YouVersion Logo
Search Icon

JOHANNES 14

14
Die enigste pad na die Vader toe
1“Moenie ontsteld wees nie. Hou net aan om op God te vertrou en hou ook aan om op My te vertrou. 2In die huis van my Vader is daar baie kamers. As dit nie só was nie, sou Ek dit aan julle gesê het. Ek gaan soontoe om vir julle plek gereed te maak. 3En as Ek gegaan en vir julle plek ingerig het, kom Ek terug en sal julle na My toe neem sodat julle ook kan wees waar Ek is. 4Julle weet mos waarheen Ek gaan, en hoe om daar te kom.”
5Tomas sê vir Jesus: “Here, ons weet nie waarheen U gaan nie; hoe kan ons dan die pad daarheen ken?”
6Jesus sê vir hom: “Ek is die weg en die waarheid en die lewe. Niemand kom by die Vader uit behalwe deur My nie. 7As julle My ken, sou julle my Vader ook geken het. Van nou af ken julle Hom en het julle Hom reeds gesien.”
8Toe sê Filippus: “Here, wys ons net die Vader en dit is vir ons genoeg.”
9Jesus antwoord hom só: “Ek is al vir só ’n lang tyd by julle, Filippus, en jy ken My nog nie? Wie My reeds gesien het, het ook reeds my Vader gesien. Hoe sê jy dan: ‘Wys ons die Vader’? 10Glo jy dan nie dat Ek in ’n hegte verhouding met die Vader leef en Hy met My nie? Die gedagtes wat Ek met julle deel, kom nie uit Myself nie, maar dit kom van die Vader wat in My bly en deur My sy werke uitvoer. 11Glo in My omdat Ek in ’n hegte verhouding leef met die Vader en Hy met My; so nie, glo dan net op grond van hierdie werke self.
12“Ek verseker julle, wie aanhou glo in My, sal ook die werke doen wat Ek doen; hy sal selfs nog groter dinge as dit doen, omdat Ek na die Vader toe op pad is. 13Wat julle ook al sou vra in my Naam, dit sal Ek doen sodat die Vader deur die optrede van die Seun verheerlik word. 14As julle My enigiets in my Naam vra, sal Ek dit beslis doen.”
Jesus belowe die Heilige Gees
15“As julle My liefhet, sal julle my opdragte gehoorsaam. 16En Ek sal die Vader vra en Hy sal vir julle ’n ander Raadgewer#14:16 Of Helper. stuur om vir altyd by julle te wees; 17dit is die Gees van die waarheid. Die wêreld is nie in staat om Hom te ontvang nie omdat hy Hom nie sien of ken nie. Julle ken Hom egter, omdat Hy by julle gaan bly en in julle sal woon.
18“Ek sal julle nie soos wesies in die steek laat nie; Ek kom terug na julle toe. 19Nog net ’n klein tydjie en die wêreld sien My nie meer nie, maar julle sien My nog, omdat Ek lewe en julle sal lewe. 20Op daardie selfde dag sal julle goed weet dat Ek in ’n hegte verhouding met my Vader leef, en julle met My, en Ek met julle.
21“Wie my opdragte onderhou en hulle gehoorsaam, dít is die persoon wat My liefhet. Wie My liefhet, hom sal my Vader ook liefhê, en Ek sal hom ook liefhê en Myself aan hom bekendmaak.”
22Judas, nie Judas Iskariot nie, vra toe vir Jesus: “Here, wat het gebeur dat U Uself aan ons wil bekendmaak, maar nie aan die wêreld nie?” 23Jesus antwoord hom toe: “As iemand My liefhet, sal hy my boodskap gehoorsaam uitvoer; en my Vader sal hom ook liefhê en Ons sal na hom toe kom en by hom tuisgaan. 24Wie My egter nie liefhet nie, is nie gehoorsaam aan my woorde nie. Die boodskap wat julle hoor, is nie Myne nie, maar die Vader s’n wat My gestuur het. 25Ek sê dit nou al lank vir julle, terwyl Ek nog by julle is; 26en wanneer die Raadgewer, die Heilige Gees, kom wat die Vader in my Naam sal stuur, sal Hy julle in alle opsigte onderrig en julle ook herinner aan alles wat Ek vir julle gesê het.
27“Ek laat vir julle vrede na; my vrede deel Ek met julle. Ek gee nie soos die wêreld gee nie. Julle moet nie ontsteld of beangs word nie. 28Julle het gehoor dat Ek vir julle gesê het: Ek gaan weg, en kom weer terug na julle toe. As julle My liefhet, sou julle opgewonde gewees het dat Ek na die Vader toe gaan, omdat die Vader groter is as Ek. 29Ek sê dit nou al solank vir julle, nog voordat dit gaan gebeur, sodat julle moet glo wanneer dit ook al gebeur.
30“Ek sal nie meer baie langer met julle praat nie, want die regeerder van hierdie wêreld#14:30 ’n Verwysing na Satan. is op pad, alhoewel hy geen houvas op My het nie. 31Die wêreld moet weet dat Ek die Vader liefhet en daarom nougeset doen wat die Vader aan My opgedra het. Staan op, laat ons hiervandaan vertrek!”

Currently Selected:

JOHANNES 14: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy