YouVersion Logo
Search Icon

JEREMIA 1

1
1Hier is die woorde van Jeremia seun van Gilkija, ’n priester van Anatot in die Benjamingebied.
2In die dertiende jaar van koning Josia van Juda se regering#1:2 627 vC. het die boodskap van die Here na hom gekom. Josia was die seun van Amon. 3Die Here het aangehou om vir Jeremia boodskappe te gee, ook in die tyd van koning Jojakim, die seun van Josia, tot in die elfde jaar van koning Sedekia se bewind. In Augustus van daardie jaar#1:3 587/6 vC. is baie van die mense van Jerusalem in ballingskap weggevoer.
Die Here roep Jeremia
4Die Here het vir my ’n boodskap gegee. Hy het gesê:
5“Ek ken jou
nog voordat jy gevorm is
in die skoot van jou moeder.
Voor jou geboorte al
het Ek jou gekies en aangestel
om namens My te praat
met die nasies
van die wêreld.”
6Ek het geantwoord:
“Nee, oppermagtige Here,
ek kan nie goed praat nie.
Ek is ook te jonk!”
7Maar die Here het geantwoord
en gesê:
“Moenie sê jy is te jonk nie.
Gaan na die mense
waarheen Ek jou stuur
en gee my boodskap vir hulle.
8Jy moet ook nie bang wees
vir hulle nie.
Ek sal by jou wees
en jou beskerm!
Ek is die Here wat so sê.”
9Toe het die Here
sy hand uitgesteek
en aan my mond geraak.
Hy het vir my gesê:
“Ek het my woorde
in jou mond gesit.
10Ek stel jou vandag aan
oor nasies en regerings,
om sommige te ontwortel
en plat te slaan,
om ander op te bou
en nuut te vestig.”
11Die Here het vir my gesê:
“Wat sien jy, Jeremia?”
Ek het geantwoord:
“Ek sien ’n amandeltakkie.”
12En die Here het vir my gesê:
“Ja, dit is ’n amandeltakkie.
En dit beteken dat Ek oplet
en gereed staan om te doen
wat Ek gedreig het om te doen.”
13Die Here het weer
met my gepraat
en gevra wat ek sien.
Ek het Hom geantwoord:
“Ek sien
’n kokende pot wat uit die noorde
oorval hiernatoe.”
14Toe sê die Here vir my:
“Uit die noorde
sal dodelike gevaar kom
oor almal wat in Juda woon.
15Ek laat die mense van
al die koninkryke
in die noorde
na Jerusalem kom,”
sê die Here.
“Hulle sal hulle trone kom neersit
by die ingang van die hekke.
Hulle sal Jerusalem
se mure aanval
en al die ander dorpe van Juda
binneval.
16So sal Ek my oordeel
uitspreek oor my volk
oor al hulle boosheid.
Hulle het My verlaat
en ander gode vereer.
Ja, hulle buig voor die beelde
wat hulle met hulle eie hande
gemaak het!
17“Staan op en trek jou aan, en gaan sê vir hulle alles wat Ek gesê het. Moenie vir hulle bang wees nie, anders laat Ek jou dalk verleë voor hulle staan! 18Ek beskerm jou teen hulle. Ek maak jou soos ’n versterkte stad, so vasgeanker soos ’n ysterpaal of soos ’n muur wat van koper gemaak is. Jy sal sterk genoeg wees om jou teen die konings van Juda, hulle amptenare, hulle priesters en enige van die land se mense te handhaaf. 19Hulle sal jou probeer onderkry, maar dit nie regkry nie. Ek is aan jou kant en sal jou beskerm. Ek, die Here, belowe dit!”

Currently Selected:

JEREMIA 1: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy