YouVersion Logo
Search Icon

RIGTERS 18

18
Miga en die Daniete
1Israel het nog nie ’n koning gehad nie. Die stam Dan was op soek na grond om op te woon. Hulle het in daardie stadium nog steeds nie hulle eie grond gehad nie. 2Die mense van Dan het vyf sterk mans uit hulle stam gekies. Hulle het die mans van Sora en Estaol af uitgestuur om vir hulle na grond te gaan soek. Hulle opdrag was: “Gaan verken die land.”
Hulle het toe in die heuwels van Efraim by Miga se huis uitgekom. Daar het hulle die nag oorgebly. 3Hulle het in Miga se huis die stem van die Leviet herken. Hulle het hom eenkant toe geroep en vir hom gevra: “Hoe het jy hier uitgekom? Wat maak jy hier? Wat hou jou hier?”
4Hy vertel hulle toe dat hy ’n ooreenkoms het met Miga: “Hy het my gehuur. Ek is sy priester.”
5Hulle het toe vir hom gesê: “Vind uit by God of ons reis voorspoedig gaan wees.”
6“Wees gerus,” het die priester vir hulle gesê. “Die Here gaan saam met julle op julle reis.”
7Die vyf mans het toe vertrek. Hulle het in Lajis aangekom. Hulle het gesien dat die inwoners, net soos die mense in Sidon, rustig daar bly. Hulle was rustig en vreedsaam. Hulle land was vrugbaar en hulle het niks kortgekom nie. Hulle was ver van Sidon af en het geen bondgenote naby gehad nie.
8Hulle is toe terug na Sora en Estaol. Hulle stamgenote het hulle toe uitgevra: “Het julle iets gesien?”
9Toe antwoord hulle: “Kom ons trek soontoe. Ons het die land gaan bekyk. Dit is baie mooi daar. Julle moenie nog sit en wag om die land te gaan inneem nie. 10Julle sal afkom op mense wat houtgerus daar bly. God gee vir julle ’n oop en vrugbare stuk grond. Dit is ’n plek waar daar nie ’n gebrek aan enigiets is nie.”
11Van die Daniete het 600 geoefende soldate toe uit Sora en Estaol vertrek. 12Hulle het opgetrek en kamp opgeslaan wes van Kirjat-Jearim in Juda. Dit word vandag nog Magane-Dan#18:12 Dit beteken kamp van Dan. genoem. 13Van daar het hulle deur die heuwels van Efraim getrek en by Miga se huis uitgekom.
14Die vyf mans wat Lajis gaan verken het, het vir hulle makkers gesê: “Weet julle dat hier ’n huistempel is met ’n skouerkleed, afgodsbeeldjies en ’n godsbeeld? Julle weet wat om te doen.”
15Hulle het daar afgedraai na Miga se huis toe waar die Leviet gebly het. Hulle het hom vriendelik gegroet. 16Die 600 gewapende soldate het buite by die deur gaan staan. 17Die vyf mans wat die land gaan verken het, het in die huis ingegaan en die godsbeeld en die afgodsbeeldjies en die skouerkleed gevat. Die priester het by die deur gestaan.
18Toe hy sien wat die vyf mans doen, het die priester vir hulle gevra: “Wat maak julle?”
19“Bly stil,” het hulle vir hom gesê. “Hou jou mond! Kom saam met ons dat jy ons raadgewer en priester kan wees. Wat is vir jou beter: om een man se priester te wees of om ’n priester te wees vir al die mense van ’n stam in Israel?”
20Die priester was heeltemal inskiklik om saam met hulle te gaan. Hy het die skouerkleed, die afgodsbeeldjies en die godsbeeld saamgevat. 21Hulle het toe weer ingedraai in die pad en verder gereis. Hulle het hulle kinders en hulle vee en besittings op die voorpunt gesit.
22Toe hulle al ’n ent weg is van Miga se huis af, het Miga sy bure bymekaargemaak en die Daniete agternagesit. 23Toe hulle naby kom, het hulle na die Daniete geroep. Die mense van Dan het omgedraai en vir Miga gevra: “Wat is dit nou met jou dat jy mense teen ons bymekaargemaak het?”
24Miga sê toe vir hulle: “Hoe kan julle nog vra wat is dit met my? Julle het my afgode wat ek vir my gemaak het en my priester saam met julle gevat. Ek het niks oor nie.”
25Die mense van Dan het hom geantwoord: “Moenie hier op ons kom staan en skreeu nie! Hier is mans met kort humeure. Netnou val hulle jou en jou mense aan en maak julle dood.”
26Die mense van Dan het toe verder getrek. Miga het gesien dat hulle vir hom te veel is om aan te val. Hy het toe maar omgedraai huis toe.
27So het die mense van Dan die beelde gevat wat Miga gemaak het, en ook sy priester.
Hulle het by Lajis uitgekom, by mense wat rustig en houtgerus daar woon. Die Daniete het hulle egter almal doodgemaak en die stad met vuur afgebrand. 28Daar was niemand om hulle te red nie. Hulle was ver van Sidon af. Niemand het met hulle ’n aanvalsverdrag gehad om hulle te kom help nie. Dit was op die vlakte by Bet-Regob.
Die mense van Dan het die stad weer herbou en daarin gaan woon. 29Hulle het die stad herdoop na Dan, hulle stamvader, een van die seuns van Israel. Die plek se naam was egter vroeër Lajis.
30Die mense van Dan het die afgodsbeeld vir hulle daar opgerig. Jonatan, die seun van Gersom, ’n afstammeling van Moses#18:30 Sommige Griekse manuskripte, die Latynse Vulgaat en die Masoretiese teks lees van Manasse., en sy nageslag was die priesters vir die stam Dan. Dit het so gebly totdat Dan in ballingskap weggevoer is. 31So lank as wat God se heiligdom in Silo was, het Dan hulle eie afgodsbeeld aanbid wat Miga gemaak het.

Currently Selected:

RIGTERS 18: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy