YouVersion Logo
Search Icon

ESEGIËL 31

31
Egipte vergelyk met Assirië
1Op 21 Junie, gedurende die elfde jaar van koning Jojagin se ballingskap#31:1 Grondteks Op die eerste dag van die derde maand van die elfde jaar, van die Hebreeuse kalender. Dit gebeur op 21 Junie 587 vC., het die Here vir my gesê: 2“Mensekind, gaan sê vir die farao, koning van Egipte, en al sy mense:
“Met wie kan jou grootheid
vergelyk word?
3Jy is soos Assirië.
Hy was op die Libanonberge
’n seder met baie dik takke.
Met sy top tussen die wolke,
het dit die bos donker gemaak.
4Die waters het hom natgemaak
en hy het groot en hoog gegroei.
Die water was ook genoeg
vir alle bome rondom hom.
5Hierdie groot boom
het bo al die ander bome
uitgestaan.
Hy het floreer
met lang, dik takke
omdat daar so baie water was.
6Die voëls van die hemel
het in sy takke nes gemaak;
in sy skaduwee
het die wilde diere
hulle kleintjies
in die wêreld gebring.
Die groot nasies van die wêreld
het in sy skaduwee geleef.
7Hy het groot en mooi geword
met takke
wat ver uitgesprei het.
Sy wortels het diep afgegaan
na waters
wat in oorvloed was.
8Die seders in die tuin van God
kon nie met hom meeding nie.
Die sipresse en platane se takke
was nie so groot
soos syne nie.
Geen boom in die tuin van God
was so mooi
soos hierdie seder nie.
9Ek het hom mooi gemaak
met baie takke.
Al die ander bome
in die tuin van God
was jaloers op hom.
10“So sê die oppermagtige Here: Die seder het trots en arrogant geword, en homself bo ander aangestel en sy top tot tussen die wolke gedruk. 11Daarom het Ek hom oorgegee aan die leier van nasies wat hom gaan vernietig soos sy boosheid verdien. Ek het hom eenkant neergegooi. 12Die wreedste van vreemde soldate het hom afgekap en hom op die grond laat val. Die takke lê verstrooid oor die berge en valleie en ravyne. Al die mense wat in sy skaduwee geleef het, het weggegaan en hom agtergelaat. 13Die voëls het op sy omgevalle stam kom sit, en die wilde diere het tussen sy takke gelê. 14Daarom sal geen boom wat by waters staan, ooit weer trots word en sy kop tussen die wolke optel nie. Geen ander boom mag weer so hoog word nie. Hulle is almal bestem om dood te gaan, na die graf toe tussen sterflike mense.
15“So sê die oppermagtige Here: Toe hy in die graf afgegaan het, het die waters oor hom getreur, en Ek het die strome teruggehou sodat daar nie meer water was nie. Ek het die Libanon swart aangetrek en die bome van die veld het oor hom verlep. 16Ek het die nasies laat bewe voor die gedreun van sy val, want Ek het hom graf toe gestuur saam met al die ander wat soos hy is. Die ander trotse bome van Eden, die mooiste en beste van die Libanon, hulle wat water gebruik het, was bly in die onderwêreld. 17Hulle is ook almal vernietig en doodgemaak. Al die nasies wat in sy skaduwee geleef het, het in die graf beland.
18“Met watter een van die bome van Eden kan jou mag en aansien vergelyk word, Egipte? Tog sal jy ook saam met die bome van Eden na die onderwêreld gebring word. Jy sal lê tussen die bannelinge wat met die swaard doodgemaak is. Dit is wat met die farao en al sy soldate gaan gebeur, sê die oppermagtige Here.”

Currently Selected:

ESEGIËL 31: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy