YouVersion Logo
Search Icon

ESEGIËL 32

32
’n Waarskuwing vir die farao
1Op 3 Maart, in die twaalfde jaar wat koning Jojagin in ballingskap was#32:1 Grondteks Op die eerste dag van die twaalfde maand van die twaalfde jaar, van die Hebreeuse kalender. Dit gebeur op 3 Maart 585 vC., het die Here vir my gesê: 2“Mensekind, huil oor die farao, die koning van Egipte.
“Sê vir hom: Jy het jouself as ’n sterk, jong leeu tussen die nasies gesien, maar eintlik is jy ’n seemonster wat in jou riviere rondtrap en die water modderig maak.
3“Die oppermagtige Here sê:
Ek stuur baie mense
om jou in my net te vang
en jou uit die water te sleep.
4Ek los jou op droë grond.
Al die voëls en wilde diere
sal aan jou karkas kom vreet,
hulle sal versadig word.
5Ek maak heuwels toe
met jou vleis
en die valleie
met jou bene.
6Ek deurweek die aarde
met jou bloed
tot by die berge.
Die klowe
maak Ek vol daarvan.
7Wanneer Ek jou vernietig,
maak Ek die hemel toe
en verdonker Ek die sterre.
Ek bedek die son met wolke
en die maan sal nie skyn nie.
8Ek bring donkerte
oor jou hele land.
Selfs die helderste sterre
sal bo jou donker word.
Ek is die oppermagtige Here,
en Ek sê so.
9“Baie mense sal ontsteld wees
wanneer hulle hoor
van jou einde,
selfs in verre lande
waarvan jy
nie eens geweet het nie.
10Ek maak baie mense verstom
oor wat met jou gebeur.
Hulle konings se hare
sal regop staan
oor wat jou sal tref
as Ek my swaard
oor hulle swaai.
Die dag as Ek jou
tot ’n val bring,
sal elkeen
vir sy lewe vrees.
11“Die oppermagtige Here sê:
Die swaard van die koning
van Babilon
is op pad na jou toe.
12Ek sal jou vernietig
met die swaard
van sterk soldate,
wat almal wrede mense is.
Hulle vernietig Egipte se trots;
al sy mense
word uitgeroei.
13Ek vernietig ook al jou vee
wat by die water wei.
Die water sal nie meer
vertroebel word
deur mensevoete
of pote van vee nie.
14Ek maak die water van Egipte
helder,
en dit sal rustig vloei
soos olyfolie,
sê die oppermagtige Here.
15“Wanneer Ek Egipte vernietig
en alles uitwis
en al sy mense doodmaak,
sal julle besef
Ek is die Here.
16Dít is die begrafnislied
wat hulle dan
vir Egipte sal sing,
die vroue van ander nasies
wat oor Egipte
en sy mense sing.
So sê die oppermagtige Here.”
Egipte beland in die graf
17Op 17 Maart, in die twaalfde jaar#32:17 Grondteks Op die vyftiende dag van die maand van die twaalfde jaar, waarskynlik in die twaalfde maand van die Hebreeuse kalender (vgl 32:1). Die boodskap kom dan aan die einde van die twaalfde jaar van koning Jojagin se ballingskap op 17 Maart 585 vC. Griekse weergawe Op die vyftiende dag van die eerste maand, wat dit op 27 April 586 vC vasstel, aan die begin van Jojagin se twaalfde jaar., het ek nog ’n boodskap van die Here gekry:
18“Mensekind,
treur oor die mense
van Egipte,
want saam met sterk nasies
stuur Ek hulle
na die onderwêreld,
om in die graf te lê.
19Sê vir hulle:
‘Egipte, is jy beter
as die ander nasies?
Gaan af en gaan lê
tussen die onbesnedenes!’
20Hulle sal omkom
saam met ander
wat deur die swaard
gesneuwel het,
want die swaard
is reeds uitgetrek.
Laat Egipte en al sy menigtes
weggesleep word.
21Vanuit die graf
spot die magtige leiers
vir Egipte en sy bondgenote:
‘Hulle het neergedaal
na die graf
en lê nou by die onbesnedenes,
by die slagoffers van die swaard!’
22“Assirië lê daar,
omring met grafte van al sy mense,
almal slagoffers van die swaard.
23Hulle grafte
is diep in die doderyk,
omring deur hulle bondgenote.
Lank tevore het hulle oral
angs in mense gewek,
maar nou het hulle vyande
hulle doodgemaak.
24“Elam en al sy menigtes
is daar
met sy mense rondom sy graf,
almal deur die swaard getref.
Hulle wat onder die lewendes
paniek gesaai het,
het onbesnede
na die doderyk gegaan.
Hulle dra die vernedering
saam met dié wat in die graf is.
25Hy lê tussen dié wat dood is,
tussen die grafte van sy krygers.
Almal is onbesnede,
omgebring deur die swaard.
Hulle het verskrikking gesaai
in die land van die lewendes,
maar lê nou verneder
in die graf
saam met dié wat omgekom het.
26“Mesek en Tubal is daar,
omring deur die grafte
van hulle menigtes,
almal onbesnede slagoffers
van die swaard,
want hulle het paniek gesaai
onder lewendes in die land.
27Hulle is nie met eer begrawe
soos helde
met hulle wapens nie –
met skilde
wat hulle liggame bedek
en swaarde
onder hulle koppe nie.
In die land van die lewendes
het hulle oral paniek gesaai.
28“Ook jy, Egipte, sal verslaan lê
tussen die onbesnedenes,
almal slagoffers van die swaard.
29“Edom is daar,
met konings en prinse.
Eens was hulle magtig,
maar nou het hulle ook gesneuwel
en lê in die graf
saam met onbesnedenes.
30Al die leiers van die noorde,
ook die Sidoniërs is daar.
Hulle wat met hulle mag
verskrikking gesaai het,
lê nou by onbesnedenes
saam met dié wat gesneuwel het.
Hulle deel die vernedering
met dié wat reeds dood is.
31“Wanneer die farao
daar aankom,
sal hy verlig wees om te sien
dis nie net sy leër
wat vernietig is nie,
sê die oppermagtige Here.
32Want Ek het paniek gebring
oor almal wat leef.
Die farao en al sy hordes
sal nou by onbesnedenes moet lê,
by hulle wat gesneuwel het.
Ek, die oppermagtige Here, sê so.”

Currently Selected:

ESEGIËL 32: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy