YouVersion Logo
Search Icon

JESAJA 41

41
Die Helper van Israel
1“Bly stil en luister na My,
eilande en kusgebiede.
Laat die nasies hulle sterkste
argumente
kom stel.
Laat die hof die saak uitmaak.
2“Wie het iemand uit die ooste
wakker gemaak?
Hy behaal heelpad
oorwinning.
Die Here gee nasies aan hom oor
en onderwerp konings aan hom.
Hy maak hulle tot stof
met sy swaard.
Sy boog maak van hulle kaf
wat die wind wegwaai.
3Ongehinderd agtervolg hy hulle,
al was hy nog nooit
voorheen op dié pad nie.
4Wie het sulke magtige dinge gedoen
en die verloop van dinge
van die begin af bepaal?
Dit is Ek, die Here, die Eerste.
Wanneer die laaste dinge
gebeur,
sal Ek, die Here, nog daar wees.”
5Die eilande kyk toe in vrees,
die aarde se eindes bewe.
Hulle kom nader vir die geveg.
6Hulle praat mekaar moed in
en sê: “Wees sterk!”
7Die werksmense maak gou
nuwe gode.
Die ambagsman jaag
die goudsmid aan,
en die een wat die metaal uitklop,
help hom
wat by die aambeeld werk.
“Die smeewerk is goed!”
sê hulle.
Dan slaan hulle die beeld
met spykers vas
sodat dit nie omval nie!
8“Maar jy, Israel,
my dienaar,
jy is Jakob, wat Ek gekies het,
afstammeling
van Abraham, my vriend.
9Jou het Ek teruggeroep
vanaf die uithoeke van die aarde.
Ek het gesê: ‘Jy is my dienaar,’
want Ek het jou gekies.
Ek het jou nooit verwerp nie!
10Moenie bang wees nie,
want Ek is by jou.
Moenie ontsteld word nie,
want Ek is jou God.
Ek maak jou sterk
en wil jou help.
Ek laat jou oorwin
met my regterhand wat mense red.
11“Almal wat vir jou kwaad is,
sal in die skande kom
en verleë wees.
Almal wat jou weerstaan,
sal vergaan.
12Jy sal jou vyande soek,
maar hulle nêrens kry nie.
Almal wat teen jou oorlog maak,
sal soos niks wees!
13Ek gryp jou regterhand vas.
Ek is die Here jou God.
En Ek sê vir jou:
‘Moenie bang wees nie.
Ek is daar om jou te help!’
14Moenie bang wees nie,
nietige wurmpie, Jakob!
Al is jy min, Israel,
sal Ek jou help, sê die Here.
Ek is die Een wat jou red,
die Heilige van Israel.
15Kyk, Ek maak jou
soos ’n nuwe dorsslee
met baie skerp tande.
Jy sal die berge fynmaal,
die heuwels tot kaf maak.
16Jy sal hulle uitwan,
en ’n wind sal hulle wegwaai.
’n Stormwind sal hulle verstrooi.
Maar jy sal bly wees in die Here
en roem in die Heilige van Israel.
17“Die armes en behoeftiges
soek na water, maar kry niks.
Hulle tonge bars van dors.
Dan sal Ek, die Here,
hulle verhoor.
Ek, die God van Israel,
sal hulle nie verlaat nie.
18Ek sal riviere laat ontspring
op die hoë bergpieke.
Ek sal vir hulle fonteine gee
in die valleie.
Ek sal die woestyn
in ’n poel water verander.
Ek verander die droë, gebarste grond
in fonteine.
19Ek sal bome plant in die woestyn –
seders, doringbome, mirte
en olyfbome.
Ek laat in die droë wêreld
sipresse groei,
ook platane en denne.
20Almal sal hierdie wonderwerk
sien gebeur.
Hulle sal dan verstaan
dat die Here dit gedoen het.
Die Heilige van Israel
het dit geskep.
21“Stel nou julle saak,”
sê die Here.
“Kom met julle beste argumente,”
sê die Koning van Jakob.
22“Bring julle afgode
om vir ons te vertel wat gaan
gebeur.
Sê vir ons wat voorheen gebeur het
sodat ons kan oordeel
of hulle die waarheid praat.
Of vertel vir ons
wat gaan gebeur.
23Vertel vir ons
wat die toekoms inhou
sodat ons kan bepaal
of julle gode is.
Doen enigiets, goed of sleg.
Dan sal ons verwonderd staan
en bang vir julle word.
24Maar kyk, julle is minder as niks
en wat julle kan doen,
is waardeloos.
Mense wat julle as hulle gode kies,
is net so veragtelik soos julle.
25“Ek het ’n leier laat opstaan
wat uit die noorde kom.
Ek roep hom uit die ooste
op sy naam.
Hy trap op leiers
asof hulle modder is,
soos ’n pottebakker
wat klei trap.
26“Wie van julle
het dit van die begin af gesê
sodat ons dit kon weet,
vantevore al sodat ons sou kon sê:
‘Hy was reg’?
Niemand het dit geweet nie.
Niemand het dit voorspel nie.
Niemand het eers gehoor
dat julle ’n woord daaroor sê nie.
27Ek was die eerste
wat vir die tempelberg#41:27 Grondteks Sion. gesê het:
‘Kyk, hier kom hulp vir jou!’
Ek het ’n boodskapper
met goeie nuus
na Jerusalem toe gestuur.
28Nie een van die afgode
het jou dit kon vertel nie.
Toe Ek hulle vra,
kon niemand ’n antwoord gee nie.
29Hulle is almal vals!
Wat hulle doen, beteken niks.
Hulle is so leeg soos die wind.”

Currently Selected:

JESAJA 41: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy