YouVersion Logo
Search Icon

GENESIS 44

44
Benjamin word vals beskuldig
1Toe die broers gereed was om te gaan, gee Josef bevel aan die bestuurder van sy huis: “Maak al die sakke vol met soveel graan moontlik en sit elke man se geld weer terug in sy sak. 2My silwerbeker moet jy bo in die sak van die jongste een sit saam met die geld wat hy vir die graan betaal het.” Die bestuurder het net so gemaak soos Josef beveel het.
3Teen dagbreek was die broers op en begin hulle die terugtog met hulle donkies. 4Hulle was skaars buite die stad, toe sê Josef vir die bestuurder: “Jaag agter hulle aan en stop hulle. Vra hulle: ‘Hoekom het julle ’n goeie daad met kwaad vergeld? 5Waarom het julle my meester se persoonlike silwerbeker gesteel waarmee hy die toekoms voorspel? Dis ’n slegte ding wat julle gedoen het!’”
6Die bestuurder het hulle ingehaal en gemaak soos hy beveel is. 7“Waarvan praat u, Meneer?” sê die broers. “Nie een van ons sal so iets aanvang nie. 8Het ons dan nie die geld wat ons ’n vorige keer in ons sakke gekry het al die pad van Kanaän af weer teruggebring nie? Hoekom sou ons silwer of goud uit u meester se huis steel? 9As u die beker by enigeen van ons kry, moet daardie een doodgemaak word en ons sal u meester se slawe word.”
10“Dis goed so,” antwoord die bestuurder, “behalwe dat net die een wat dit gesteel het my slaaf sal wees. Die onskuldiges mag maar vry gaan.”
11Hulle het gou die sakke van die donkies afgelaai en dit oopgemaak. 12Hy het by die oudste se sak begin soek en so voortgegaan tot by die jongste. En daar kry hy toe die beker in Benjamin se sak! 13Toe hulle dit sien, skeur hulle hulle klere in radeloosheid. Hulle laai weer hulle donkies en draai terug na die stad toe. 14Josef was nog tuis toe Juda en sy broers daar aankom en op die grond voor hom neerval.
15“Wat het julle aangevang?” vra Josef. “Het julle nie geweet dat ’n persoon soos ek sou weet wie dit gesteel het nie?”
16Juda sê toe: “Ai, Meneer, wat kan ons tog vir u sê? Hoe kan ons onsself verontskuldig? God het ons sonde aan die lig gebring. Meneer, ons het almal teruggekom om u slawe te wees, ons én ons broer in wie se sak die beker gekry is.”
17“Nee,” sê Josef. “Net die man wat die beker gesteel het, sal my slaaf wees. Die ander kan maar teruggaan na julle pa toe.”
Juda praat namens die broers
18Juda kom toe vorentoe en sê: “Meneer, laat ek asseblief iets sê. Moet tog nie vir my kwaad word nie. Ek weet dat u dieselfde gesag het as Farao.
19“Meneer, u het ons gevra of ons ’n pa of ’n broer het. 20Ons het gesê: ‘Ja, ons het ’n pa, ’n ou man. In sy ouderdom is ook nog ’n kind, sy jongste seun, gebore. Sy broer is dood. Hy alleen is oor van sy ma se kinders en sy pa het hom baie lief.’ 21Toe sê u: ‘Bring hom hierheen sodat ek hom kan sien.’ 22Maar ons het vir u gesê: ‘Meneer, die seun kan nie weggaan van sy pa nie, want dan sal sy pa sterf.’ 23Maar u het gesê: ‘As julle jongste broer nie saamkom nie, mag julle my nie weer sien nie.’ 24Ons het toe na ons pa teruggegaan en hom vertel wat u gesê het. 25Toe hy later vir ons sê: ‘Gaan terug en koop weer vir ons ’n bietjie kos,’ 26het ons geantwoord: ‘Ons kan nie gaan nie tensy Pa toelaat dat ons jongste broer ook saamgaan. Ons sal nie toegelaat word om die man weer te sien as ons jongste broer nie by ons is nie.’ 27Toe sê ons pa vir ons: ‘Julle weet dat my vrou twee seuns gehad het 28en dat een van hulle weggegaan het en nie weer teruggekom het nie. Ek dink roofdiere het hom verskeur, want ek het hom nog nie weer gesien nie. 29As julle nou sy broer ook van my wegneem en hy kom iets oor, sal julle my in my ouderdom met smart graf toe laat gaan.’
30“Nou, Meneer, ek durf nie sonder die seun na my pa toe teruggaan nie. Ons pa is baie lief vir die seun. 31As hy sien dat die seun nie by ons is nie, sal ons pa sterf. Ons sal veroorsaak dat hy in sy ouderdom met smart in die graf gaan. 32Meneer, ek het my pa gewaarborg dat ek na die seun sal kyk. Ek het vir hom gesê: ‘As ek hom nie terugbring nie, sal ek vir altyd skuldig wees teenoor Pa.’ 33Asseblief, Meneer, laat my hier agterbly as u slaaf in die plek van die seun en laat hy saam met sy broers teruggaan. 34Hoe sou ek sonder die seun na my pa toe kon teruggaan? Ek kan dit nie verduur om daaraan te dink dat ek hom soveel smart sal aandoen nie.”

Currently Selected:

GENESIS 44: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy