YouVersion Logo
Search Icon

GALASIËRS 3

3
God spreek julle vry deurdat julle glo, nie omdat julle die wet onderhou nie
1O, dwase Galasiërs! Wie het julle getoor? Christus is dan só duidelik vir julle beskryf dat julle Hom as’t ware aan die kruis kon sien hang! 2Ek wil net dit vir julle vra: Het julle die Gees ontvang deur die wet te onderhou of deur te glo wat julle gehoor het? 3Hoe kan julle so dwaas wees? Wil julle dit wat die Gees in julle begin het, nou uit eie krag probeer klaarmaak? 4Was al die goeie dinge wat julle beleef het, dan tevergeefs? Dit kon tog nie tevergeefs gewees het nie!
5Vra julle dus af: Het God die Gees vir julle gegee en wonders onder julle bewerk omdat julle die wet onderhou of omdat julle geglo het wat julle gehoor het?
6So was dit ook met Abraham: “Hy het God geglo en God het hom vrygespreek.”#3:6 Of Hy het God geglo en dit is hom tot geregtigheid gereken. Gen 15:6. 7Julle moet dus insien: Die ware kinders van Abraham is hulle wat glo.
8Verder het die Skrif vooruit gesien dat God nie-Jode deur geloof sou vryspreek. Daarom is die Goeie Nuus#3:8a Of evangelie. vooraf aan Abraham bekendgemaak: “Deur jou sal al die volke geseën wees.”#3:8b Gen 12:3; 18:18; 22:18. 9Almal wat glo, word gevolglik geseën saam met die gelowige Abraham.
10Maar elkeen wat op die onderhouding van die wet vertrou om deur God vrygespreek te word, is vervloek. Die Skrif sê mos: “Vervloek is elkeen wat nie alles doen wat in die boek van die wet geskryf staan nie.”#3:10 Deut 27:26. 11Dit is dus duidelik dat niemand deur God vrygespreek word op grond van wetsonderhouding nie. Daar staan geskryf: “Wie deur gelóóf vrygespreek word, sal lewe.”#3:11 Hab 2:4. 12Maar by die wet speel geloof geen rol nie, want daar staan: “Wie dóén wat die wet sê, sal daardeur lewe.”#3:12 Lev 18:5.
13Christus het ons losgekoop van die vloek wat op wetsoortreders rus#3:13a Grondteks van die vloek van die wet. toe Hy vir ons ’n vervloekte geword het. Daar staan geskryf: “Vervloek is elkeen wat aan ’n paal#3:13b Of hout. hang.”#3:13c Deut 21:23. 14Dit wat Christus Jesus gedoen het, het tot gevolg dat ook die nie-Joodse nasies deel kry aan Abraham se seën. Dit beteken dat ons deur die geloof die Gees wat belowe is, ontvang.
God gee sy beloftes aan almal wat in Jesus Christus glo
15Broers en susters#3:15a Grondteks Broers., ek gebruik nou ’n alledaagse voorbeeld. As ’n ooreenkoms#3:15b Of verbond., al is dit mensewerk, eers gesluit is, kan niemand dit ongeldig verklaar of iets daarby voeg nie. 16My argument is: God het sy beloftes aan Abraham en sy nakomeling#3:16a Grondteks saad. gegee. Daar staan nie “nakomelinge#3:16b Grondteks sade.” asof baie mense bedoel word nie, maar dit gaan om één persoon. Met “sy nakomeling” word Christus bedoel. 17Ek sê dus: Die verbond wat God met Abraham gesluit het, kan nie deur die wet, wat 430 jaar later gekom het, ongeldig gemaak en daarmee ook die belofte ongedaan gemaak word nie. 18As wetsgehoorsaamheid ’n mens die erfenis kan laat ontvang, word dit nie meer ontvang omdat God dit beloof het nie. God het egter juis sy genade deur ’n belofte aan Abraham gegee.
19Waarom dan die wet? Dit het bygekom met die oog op die sonde totdat die “Nakomeling” op wie die belofte betrekking het, sou kom. Engele het die wet deur middel van ’n tussenganger#3:19 Of middelaar. aan Israel gegee.
20My argument is: ’n Tussenganger is nie nodig as daar net een party is nie. En God is net één!
21Is die wet dus in stryd met God se beloftes? Verseker nie! As daar ’n wet was#3:21 Grondteks gegee was. wat ware lewe kon gee, sou ons inderdaad vrygespreek kon word deur daardie wet te gehoorsaam. 22Maar die Skrif getuig die teendeel: Alles is vasgevang in die greep van sonde#3:22 Grondteks Die Skrif het alles onder sonde ingesluit. sodat die belofte op grond van geloof in Jesus Christus aan die gelowiges gegee sou kon word.
23Voordat die geloof gekom het, is ons deur die wet bewaak. Ons was gevange gehou totdat God se plan van geloof#3:23 Of totdat geloof. geopenbaar sou word. 24Die wet het ons soos ’n kinderopvoeder opgepas totdat Christus gekom het.#3:24 Grondteks Die wet is dus ons kinderopvoeder na Christus toe. Ons is opgepas sodat ons deur te glo God se vryspraak kon ontvang. 25Noudat die tyd van geloof gekom het, staan ons egter nie langer onder die toesig van ’n kinderopvoeder nie.
Deur geloof is julle kinders van God
26Julle is almal God se kinders#3:26 Grondteks seuns. deurdat julle in Christus Jesus glo. 27Almal wat deur die doop met Christus één geword het, se lewe word nou heeltemal deur Christus bepaal#3:27 Grondteks het hulle mos met Christus beklee.. 28Nou is daar nie langer sprake van Jood of Griek, slaaf of vryman, man of vrou nie; julle is tog almal één in Christus Jesus. 29Verder, omdat julle aan Christus behoort, ís julle die nageslag van Abraham en dus erfgename van die belofte!

Currently Selected:

GALASIËRS 3: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy