YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 19

19
Jesus word onskuldig bevind, en tog veroordeel
1Toe het Pilatus Jesus geneem en Hom laat gésel. 2En die soldate het ’n kroon van dorings gevleg en dit op Jesus se kop gesit. Hulle het ook vir Hom ’n pers kleed aangetrek, 3op Hom afgestorm en gesê: “Gegroet, Koning van die Jode!” Hulle het Hom aanhoudend met die vuis geslaan.
4Pilatus het weer ’n keer buitentoe gegaan en vir die Jode gesê: “Kyk, ek bring hom vir julle buitentoe sodat julle kan besef dat ek hom onskuldig bevind.” 5Daarop het Jesus buitentoe gekom, met die kroon van dorings op sy kop en die pers mantel aan. Pilatus sê vir hulle: “Dáár is die mens!”
6Toe die priesterhoofde en die wagte Hom sien, het hulle nog harder geskree: “Kruisig hom! Kruisig hom!”
“Neem júlle hom en kruisig hom, want ek vind geen skuld in hom nie,” sê Pilatus daarop aan hulle.
7Die Jode het hom geantwoord: “Ons beskik oor ’n wet en daarvolgens moet hy sterf omdat hy homself as die Seun van God voorgehou het.”
8Toe Pilatus hierdie opmerking hoor, het hy nog banger geword, 9sy hoofkwartier binnegestap en weer vir Jesus gesê: “Waarvandaan kom jy?” Maar Jesus het hom nie geantwoord nie. 10Daarop reageer Pilatus toe: “Praat jy nie met my nie? Weet jy nie dat ek die bevoegdheid het om jou vry te laat, en ook die bevoegdheid om jou te laat kruisig nie?”
11Jesus het hom geantwoord: “U sou geen bevoegdheid oor My hê as dit nie van Bo aan u gegee was nie. Daarom het hy wat My aan u uitgelewer het, nog groter skuld.”
12Na aanleiding hiervan het Pilatus Jesus probeer vrylaat, maar die Jode het dit uitgeskreeu: “As u hom bevry, is u nie ’n vriend van die keiser nie. Elkeen wat homself as ’n koning voorhou, is in konflik met die keiser!”
13Toe Pilatus hierdie woorde hoor, het hy Jesus buitentoe gebring en self op die regterstoel gaan sit by ’n plek wat Klipterras genoem word, in Aramees “Gabbata”. 14Dit het saamgeval met die voorbereiding van die Paasfees, ongeveer twaalfuur die middag. Hy sê toe vir die Jode: “Dáár is julle koning!”
15Hulle het net geskree: “Vat hom weg! Vat hom weg! Kruisig hom!”
Pilatus sê vir hulle: “Moet ek julle kóning kruisig?”
Die priesterhoofde het geantwoord: “Ons het nie ’n koning nie, ons het slegs die keiser.”
16Pilatus het Jesus toe oorgegee om gekruisig te word. Daarop het hulle Jesus weggelei.
Jesus word gekruisig
17Jesus het self die kruis gedra en uitgegaan na wat genoem is Kopbeenplek, in Aramees “Golgota”. 18Daar het hulle Hom gekruisig, en saam met Hom ook twee ander, aan weerskante van Jesus, met Hom in die middel. 19Pilatus het ’n kennisgewing geskryf en dit aan die bokant van die kruis aangebring. Daarop het gestaan: “Jesus van Nasaret, die koning van die Jode.” 20Baie van die Jode het hierdie kennisgewing gelees omdat die plek waar Jesus gekruisig is, naby die stad geleë was. Die kennisgewing was in Aramees, Latyn en Grieks. 21Die priesterhoofde van die Jode het toe vir Pilatus gesê: “Moenie skryf: ‘Die koning van die Jode’ nie, maar dat Hy gesê het: ‘Ek is die koning van die Jode.’”
22Pilatus het geantwoord: “Wat ek geskryf het, het ek geskryf.” 23Die soldate het, toe hulle Jesus gekruisig het, sy bo-klere geneem en daarvan vier dele gemaak, vir elke soldaat ’n deel. Hulle het ook die drarok geneem. Dit was ’n naatlose kleed, van bo tot onder aaneen geweef. 24Hulle het toe vir mekaar gesê: “Moenie dit skeur nie, laat ons liewer daaroor loot en só bepaal wie s’n dit sal wees.” Dit is gedoen sodat die Skrif vervul kan word:
“Hulle het my bo-klere
onder mekaar verdeel
en oor my onderkleed
het hulle die lot gewerp.”#19:24 Ps 22:19.
Tot sover dan wat die soldate gedoen het.
25Naby die kruis van Jesus het sy ma, sy ma se suster en Maria, die vrou van Klopas, en Maria Magdalena gestaan. 26Toe Jesus sy ma sien, en die lieflingdissipel wat by sy ma staan, sê Hy vir haar: “Vrou, dáár is u seun.” 27Daarna sê Hy vir die dissipel: “Kyk, dáár is jou ma.” Van daardie uur af het die dissipel Jesus se ma by hom aan huis geneem.
Jesus blaas sy laaste asem uit
28Hierna het Jesus, terwyl Hy weet dat alles reeds afgehandel is en sodat die Skrif vervul kan word, gesê: “Ek is dors.”#19:28 Vgl Ps 22:15-16; 69:22. 29’n Kruik vol suur wyn het daar gestaan. Die soldate het toe ’n spons vol suur wyn op ’n hisoptak gesit en dit teen sy mond gehou. 30Toe Jesus die suur wyn proe, het Hy gesê: “Dit is nou afgehandel!” Toe het Hy sy kop vooroor laat val en sy asem uitgeblaas.
31Aangesien dit die voorbereiding vir die Sabbat was, wou die Jode nie hê dat die liggame op die Sabbat aan die kruis moes bly hang nie, want daardie spesifieke Sabbat was ’n belangrike een. Hulle het Pilatus toe gaan vra dat die kruiselinge se bene gebreek en die liggame verwyder moes word. 32Die soldate het toe gekom en die bene van die eerste een gebreek en ook dié van die ander een wat saam met Jesus gekruisig was. 33Toe hulle by Jesus kom en sien dat Hy alreeds gesterf het, het hulle nie sy bene gebreek nie. 34Een van die soldate het egter sy spies in Jesus se sy gesteek en daar het dadelik bloed en water uitgevloei.
35Hy wat dit aanskou het, vertel dit gesaghebbend, en sy getuienis is waar. Hy weet ook dat hy die waarheid praat sodat ook julle tot geloof moet kom. 36Want hierdie dinge het gebeur sodat die Skrif vervul kan word: “Geen been van Hom sal gebreek word nie.”#19:36 Eks 12:46; Num 9:12; Ps 34:21. 37Verder sê die Skrif: “Hulle sal Hom aanskou vir wie hulle deurboor het.”#19:37 Sag 12:10.
Jesus se liggaam in ’n nuwe graf neergelê
38Hierna het Josef wat van Arimatea afkomstig was – omdat hy vir die Joodse leiers bang was, was hy ’n geheime dissipel van Jesus – Pilatus gaan vra of hy die liggaam van Jesus kon kry. Pilatus het dit toegestaan. Josef het toe die liggaam gaan haal. 39Nikodemus, wat Jesus die eerste keer gedurende die nag besoek het, het ook gekom en ’n mengsel van ongeveer 50 liter mirre en aalwyn gebring. 40Hulle het toe Jesus se liggaam geneem en dit in linnedoeke saam met die speserye toegevou soos dit die gebruik van die Jode was om iemand vir ’n begrafnis voor te berei.
41Op die plek waar Jesus gekruisig is, was ’n tuin en in die tuin ’n nuwe graf waarin nog niemand begrawe was nie. 42Met die oog op die Joodse dag van voorbereiding, en omdat die graf naby was, het hulle Jesus daar neergelê.

Currently Selected:

JOHANNES 19: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy