YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 2

2
Klag teen die volk
1Die Here het vir my nog ’n boodskap gegee. Hy het gesê:
2“Gaan na Jerusalem toe en
skreeu dit uit sodat almal kan hoor:
So sê die Here:
“Ek onthou nog die toewyding
van jou jeug,
toe julle soos ’n jong bruid was
wat My liefgehad het.
Julle was toe bereid om My deur
die dorre woestyn te volg,
deur ’n dorre woestyn.
3In daardie tyd het Israel net aan
My behoort.
Hy was vir My die belangrikste
van my kinders.
Almal wat my volk te na gekom het,
was skuldig.
Rampe het oor hulle gekom,
sê die Here.”
4Luister na die boodskap
van die Here,
huis van Jakob,
luister, al die families van Israel!
5Die Here vra:
“Wat het Ek verkeerd gedoen
dat julle voorouers
so ver weggedwaal het
van My af?
Hulle het afgode gedien
wat nikswerd is.
Deur dit te doen, het hulle self
waardeloos geword.
6Hulle het nie eers gedink
om te vra nie:
‘Waar is die Here
wat ons veilig uit Egipte gebring het
en ons deur die woestyn
gelei het?
Die land was droog en vol slote,
dor met donker skaduwees.
Niemand trek daardeur nie.
Geen mense woon daar nie.’
7Ek het julle gebring
na ’n vrugbare land
sodat julle die vrugte
en die goeie dinge
van die land moes geniet.
Maar toe julle in my land kom,
het julle dit besoedel.
Julle het wat Ek vir julle laat erf het,
veragtelik gemaak.
8Die priesters vra nie:
‘Waar is die Here?’ nie.
Die regsgeleerdes het nie eers
twee keer aan My gedink nie.
Die leiers van die land
was in opstand teen My.
En die profete
het namens Baäl geprofeteer.
So mors hulle hulle tyd op niks.
9Om dié rede,” sê die Here,
“maak Ek ’n saak teen julle.
Ek sal ook julle kinders
en hulle kinders
in die toekoms aankla.
10Gaan wes tot by Siprus,
en oos tot by Kedar.
Kyk mooi wat daar aangaan.
Het so iets al ooit gebeur?
11Het ’n volk ooit hulle gode
vir ander gode verruil
al is hulle nie regtig gode nie?
Tog het my mense My verruil
vir gode wat niks werd is nie!
12Wees geskok, o hemele!
Krimp ineen van afgryse,”
sê die Here.
13“My volk het twee bose dinge
gedoen:
Hulle het My verlaat,
die fontein wat lewe gee.
En hulle het vir hulle bakke
uitgekap,
bakke wat nie water hou nie.”
Gevolge van Israel se ontrou
14“Is Israel ’n slaaf?
Hulle is mos nie gebore
as slawe nie!
Hoekom is hulle nou
soos ’n prooi?
15Leeus het hard en dreigend
teen Israel gebrul.
Hulle het die land verwoes,
die dorpe is nou puinhope.
Niemand bly meer daar nie.
16Die mense uit Egipte,
Memfis en Tagpanges
het Israel se mag verbreek
en hulle verneder.
17Julle het die probleme
oor julleself gebring
deur teen die Here te rebelleer
toe Hy julle op die regte pad wou lei!
18Wat het dit julle gehelp
om by Egipte,
of selfs by Assirië
te gaan hulp soek?
Kon die waters van die Nyl
of die Eufraat julle dors les?
19Julle eie sonde sal julle straf.
Julle sal sien hoe bitter dit is
om ontrou aan My te lewe,
om die Here julle God nie te eer nie.
Dit is Ek, die oppermagtige Here,
die Almagtige, wat praat!
20“Lank gelede het Ek die juk gebreek
waarmee jy moes ploeg.
Ek het die kettings van slawerny
van jou afgehaal,
maar jy het gesê:
‘Ek sal Hom nie dien nie.’
Op elke heuwel
en onder elke groen boom
het jy jou soos ’n prostituut gedra
en voor die afgode gebuig.
21“Ek het jou geplant
as ’n uitgesoekte wingerdstok,
opreg gekweek!
Hoe het julle dan verander
in ’n wilde druiwestok?
22Al was julle julleself ook
met groot hoeveelhede seep
en met die sterkste wasmiddels,
dit sal nie help nie.
Vir My sal al julle skuld
soos vuil vlekke bly,”
sê die oppermagtige Here!
Israel is soos ’n ontroue vrou
23“Hoe kan julle sê:
‘Dit is nie waar nie!
Ons het nie beelde van Baäl
aanbid nie’?
Gaan kyk gerus wat julle
in al julle valleie doen.
Neem verantwoordelikheid
vir julle doen en late!
Julle tree op net soos ’n onrustige
kameelkoei
wat rondhardloop
op soek na ’n bul.
24Julle tree net
soos ’n wildedonkie op.
As dit paartyd is,
snuif sy in die wind.
Wie kan haar drange beheer?
Die hingste hoef nie eers na haar
te soek nie.
Sy hardloop agter hulle aan!
25Waarom loop julle agter
die gode aan
totdat julle skoene deurgeloop is
en julle kele brand van dors?
Maar julle sê:
‘Moenie jou asem mors nie.
Ons is lief
vir hierdie vreemde gode.
Ons sal nie ophou
om hulle te aanbid nie!’
26“Soos ’n dief wat betrap word
in die skande kom,
so sal Israel – sy konings,
leiers, priesters en profete –
in die skande kom.
27Hulle sê vir ’n beeld
uit hout gesny:
‘Jy is my pa.’
En vir ’n beeld
uit klip gekap:
‘Jy is my ma.’
Hulle steur hulle glad nie
aan My nie,
maar sodra hulle
in die moeilikheid is,
roep hulle: ‘Kom help ons!’
28Hoekom vra julle nie hulp
by hierdie gode
wat julle gemaak het nie?
As húlle kan, laat hulle julle
uit die moeilikheid help!
Juda, julle het net soveel gode
as dorpe.
29“Hoekom kla julle My aan?
Dit is julle wat teen My
in opstand kom,”
sê die Here!
30“Tevergeefs het Ek julle mense
gestraf.
Hulle het hulle nie gesteur
aan vermanings nie.
Julle het julle profete afgemaai
soos leeus ’n prooi verskeur.
31“Israel,
luister na die woord
van die Here!
Hy vra: ‘Is Ek vir Israel
soos die woestyn
of ’n pikdonker land?’
Hoekom sê my volk:
‘Uiteindelik is ons vry,
en ons wil nooit weer
iets met Hom te doen hê nie’?
32Vergeet ’n meisie haar juwele?
Sal ’n vrou vergeet
hoe haar trourok gelyk het?
Hoe kan my mense
My dan dae aaneen vergeet?
33Jy ken al die fyner kunsies
om minnaars te lok.
Die mees ervare prostituut
kan by jou kom leer.
34Jou klere is bevlek met bloed
van onskuldige armes.
Jy maak hulle dood
selfs al het hulle nie
by jou huis ingebreek nie.
35Tog sê jy:
‘Ek is onskuldig.
Regtig, die Here kan nie
vir my kwaad wees nie!’
Weet dit: Ek gaan jou straf
juis omdat jy sê:
‘Ek het nie gesondig nie!’
36Jy flankeer van die een
na die ander om jou te help.
Maar soos Assirië
jou in die steek gelaat het,
so sal Egipte
jou ook in die steek laat.
37Jy sal terugkom
met jou hande op jou kop,
en in ballingskap gaan,
want die Here het die nasies verwerp
op wie jy vertrou het.
Jy sal nie slaag nie,
ondanks hulle hulp.”

Currently Selected:

JEREMIA 2: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy