YouVersion Logo
Search Icon

JOSUA 2

2
Twee verkenners na Jerigo
1Josua, die seun van Nun, het in die geheim twee verkenners van Sittim af uitgestuur. Hy het vir hulle gesê: “Gaan verken die land, veral Jerigo.”
Hulle is daar weg en het by die huis van ’n prostituut uitgekom. Haar naam was Ragab. Hulle het daar tuisgegaan.
2Iemand het vir die koning van Jerigo gaan vertel dat daar gedurende die nag Israelitiese mans aangekom het om die land te verken. 3Hy het toe vir Ragab laat weet: “Laat die mans uitkom wat na jou huis toe gekom het. Hulle het op die land kom spioeneer.”
4Ragab het die twee mans laat wegkruip. Sy het vir die koning laat weet: “Daar was mans hier by my. Ek weet nie van waar af hulle gekom het nie. 5Toe die poorte teen skemer gesluit het, is die mans hier weg. Ek weet nie waarheen hulle gegaan het nie. As jy gou maak, kan jy hulle miskien nog inhaal.”
6Sy het die mans op die dak laat klim en hulle weggesteek onder die vlashalms wat sy daar oopgegooi het. 7Die koning se soldate het toe na die mans gaan soek langs die pad wat na die driwwe by die Jordaan loop. Net na die agtervolgers weg is, is die stad se poorte gesluit.
8Voor die mans gaan slaap het, het die vrou na hulle toe opgeklim op die dak. 9Sy het vir hulle gesê: “Ek weet dat die Here vir julle die land gaan gee. Ons is lam van die skrik. Almal van ons wat in die land woon, is bang vir julle. 10Ons het gehoor hoe die Here die water van die Rietsee voor julle laat wegdroog het toe julle uit Egipte getrek het. Ook wat julle met Sihon en Og, die twee konings van die Amoriete, aan die oorkant van die Jordaan gedoen het en hoe julle hulle uitgewis het. 11Ons het dit alles gehoor. Ons harte het ineengekrimp. Niemand van ons het meer moed oor om teen julle te veg nie. Die Here julle God is God in die hemel daarbo en op die aarde hieronder. 12Ek was goed vir julle. Sweer dan nou vir my voor die Here dat julle ook goed sal wees vir my familie. Gee vir my die versekering 13dat julle my pa en my ma, my broers en susters en hulle families se lewens sal spaar wanneer julle Jerigo aanval.”
14Die mans sê toe vir haar: “Ons lewens is julle versekering. As julle nie ons saak weggee nie, sal ons ons belofte hou wanneer die Here die land vir ons gee.”
15Sy het op die muur gewoon. Haar huis was daar gebou. Sy het hulle met ’n tou deur die venster laat afsak. 16Haar raad vir hulle was: “Vlug na die berge toe sodat julle agtervolgers julle nie in die hande kan kry nie. Kruip drie dae lank daar weg totdat die agtervolging verby is. Julle kan daarna weer julle koers kry.”
17Die mans het vir haar gesê: “Ons sal die belofte wat ons aan jou gemaak het, nakom. 18Jy moet hierdie rooi tou waarmee jy ons deur die venster gaan laat afsak aan die venster vasbind wanneer ons in die land kom. Jy moet dan jou pa en jou ma, jou broers en jou hele familie hier in jou huis laat bymekaarkom. 19As iemand van hulle by die huis se deur uitgaan buitentoe, sal hy vir sy eie dood verantwoordelik wees. Ons is dan onskuldig. As enigiemand wat saam met jou in die huis is egter iets oorkom, sal dit ons skuld wees. 20As jy iets oor ons verklap, is ons vry van die belofte wat ons aan jou gemaak het.”
21Sy het gesê: “Soos julle gesê het, so sal dit wees.” Sy het hulle weggehelp en die rooi tou aan die venster vasgeknoop.
22Die mans is die berge in. Hulle het drie dae lank daar gebly tot die mense wat hulle agtervolg het, teruggekom het. Die mense wat hulle agternagesit het, het orals langs die pad na hulle gesoek, maar kon hulle nêrens kry nie.
23Die mans het toe afgekom uit die berge en is deur die Jordaan terug na Josua, die seun van Nun. Hulle het aan hom teruggerapporteer oor alles wat hulle daar aangetref het. 24Hulle het vir Josua gesê: “Die Here sal die hele land in ons mag gee. Almal wat in die land bly, is lam van vrees vir ons.”

Currently Selected:

JOSUA 2: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy