YouVersion Logo
Search Icon

ESRA 8

8
Mense wat saam met Esra teruggekom het
1Hier is ’n lys van die familiehoofde wat saam met my uit Babilonië gekom het in die tyd toe koning Artasasta regeer het: 2Gersom uit die familie van Pinehas. Daniël uit die familie van Itamar.
3Gattus seun van Sekanja uit die familie van Dawid. Sagaria uit die familie van Paros en nog 150 ander mense.
4Eljehoënai seun van Seragja uit die familie van Pagat-Moab en nog 200 ander mense.
5Sekanja seun van Jagasiël uit die familie van Sattu en nog 300 ander mense.
6Ebed seun van Jonatan uit die familie van Adin en nog 50 ander mense.
7Jesaja seun van Atalia uit die familie van Elam en saam met hom 70 ander mense.
8Sebadja seun van Migael uit die familie van Sefatja en nog 80 ander mense.
9Obadja seun van Jegiël uit die familie van Joab en nog 218 ander mense.
10Selomit seun van Josifja uit die familie van Bani en nog 160 ander mense.
11Sagaria seun van Bebai uit die familie van Bebai en nog 28 ander mense.
12Joganan seun van Katan uit die familie van Asgad en nog 110 ander mense.
13Die laaste was Elifelet, Jeïel en Semaja en nog 60 mense saam met hulle.
14Utai en Sabud uit die familie van Bigwai en nog 70 ander mense.
Esra se reis na Jerusalem
15Ek het die ballinge by die kanaal wat by Ahawa verbyloop, laat bymekaarkom. Daar het ons vir drie dae gekamp terwyl ek die lyste met mense en priesters wat aangekom het, nagegaan het. Ek het uitgevind dat daar nie een Leviet onder hulle was nie. 16Ek het toe vir Eliëser, Ariël, Semaja, Elnatan, Jarib, Elnatan, Natan, Sagaria en Mesullam laat roep. Hulle was die leiers van die mense. Ek het ook vir Jojarib en Elnatan, twee verstandige mense, laat roep. 17Ek het hulle na Iddo, die leier van die Leviete in Kasifja gestuur met ’n versoek. Hy en sy naasbestaandes, asook die tempelwerkers, moes mense stuur om in die tempel van ons God diens te doen.
18Omdat ons God vir ons goed was, het hulle ’n verstandige man met die naam Serebja gestuur en van sy seuns en broers, agtien altesaam. Hy was uit die familie van Magli seun van Levi, ’n seun van Israel. 19Hulle het ook vir Gasabja gestuur en saam met hom Jesaja uit die familie van Merari en van sy seuns en broers, twintig altesaam, 20en 220 tempelwerkers. Die tempelwerkers was ’n groep werkers wat destyds deur koning Dawid en sy amptenare aangestel is om die Leviete te help. Hulle name is almal op die lys geplaas.
21Ek het daar by die Ahawakanaal vir almal opdrag gegee om te vas sodat hulle nederig kon wees voor ons God. Ons het gebid dat ons reis veilig sou wees en dat Hy ons en ons kinders en ons besittings sou beskerm. 22Ek was skaam om die koning te vra om soldate en ruiters saam met ons te stuur om ons teen vyande op ons pad te beskerm, want ons het vir die koning gesê: “Ons God beskerm almal wat Hom aanbid, maar sy toorn woed voort teen hulle wat Hom in die steek laat.” 23Dit is hoekom ons gevas en ernstig gebid het dat God na ons moes omsien. Hy het ons gebed verhoor.
24Ek het twaalf leiers uit die priesters gekies, naamlik Serebja, Gasabja en nog tien ander priesters 25om in beheer te wees van die vervoer van die silwer, goud, die goue bakke en ander voorwerpe. Die koning, sy raadgewers, sy leiers en al die mense van Israel het dit vir die tempel van ons God gegee. 26Ek het dit alles geweeg en vir hulle gegee. Dit was: 24 ton silwer, voorwerpe van silwer wat 68 kilogram geweeg het, en goue voorwerpe van drie en ’n half ton. 27Verder was daar twintig goue bakke wat saam agt en ’n half kilogram geweeg het en twee kosbare koperbakke net so waardevol soos goud.
28Ek het vir hierdie priesters gesê: “Julle en hierdie geskenke is vir die Here afgesonder. Hierdie silwer en goud is offers wat vrywillig vir die Here, die God van ons voorouers gemaak is. 29Julle moet hierdie geskenke goed oppas totdat julle dit by die stoorplekke by die tempel van die Here in Jerusalem oorhandig. Daar mag geen verliese wees wanneer julle dit aan die priesters, die Leviete en die leiers van Israel oorhandig nie.”
30Die priesters en die Leviete het die taak om hierdie geskenke na die tempel van ons God in Jerusalem te vervoer, aanvaar.
31Op 19 April#8:31 Grondteks Op die twaalfde dag van die eerste maand. het ons van die Ahawakanaal vertrek om na Jerusalem te gaan. Ons God het ons beskerm. Hy het ons op ons reis gered van ons vyande en van hinderlae. 32Toe ons in Jerusalem aangekom het, het ons vir drie dae daar gerus. 33Op die vierde dag het hulle die silwer, goud en die ander kosbare voorwerpe by die tempel van ons God geweeg. Dit is toe in die hande gelaat van Meremot seun van Urija die priester, en Eleasar seun van Pinehas. Nog twee Leviete, Josabad die seun van Jesua en Noadja seun van Binnuï, was saam met hulle. 34Soos hulle dit oorhandig het, het hulle alles getel en geweeg en die totale gewig opgeskryf.
35Die bannelinge wat teruggekom het uit die land waar hulle gevange gehou was, het toe brandoffers vir die God van Israel gebring. Hulle het twaalf bulle vir die hele Israel geoffer, verder ook 96 skaapramme en 77 lammers. Hulle het ook nog twaalf bokramme as ’n sonde-offer gebring. Hulle het al hierdie brandoffers tot eer van die Here gebring. 36Daarna het hulle die geskrewe opdragte van die koning vir sy senior amptenare en die goewerneurs van die provinsie wes van die Eufraatrivier gegee. Hierdie mense het van toe af hulle ondersteuning aan die volk en die tempel van God gegee.

Currently Selected:

ESRA 8: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy