YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 43

43
Jeremia in Egipte
1Toe Jeremia klaar die hele boodskap van die Here hulle God aan al die mense gegee het, 2het Asarja die seun van Hosaja en Joganan seun van Kareag en al die arrogante mans by hulle vir Jeremia gesê: “Jy lieg! Die Here ons God het jou nie gestuur om vir ons te sê ons mag nie in Egipte gaan woon nie! 3Dit is Baruk seun van Nerija wat jou teen ons opgesteek het sodat ons in die mag van die Babiloniërs kan beland. Hulle sal ons doodmaak of in ballingskap na Babel toe neem.”
4Joganan en al die weermagoffisiere en ook die gewone mense wou nie die Here se opdrag gehoorsaam om in Juda te bly nie. 5Joganan en die offisiere het toe al die mense van Juda wat oorgebly het nadat hulle teruggekeer het uit die lande waarheen hulle gevlug het, saam met hulle geneem. 6Onder die groep mense was mans, vroue, kinders en ook koning Sedekia se dogters, asook al die mense wat Nebusaradan, hoof van die koninklike lyfwag, onder die sorg van Gedalja seun van Agikam, kleinseun van Safan gelaat het, asook Jeremia en Baruk seun van Nerija. 7Die mense het hulle nie gesteur aan wat die Here gesê het nie en Egipte toe gegaan. Hulle het tot by die stad Tagpanges gegaan.
8By Tagpanges het die Here weer vir Jeremia ’n boodskap gegee. Hy het gesê: 9“Gaan na die ingang van die farao se paleis in Tagpanges. Vat ’n paar groot klippe en druk hulle in die klei wat tussen die stene van die plaveisel is. Doen dit waar die mense van Juda jou kan sien. 10Sê vir die mense van Juda die Here, die Almagtige, die God van Israel, sê: ‘Julle kan julle maar klaarmaak. Ek gaan my kneg Nebukadnesar, die koning van Babel, hier na Egipte toe laat kom. Ek sal sy troon neersit op hierdie klippe wat Ek weggesteek het. Hy sal sy koninklike tent bo-oor dit opslaan. 11Nebukadnesar sal kom en Egipte aanval. Wie bestem is om dood te gaan, sal doodgaan. Wie in ballingskap moet gaan, sal gaan. En wie deur geweld moet sterf, sal so sterf. 12Hy sal die tempels van die Egiptiese gode aan die brand steek en die afgode met vuur verbrand of as buit wegvat. Hy sal Egipte skoonmaak soos ’n herder van insekte in sy klere ontslae raak. Daarna sal hy rustig daarvandaan weggaan. 13Hy sal die pilare voor die tempel van die son in Egipte afbreek en die tempels van die Egiptiese gode afbrand.’”

Currently Selected:

JEREMIA 43: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy