets gebeur
as die Here
dit nie toelaat nie?
38Is dit nie die Allerhoogste
wat een mens help
en ’n ander vernietig nie?
39Waaroor sal ons kla
wanneer ons gestraf word
omdat ons oortree het?
40Laat ons eerder gaan kyk
na wat ons gedoen het
en daaroor nadink
sodat ons kan omdraai
na die Here toe.
41Laat ons ons harte en hande
uitsteek na God daarbo en sê:
42“Ons was opstandig teen U
en het nie na U geluister nie.
U het ons nie vergewe nie.
43“U was so kwaad vir ons
dat U ons agternagesit het
om ons genadeloos uit te roei.
44U het agter wolke gaan staan
sodat ons gebede
U nie kon bereik nie.
45Tussen die nasies
het U ons gemors en vullis gemaak.
46Al ons vyande
rek hulle monde oor ons.
47Ons is bang.
Ons sit vasgehok.
Ons is verwoes
en eenkant toe gegooi.”
48Ek huil
omdat my volk vernietig is.
49Ek huil onophoudelik.
Dit sal nie ophou
50voordat die Here
my van bo af raaksien nie.
51Ek is ontsteld
oor die vroue van Jerusalem.
52My vyande het jag gemaak op my,
sonder rede.
Hulle wou my vang
soos ’n voël.
53Hulle wou my
in ’n waterput verdrink.
Hulle het klippe
van bo af op my gegooi.
54Waters het oor my kop gegaan
en ek het gedink:
“Dit is verby met my.”
55Van onder in die put, o Here,
het ek na U begin roep.
56U het my hoor roep:
“Moet asseblief nie
u ore toedruk wanneer ek roep
dat U my moet kom help nie.”
57Toe ek na U geroep het,
het U nadergekom en gesê:
“Moenie bang wees nie!”
58U het my saak verdedig
en my lewe gered.
59U het gesien ek is veronreg.
Gee tog uitspraak in my guns!
60U het gesien watter planne
hulle teen my smee.
61U het gehoor
hoe hulle my beledig.
U weet van al die planne
wat hulle teen my gesmee het.
62Hulle sit heeldag
en sleg praat oor my.
63Oral waar hulle kom,
sing hulle spotliedjies oor my.
64Betaal hulle terug in eie munt, o Here,
vir alles wat aan my gedoen is.
65Maak hulle hardkoppig
en straf hulle dan daarvoor.
66Vervolg hulle in u woede.
Roei hulle uit
van die aarde af.

Currently Selected:

KLAAGLIEDERE 3: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy