YouVersion Logo
Search Icon

PREDIKER 8

8
1Wie is soos die wyse mens?
Wie kan verduidelik
hoekom dinge gebeur?
Wysheid laat jou gesig blink,
dit versag ’n kwaai gesig.
Gehoorsaam die koning
2Doen wat die koning jou beveel.
Jy het God immers belowe
dat jy dit sal doen.
3Moenie haastig weggaan
van die koning af nie.
Moenie by ’n slegte saak
staan nie,
want hy doen
wat hy goedvind.
4Die koning se woord is wet.
Wie kan vir hom vra:
“Wat doen u?”
5Wie doen wat hy sê,
kom niks oor nie.
Wyse mense weet wanneer
en hoe om op te tree.
6Want elke ding
het sy tyd en plek,
ook as die mens se ellende
swaar op hom lê.
7Niemand weet wat die toekoms
regtig inhou nie.
Wie sal dan vir ’n mens kan vertel
wat gaan gebeur?
8Niemand het die mag
om die wind te beheer nie.
Net so kan mense nie bepaal
wanneer hulle doodgaan nie.
In die oorlog word niemand
verskoon nie.
Net so sal boosheid
nie die een red
wat dit beoefen nie.
Slegte en goeie mense
9Ek het dit alles gesien.
Ek het aandag gegee
aan alles wat onder die son
gedoen word.
Daar is ’n tyd wanneer een mens
tot die nadeel van ’n ander
mag uitoefen oor die ander.
10Ek het gesien slegte mense
kom nader en gaan in,
terwyl dié wat reg gehandel het,
moet uitgaan
uit die heilige plek
en in die stad vergeet word.
Ook dit is sinloos.
11As ’n misdaad nie dadelik
gestraf word nie,
is mense se harte vol planne
om verkeerd te doen,
12want ’n sondaar
kan honderd keer
kwaad doen
en nogtans lank leef,
alhoewel ek weet:
Met die vromes
wat vir God ontsag het,
sal dit goed gaan.
13Maar die goddelose
wat nie ontsag het
vir God nie,
sal nie voorspoedig wees nie.
Hy sal nie sy dae verleng
soos ’n skaduwee nie.
14Daar is nog iets sinloos
wat op aarde gebeur:
Goeie mense beleef
wat slegte mense verdien.
En slegte mense kry
wat goeie mense verdien.
Ook dit is sinloos,
sê ek!
15Daarom raai ek mense aan
om die lewe te geniet.
Vir die mens is daar niks goeds
onder die son nie,
behalwe om te eet en te drink
en vrolik te wees,
en dat vreugde hom begelei
onder al sy geswoeg
tydens die lengte van sy lewe
wat God hom onder die son gee.
16Toe ek my daarop toegelê het
om vas te stel wat wysheid is
en te begryp wat op die aarde
gedoen word
sonder dat mense dag of nag
tot rus kom,
17het ek al die werk van God
gesien, en verstaan
dat die mens nie in staat is
om wat onder die son gebeur
te verstaan nie.
Hoe hy hom ook al inspan
en soek,
hy kan dit nie verstaan nie,
al sê die wyse hy weet.

Currently Selected:

PREDIKER 8: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy