RIGTERS 19
NLV
19
’n Leviet en sy byvrou
1Israel het nog steeds nie ’n koning gehad nie. ’n Leviet het tydelik in ’n afgeleë deel in die heuwels van Efraim gebly. Hy het vir hom ’n byvrou uit Betlehem in Juda geneem. 2Sy was nie getrou aan hom nie en het van hom af weggeloop. Sy het teruggegaan na haar pa se huis in Betlehem in Juda. Sy het vier maande lank daar gebly. 3Haar man het toe ’n helper en ’n paar donkies gevat en agter haar aangegaan om haar te gaan ompraat om terug te kom. Sy het hom in haar pa se huis ingenooi. Haar pa was bly om hom te sien. 4Sy skoonpa het hom oorreed om daar oor te bly. Hy het drie dae daar oornag, geëet en gedrink.
5Op die vierde dag het hy vroeg opgestaan en reggemaak om te vertrek. Die meisie se pa het vir sy skoonseun gesê: “Eet eers ’n bietjie en daarna kan jy vertrek.”
6Die twee het gaan sit en saam geëet en gedrink. Die meisie se pa sê toe vir die man: “Bly asseblief nog ’n nag oor en geniet dit hier.” 7Die man was reg om te gaan, maar toe sy skoonpa so by hom aandring, het hy toegegee en nog ’n nag gebly.
8Op die vyfde dag het hy vroeg opgestaan en klaargemaak om te gaan. Die meisie se pa sê toe: “Eet eers ’n bietjie, dan kan jy vanmiddag gaan.” Die twee het toe weer saam geëet.
9Toe die man en sy byvrou en sy helper daardie middag gereed was om te vertrek, het die meisie se pa vir hom gesê: “Die skaduwees het al lank geword. Slaap eers vannag hier en dan kan jy môre vroeg opstaan vir die reis huis toe.”
10Die man was nie bereid om nog ’n nag daar te bly nie. Hy het reggemaak en vertrek. Met sy opgesaalde donkies en sy byvrou het hy vertrek in die rigting van Jebus, dit is Jerusalem. 11Dit was al laat toe hulle teenoor Jebus kom. Sy helper sê toe vir hom: “Kom ons draai af na die stad toe en gaan slaap daar.”
12“Nee,” sê hy vir hom. “Ons kan nie afdraai na ’n vreemde stad waarin daar nie Israeliete is nie. Kom ons gaan aan tot by Gibea. 13Ons stoot aan om in Gibea of in Rama te gaan slaap.”
14Hulle het deurgedruk. Die son was besig om onder te gaan toe hulle by Gibea in Benjamin aankom. 15Hulle het afgedraai om in Gibea te gaan slaap. Hulle het op die stadsplein gaan afpak omdat niemand hulle genooi het om in sy huis te oornag nie.
16’n Ou man het daardie aand van sy werk in die veld af teruggekom. Hy was oorspronklik van die heuwelgebied van Efraim, maar het vir ’n tyd lank in Gibea, in die gebied van Benjamin, gebly. 17Toe die ou man die reisigers op die stadsplein sien sit, vra hy hulle: “Van waar af kom julle en waarheen is julle op pad?”
18Die Leviet antwoord die ou man: “Ons is op pad van Betlehem in Juda na ’n afgeleë deel in die heuwels van Efraim. Ek kom van daar af, maar ek het na die huis van die Here in Betlehem in Juda gegaan. Maar hier is niemand wat ons na hulle huis genooi het nie. 19Ons het alles wat ons nodig het. Hier is voer vir die donkies, en genoeg kos en wyn vir ons almal.”
20“Dis goed so,” sê die ou man vir hulle. “Sê maar as jy iets nodig het. Moet tog net nie vannag hier op die plein slaap nie.”
21Die ou man het hulle saamgeneem na sy huis toe. Hulle het vir die donkies voer gegee. Hulle het ook eers hulle voete gewas, en toe saam geëet en gedrink.
22Toe dit al gesellig begin gaan het, het ’n klomp skurke van die stad die huis omsingel. Hulle het teen die deur gehamer en vir die ou man aan wie die huis behoort het, geskreeu: “Bring uit daardie man wat in jou huis ingekom het. Ons wil seks met hom hê.”
23Die ou man wie se huis dit was, het uitgegaan en met hulle gaan praat: “Nee tog, vriende. Moenie so iets leliks doen nie. Hierdie man is my gas wat by my tuis is. Moenie so iets skandeliks aanvang nie. 24My dogter is nog ’n maagd. Ek sal haar en die man se byvrou vir julle bring. Maak met hulle wat julle wil, maar moenie so iets viesliks met hierdie man doen nie.”
25Die mans wou nie na hom luister nie. Die Leviet gryp toe sy byvrou en stoot haar uit op straat. Hulle het haar dwarsdeur die nag verkrag tot die volgende oggend toe. Eers toe dit begin lig word, het hulle haar gelos. 26Die vrou het met dagbreek teruggekom by die huis waarin haar man was. Sy het by die deur bly lê tot dit helder lig was.
27Toe haar man die oggend opstaan om verder te reis en die huis se deur oopmaak, lê sy byvrou daar in die deur met haar hande op die drumpel. 28Hy sê toe vir haar: “Staan op dat ons kan aangaan.”
Sy het hom nie geantwoord nie. Hy het haar op ’n donkie getel en is met haar verder na sy huis toe.
29Terug by die huis het hy ’n mes gevat en sy byvrou se liggaam in twaalf stukke opgesny. Hy het een stuk na elke stam in Israel gestuur.
30Elkeen wat dit gesien het, het gesê: “So iets het nog nooit gebeur sedert Israel uit Egipte weg is tot nou toe nie. Ons moet ernstig hieroor nadink. Kom laat ons koppe bymekaarsit om iets hieraan te doen.”

2006 Christlike Uitgewersmaatskappy, Posbus 1599, Vereeniging, 1930, Eerste uitgawe 2006, Tweede uitgawe 2011

Learn More About Nuwe Lewende Vertaling