YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 20

20
Jesus het werklik opgestaan!
1Vroeg die Sondagoggend#20:1 Grondteks Op die eerste dag van die week. toe dit nog donker was, kom Maria Magdalena by die graf aan en merk op dat die klip voor die graf weggerol is. 2Sy hardloop toe en kom by Simon Petrus en die lieflingdissipel en sê vir hulle: “Hulle het die Here uit die graf weggeneem en ons weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”
3Petrus en die ander dissipel het uitgekom en na die graf toe gehardloop. 4Die twee het saam gehardloop, maar die ander dissipel het vinniger as Petrus gehardloop en eerste by die graf aangekom. 5Toe hy vooroor buk, sien hy net die linnedoeke daar lê, maar hy het nie ingegaan nie. 6Simon Petrus het ná hom ook daar aangekom en by die graf ingegaan. Hy sien toe ook die linnedoeke daar lê, 7én die kopdoek wat om Jesus se kop was. Die kopdoek het nie by die ander doeke gelê nie, maar was eenkant opgerol. 8Daarna het die ander dissipel wat eerste by die graf aangekom het, ook ingegaan, gesien, en geglo.
9Hulle het nog nie die Skrif verstaan dat Jesus uit die dood#20:9 Of tussen die dooies uit. moet opstaan nie. 10Daarna het die dissipels weer teruggegaan huis toe.
Jesus verskyn eerste aan Maria Magdalena
11Maria het buite die graf gestaan en huil. Terwyl sy huil, het sy vooroor gebuk en in die graf in gekyk. 12Sy sien toe twee engele met wit klere aan wat sit op dieselfde plek waar die liggaam van Jesus gelê het, een aan die kopkant en een aan die voetekant. 13Hulle vra haar: “Vrou, waarom huil jy?”
Sy antwoord hulle: “Hulle het my Here weggeneem en ek weet nie waar hulle Hom neergelê het nie.”
14Nadat sy dit gesê het, het sy omgedraai en Jesus daar sien staan, maar sy het nie besef dat dit Jesus was nie. 15Jesus sê vir haar: “Vrou, waarom huil jy? Wie soek jy?”
Sy het gemeen dat dit die tuinwerker is, en het vir Hom gesê: “Meneer, as ú Hom weggedra het, sê asseblief vir my waar u Hom neergelê het en ek sal Hom gaan haal.”
16Jesus sê vir haar: “Maria!”
Sy draai om en sê vir Hom in Aramees: “Rabboeni!” Dit beteken “Leermeester”.
17Jesus sê toe vir haar: “Moenie aan My raak nie, want Ek het nog nie na die Vader opgevaar nie. Gaan na my broers en vertel vir hulle: Ek vaar op na my Vader toe, wat ook julle Vader is, na my God toe, wat ook julle God is.”
18Maria Magdalena het die boodskap aan Jesus se dissipels gaan oordra: “Ek het die Here gesien!”
Sy het ook vertel wat Hy vir haar gesê het.
Jesus wys aan sy dissipels sy hande en sy sy
19Gedurende die vroeë aand, op daardie Sondag#20:19 Of op daardie eerste dag van die week., terwyl die deure uit vrees vir die Jode gesluit was, het Jesus se dissipels bymekaargekom. Jesus het tussen hulle gaan staan en vir hulle gesê: “Vrede vir julle!”
20Nadat Hy dit gesê het, wys Hy sy hande en sy sy aan hulle. Die dissipels was baie opgewonde om die Here te sien. 21“Vrede vir julle!” sê Jesus weer ’n keer. “Net soos die Vader My gestuur het, stuur Ek julle ook.”
22Nadat Jesus dit gesê het, het Hy oor hulle geblaas en vir hulle gesê: “Ontvang die Heilige Gees! 23Wie se sondes julle ook al vergewe, God vergewe hulle dit; wie s’n julle ook al handhaaf, God handhaaf dit.”
Tomas wil eers self sien en voel voordat hy sal glo
24Tomas, ook genoem Didimus, een van die twaalf, was nie saam met die ander dissipels toe Jesus daar aangekom het nie. 25Die ander dissipels sê toe vir hom: “Ons het die Here gesien!”
Maar hy het vir hulle gesê: “As ek nie die merk van die spykers in sy hande sien en my vinger in die spykermerke steek en my hand in sy sy steek nie, sal ek nóóit glo nie.”
26Agt dae later was Jesus se dissipels weer saam, en Tomas was by hulle. Die deure was op slot en grendel, maar Jesus het tussen hulle kom staan en aan hulle gesê: “Vrede vir julle!” 27Daarna sê Hy vir Tomas: “Bring jou vinger hier en kyk na my hande, en bring jou hand en steek dit in my sy; en hou op ongelowig wees, maar word gelowig!”
28Tomas het vir Jesus gesê: “My Here en my God!”
29Jesus se reaksie daarop was: “Glo jy nou nadat jy klaar gesien het? Geseënd is hulle wat nie sien nie, en tog geglo het.”
Die doel met die Evangelie volgens Johannes
30Jesus het nog baie ander wondertekens voor sy dissipels gedoen. Daardie tekens is nie opgeskryf in hierdie boek nie. 31Hierdie tekens is wel opgeskryf sodat julle tot die geloof kan kom dat Jesus die Messias is, die Seun van God, en sodat julle deur aan te hou glo, in sy Naam die lewe kan hê.

Currently Selected:

JOHANNES 20: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy