YouVersion Logo
Search Icon

EKSODUS 24

24
Ons sal alles doen wat die Here
1Die Here het vir Moses gesê: “Klim op hiernatoe. Bring Aäron, Nadab, Abihu en 70 leiers van die Israeliete saam met jou. Hulle moet ’n entjie weg staan en My van daar af aanbid. 2Moses, net jy mag naby aan die Here kom. Die ander mag nie naderkom nie. Die volk self mag glad nie teen die berg uitklim nie.”
3Moses het na die volk toe afgegaan en vir hulle alles gesê wat die Here beveel het. Hulle het soos een man geantwoord: “Ons sal alles doen wat die Here gesê het!”
4Moses het alles wat die Here vir hom gesê het, neergeskryf. Hy het vroeg die volgende oggend opgestaan en ’n altaar aan die voet van die berg gaan bou. Hy het rondom die altaar twaalf klippe ingeplant. Dit was vir die twaalf stamme van Israel. 5Daarna het hy jong Israeliete laat kom en hulle beveel om bulle vir die Here te offer. Dit was brandoffers en vrede-offers vir die Here. 6Hy het ’n deel van die offerdiere se bloed in houers opgevang. Die ander helfte het hy oor die altaar gesprinkel.
7Daarna het Moses die Boek van die Verbond gevat en vir die volk daaruit gelees. Hulle het weer almal soos een man geantwoord: “Ons sal alles doen wat die Here gesê het! Ons sal daarna luister!”
8Moses het toe van die bloed in die houers gevat en oor die volk gesprinkel. Hy het gesê: “Hierdie bloed bevestig die verbond wat die Here met julle gesluit het toe Hy hierdie woorde vir julle gesê het.”
Moses en Josua klim teen die berg uit
9Moses, Aäron, Nadab, Abihu en die 70 leiers uit Israel het toe teen die berg uitgeklim. 10Daar het hulle die God van Israel met hulle eie oë gesien. Onder sy voete was iets wat gelyk het soos ’n vloer wat met saffierstene uitgelê is. Dit was so helder soos die blou lug. 11Hulle het Hom gesien en Hy het nogtans niks aan hulle gedoen nie. Daarna het hulle in sy teenwoordigheid geëet en gedrink.
12Die Here sê toe vir Moses: “Klim op na My toe hier op die berg. Bly hier. Ek wil vir jou plat klippe gee waarop Ek die wette en gebooie geskryf het wat jy vir die volk moet leer.” 13Moses en sy helper Josua het teen God se berg uitgeklim.
14Moses het vir die leiers gesê: “Wag hier vir ons totdat ons weer na julle toe terugkom. Aäron en Hur is hier by julle. As enige probleem opduik terwyl ek weg is, moet julle na hulle toe gaan.”
15Moses het daarna teen die berg uitgeklim. Die wolk het oor die berg gehang. 16Die wonderlike teenwoordigheid van die Here was op Sinai. Die wolk het ses dae lank oor die berg gehang. Op die sewende dag het die Here uit die wolk na Moses geroep. 17Vir die Israeliete onderkant die berg het dit gelyk soos ’n vuur wat bo-op die berg brand. 18Moses het verder teen die berg uitgeklim en in die wolk verdwyn. Hy was altesaam 40 dae en 40 nagte lank daar bo-op die berg.

Currently Selected:

EKSODUS 24: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy