Parallel
45
Josef maak homself aan sy
broers bekend
1Toe kon Josef dit nie meer voor al sy personeel uithou nie. “Gaan uit, almal van julle!” beveel hy hulle. Daar was niemand anders teenwoordig toe Josef hom aan sy broers bekendstel nie. 2Toe bars hy in trane uit. Hy het so hard gehuil dat die Egiptenaars dit gehoor het en ook die mense in die farao se paleis.
3“Ek is Josef!” sê hy vir sy broers. “Leef Pa nog?” Maar sy broers was stomgeslaan, want hulle het baie bang geword. 4“Kom nader na my toe,” sê hy. Hulle kom toe nader. Hy sê toe weer: “Ek is Josef, julle broer wat julle destyds verkoop het en na Egipte toe gebring is. 5Maar moenie julleself verwyt dat julle dit gedoen het nie. Eintlik is dit God wat dit bewerk het. Hy het my vooruit gestuur sodat julle lewens gespaar kon word. 6Twee jaar hongersnood is verby, maar daar lê nog vyf jaar voor. In dié tyd sal daar nie geploeg en geoes kan word nie. 7God het my voor julle uit gestuur om voorsorg te tref dat julle en julle gesinne aan die lewe kan bly en sodat julle ’n groot nasie kan word. 8Ja, dit is God wat my gestuur het en nie julle nie! Hy het gesorg dat ek as Farao se raadgewer aangestel word, en ook as bestuurder van sy hele huishouding en heerser oor die hele Egipte.
9“Maak nou gou. Gaan terug na my pa toe en sê vir hom: ‘Dit is wat Pa se seun Josef sê: God het my heerser van die hele Egipte gemaak. Kom dadelik hierheen! 10Pa kan in die streek van Gosen woon sodat Pa naby my kan wees saam met Pa se kinders en kleinkinders, kleinvee en grootvee en alles wat Pa besit. 11Ek sal daar vir Pa sorg, want daar is nog vyf jaar hongersnood oor. Anders sal Pa en almal saam met Pa totaal verarm.’”
12Josef sê verder: “Julle kan nou self sien, en ook my broer Benjamin kan sien, dit is regtig ek, julle broer Josef wat met julle praat! 13Gaan vertel my pa hoe geëerd ek in Egipte is. Vertel hom wat julle alles gesien het en bring hom so gou moontlik hiernatoe.” 14Terwyl hy huil van vreugde, omhels hy vir Benjamin, wat ook begin huil het. 15Daarna het Josef elkeen van sy broers omhels en by hulle gehuil. Toe eers het hulle met hom begin praat.
Die farao nooi Jakob na Egipte
toe
16Die nuus het die farao baie gou bereik: “Josef se broers het gekom!” Die farao en sy amptenare was baie bly om dit te hoor.
17Die farao sê vir Josef: “Sê vir jou broers om hulle donkies op te saal en terug te gaan na Kanaän toe 18en julle pa en hulle gesinne na my toe te bring. Sê vir hulle: ‘Farao sal die beste deel van Egipte aan julle gee. Van die room van die land sal julle geniet!’ 19Verder beveel ek jou dat hulle waens uit Egipte moet saamvat om daarop hulle vroue en kinders en hulle pa hierheen te bring. 20Julle moenie eers bekommerd wees oor die besittings wat julle agterlaat nie, want die beste van Egipte behoort aan julle.”
21Jakob se seuns het toe so gemaak. Josef het waens aan hulle verskaf soos die farao beveel het. Hy het ook vir hulle genoeg voorrade vir die reis gegee. 22Boonop het hy vir elkeen van hulle nuwe klere gegee. Benjamin het egter vyf stelle klere gekry en ook 300 stukke silwer. 23Vir sy pa stuur hy tien donkies saam, gelaai met die beste ware uit Egipte, en tien donkiemerries wat met graan en allerlei kos gelaai was as padkos vir sy pa. 24Hy het sy broers afgesien, en toe hulle vertrek, sê hy vir hulle: “Moenie langs die pad begin stry nie!” 25Hulle is daar weg en het by hulle pa, Jakob, in die land Kanaän aangekom.
26“Josef lewe nog!” sê hulle vir hom. “Hy is die heerser van die hele land Egipte!” Jakob was oorbluf deur hierdie nuus. Hy kon dit net nie glo nie. 27Maar toe hulle Josef se boodskappe oordra, en toe hy die waens sien wat Josef gestuur het om hom te kom haal, het hy tot verhaal gekom.
28Toe sê Jakob: “Dit moet waar wees! My seun Josef lewe regtig! Ek sal gaan en hom sien voordat ek sterf.”