YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 4

4
1“Israel, keer terug na My toe,”
sê die Here.
“As julle ontslae raak
van die afskuwelike afgode,
sal julle nie meer so rigtingloos
wees nie.
2As julle ’n eed sweer
en my Naam gebruik,
moet julle die waarheid praat.
Begin reg lewe,
behandel mense regverdig
en doen wat reg is.
As julle dit doen,
sal julle
die nasies van die wêreld seën.
Hulle sal My kom vereer.”
Oordeel oor Juda
3Dit is wat die Here vir die mense van Juda en Israel sê:
“Ploeg die harde grond
van julle harte.
Moenie goeie saad
tussen dorings saai nie.
4Maak julle harte en gedagtes
skoon voor die Here,
inwoners van Juda
en Jerusalem.
Anders sal my woede
oor julle uitbreek
oor julle sonde,
soos ’n vuur
wat niemand kan blus nie.”
’n Ramp kom uit die noorde
5“Verkondig dit in Juda,
vertel dit in Jerusalem en sê:
‘Maak alarm
sodat elkeen dit kan hoor!’
Skreeu hard en sê:
‘Laat almal byeenkom.
Laat ons skuil
in die versterkte dorpe.’
6Stuur ’n sein na Jerusalem
en waarsku hulle:
‘Moenie wag nie,
vlug vir julle lewens!’
Ek bring ’n groot ramp oor julle
uit die noorde.”
7’n Leeu het opgestaan
uit sy lêplek.
Die verwoester is op pad.
Julle dorpe sal verwoes lê,
sonder enige inwoners.
8Trek julle rouklere aan
en weeklaag,
want die woede van die Here
is teen ons gerig.
9Die Here sê:
“In dié tyd sal die moed
van die koning
en sy amptenare
hulle begewe.
Die priesters sal verslae wees
en die profete
sal verstom staan.”
10Toe het ek gesê:
“Oppermagtige Here, U het die volk en Jerusalem mislei deur te sê: ‘Hulle sal vrede hê.’ En nou is hulle lewens in gevaar!” 11Die tyd kom dat Hy vir hierdie volk en die mense van Jerusalem sal sê: “’n Skroeiende wind waai uit die woestynheuwels na my volk toe, maar dis nie om kaf weg te waai nie. 12Nee, Ek stuur ’n wind met sy volle krag. Ek gaan nou die oordeel oor hulle uitspreek.”
13Ons vyand kom aan
soos ’n groot onweerswolk.
Die oorlogwaens kom aangejaag
soos ’n orkaan.
Hulle perde is vinniger as arende.
Wee ons,
want ons gaan verwoes word!
14Jerusalem, was julle harte
sodat julle gered kan word.
Hoe lank wil julle nog verkeerde
gedagtes koester?
15Uit Dan en die heuwels van Efraim
word jou vernietiging aangekondig.
16“Waarsku die nasies
in die omgewing,
laat Jerusalem dit hoor:
‘Die vyand uit ’n ver land
is op pad.
Hulle skreeu oorlogskrete
teen die dorpe van Juda.
17Hulle omsingel Jerusalem
net soos wagte
wat ’n graanland oppas.
Want my volk het teen My
in opstand gekom,’”
sê die Here.
18“Dit is julle eie skuld
dat dié dinge
met julle gebeur.
As straf kry julle
van julle eie bitter medisyne.
Dit maak diep seer!”
Jeremia huil oor sy mense
19O die angs, die benoudheid
van my pyn!
My hart klop onstuimig in my.
Ek kan nie stilbly nie.
Ek het trompette gehoor,
die gedreun van oorlogskrete.
20Die een ramp volg die ander
totdat die land heeltemal
verwoes is.
Skielik is al wat ’n blyplek
en skuiling is, tot niet.
21Hoe lank gaan ek nog
die oorlogsbanier aanskou?
Hoe lank gaan ek nog
die oorlogsbasuin hoor?
22“My volk is dwaas,
hulle ken My nie.
Hulle is soos dom kinders,
hulle het geen insig nie.
Hulle is slim as dit kom
by kwaaddoen.
Maar vir goeddoen
het hulle geen talent nie!”
Jeremia sien verwoesting kom
23Ek het na die aarde gekyk,
en dit was woes en leeg.
Ek het ook na die hemel gekyk,
en daar was geen lig nie.
24Ek het gekyk na die berge
en die heuwels
en hulle het gebewe en geskud.
25Ek het gekyk
en al die mense was weg.
Selfs al die voëls van die hemel
het weggevlieg.
26Toe ek om my kyk,
sien ek die vrugbare grond
het in ’n woestyn verander.
Al die dorpe het in puin gelê,
want die Here
het hulle vernietig
in sy toorn.
27Die Here het gesê:
“Die land
sal verwoes word,
maar Ek sal dit nie heeltemal
verwoes nie.
28Die aarde sal huil en die hemel
donker word
oor die besluit wat Ek
oor my volk geneem het.
Ek het klaar besluit
en sal nie van plan
verander nie.”
29Elke stad se mense vlug
as hulle die klank van perde
en boogskutters hoor.
Hulle kruip in die bosse
en tussen rotse weg.
Al die dorpe is leeg,
sonder ’n enkele inwoner.
30Wat probeer jy doen,
jy wat gestroop is?
Hoekom trek jy vir jou
’n rooi rok aan,
versier jy jou
met goue juwele?
Hoekom maak jy jou oë mooi
met maskara?
Jy maak jou verniet mooi!
Jou bondgenote
het jou verwerp
en soek jou lewe.
31Ek hoor ’n uitroep van pyn
soos ’n vrou wat kraam,
’n kreet van iemand
wat haar eerste kind
in die wêreld bring.
Ek hoor die dogter van Sion snak
na haar asem.
Sy pleit om hulp.
Sy kniel voor haar moordenaars.

Currently Selected:

JEREMIA 4: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy