YouVersion Logo
Search Icon

DANIËL 4

4
Koning Nebukadnesar se droom oor ’n boom
1Koning Nebukadnesar het ’n brief uitgestuur aan al die volke, tale en nasies van die wêreld: “Mag dit goed gaan met julle almal. 2Ek wil graag vir julle vertel van die tekens en wonders wat God die Allerhoogste my laat ervaar het.
3“Hoe groot is sy tekens
en hoe magtig
sy wonders!
Sy koninkryk hou
nooit op nie.
Hy heers oor geslag
na geslag.
4“Ek, Nebukadnesar, was gerieflik en voorspoedig in my paleis. 5Ek het toe ’n droom gehad wat my baie banggemaak het. Ek het daar op my bed dinge gesien wat my onrustig gemaak het. 6Ek het toe opdrag gegee om al die slim manne van Babel na my toe te bring om vir my te kom sê wat die droom beteken.
7“Toe al die towenaars, besweerders, voorspellers en sterrekykers#4:7 Grondteks Galdeërs. gekom het, het ek vir hulle gesê wat ek gedroom het. Hulle kon egter nie vir my sê wat dit beteken nie.
8“Op die ou einde het Daniël na my toe gekom. Ek het hom na my god Beltsasar vernoem, want die gees van die heilige gode is in hom. Ek het vir hom vertel wat ek gedroom het. 9Ek het vir hom gesê: ‘Beltsasar, leier van die towenaars, ek weet dat die gees van die heilige gode in jou is. Geen geheim is vir jou te groot nie. Ek sal jou vertel wat ek gedroom het, dan moet jy vir my sê wat dit beteken.
10“‘Ek het op my bed gelê
en in die middel
van die wêreld
’n hoë boom gesien.
11Die boom het groot
en sterk geword.
Dit was naderhand so hoog
soos die wolke.
Almal op die wêreld
kon dit sien.
12Dit het groen blare gehad
en genoeg vrugte gedra
dat almal daarvan kon eet.
Die diere van die veld
het in sy skaduwee gestaan.
Die voëls van die lug
het daarin nes gemaak.
Almal wat leef,
kon van sy vrugte lewe.
13“‘Terwyl ek op my bed lê
en droom,
het daar ’n bo-aardse wese#4:13, 17, 23 Of wagter. Of ’n engel wat waghou.
uit die hemel uitgekom.
14Hy het hardop uitgeroep:
Kap die boom af!
Breek sy takke af!
Stroop sy blare af!
Skud sy vrugte af!
Jaag die diere weg
van sy skaduwee!
Jaag die voëls uit sy takke!
15Laat staan net sy stomp
en sy wortels
tussen die gras in die grond
met ’n band van
yster en koper om.
Die dou uit die lug
moet hom natmaak.
Hy moet saam met die diere
in die oop veld bly.
16Laat sy geaardheid word
soos dié van ’n dier,
en laat dit vir sewe tydperke aanhou.
17“‘Dit was die besluit van die bo-aardse wesens#4:13, 17, 23 Of wagter. Of ’n engel wat waghou.. Dit was wat die heiliges geëis het sodat almal wat leef, kan weet dat God die Allerhoogste regeer oor die koninkryke van mense. Hy gee mag aan mense soos Hy wil. Hy kan selfs die geringste mens aanstel.
18“‘Dit was die droom wat ek, koning Nebukadnesar, gehad het. Beltsasar, jy moet nou vir my sê wat dit beteken. Nie een van die ander raadgewers in my koninkryk kan dit vir my verklaar nie. Jy kan dit doen, want die gees van die heilige gode is in jou.’”
Daniël verklaar die droom
19“Daniël, ook genoem Beltsasar, was vir ’n ruk lank verbysterd. Hy was ontsteld oor wat in sy gedagtes opgekom het. Die koning sê toe: ‘Beltsasar, jy moenie dat die droom en sy betekenis jou omkrap nie.’
“Beltsasar het geantwoord: ‘U Majesteit, ek wens die droom en sy betekenis het eerder met u vyande gebeur. 20Die boom wat u gesien groei en grootword het sodat almal oor die hele wêreld dit kon sien, 21met sy groen blaredak en sy baie vrugte waarvan almal kon eet, sy skaduwee waaronder al die diere van die veld kon skuil en sy takke waarin die voëls van die lug kon nes maak, 22is u self. U Majesteit, u het groot en sterk geword. U aansien het hemelhoog geword. U regeer tot by die uithoeke van die aarde.
23“‘U Majesteit, u het ’n heilige bo-aardse wese#4:13, 17, 23 Of wagter. Of ’n engel wat waghou. gesien wat afkom uit die hemel. Hy het gesê: Kap die boom af! Vernietig dit! Laat staan net sy stam en wortels, met ’n band van yster en koper om, in die grond tussen die gras van die veld! Laat die dou uit die lug op hom kom en laat hy by die diere van die veld bly totdat sewe tydperke verbygegaan het.
24“‘U Majesteit, die droom beteken dat God die Allerhoogste oor u ’n besluit geneem het. 25U sal van die mense af weggejaag word en tussen die wilde diere van die veld moet gaan bly. U sal gras eet soos ’n bees en die dou uit die lug sal op u val. Sewe tydperke sal vir u verbygaan totdat u erken dat dit God die Allerhoogste is wat oor die koninkryke van mense regeer en dit gee vir wie Hy wil. 26Dat hulle gesê het die boomstomp en sy wortels moet in die grond oorbly, beteken dat u u koningskap weer sal terugkry sodra u erken het dat dit die hemele is wat eintlik regeer.
27“‘O Koning, luister tog na my raad. Breek met u sondes en doen wat reg is. Los u onregverdigheid en sorg vir dié wat behoeftig is. Miskien hou u voorspoed dan nog ’n bietjie langer.’
28“Dit het presies net so met die koning gegaan. 29Twaalf maande later het hy op die dak van sy koninklike paleis in Babel rondgeloop. 30Hy spog toe by homself: ‘Ek het hierdie grote Babel met my eie mag as my koninklike tuiste opgebou om ’n teken te wees van my grootheid!’
31“Terwyl die koning nog besig was om so te praat, het ’n stem van bo uit die lug gekom: ‘Koning Nebukadnesar, hierdie boodskap is vir jou: Jou koningskap word van jou af weggevat! 32Jy word van die mense af weggejaag. Jy sal tussen die diere van die veld gaan bly. Jy sal gras eet soos ’n bees. Daar sal vir jou sewe tydperke verbygaan totdat jy erken dat God die Allerhoogste regeer oor die koninkryke van die mense en dit vir enigeen gee soos Hy wil.’
33“Die woorde was skaars koud toe dit so gebeur het. Nebukadnesar is van die mense af weggejaag. Hy het gras begin eet soos ’n bees. Die dou het uit die lug op hom geval. Sy hare het so lank geword soos ’n arend se vere en sy naels het soos ’n voël se kloue geword.
34“Ná hierdie tyd verby was, het ek, Nebukadnesar, opgekyk boontoe. Ek het weer tot my sinne gekom. Ek het voor God die Allerhoogste gekniel en Hom wat vir altyd lewe, geloof en vereer, want Hy regeer vir altyd en aan sy heerskappy kom daar nooit ’n einde nie.
35“Almal wat op aarde woon,
is niks in vergelyking
met Hom nie.
Hy maak soos Hy wil
met die inwoners van die hemel
en dié wat op aarde woon.
Niemand kan Hom teëgaan nie.
En niemand kan vir Hom sê:
‘Wat doen jy?’ nie.
36“Toe ek tot my sinne gekom het, is my koningskap, my aansien en my eer ook aan my teruggegee. My raadgewers en amptenare het my kom opsoek en ek is weer in my koningsamp herstel. My aansien het selfs nog meer geword as vantevore.
37“As gevolg hiervan loof en verheerlik en vereer ek, Nebukadnesar, die Koning van die hemel.
“Alles wat Hy doen,
is waar en reg.
Almal wat hoogmoedig is,
verneder Hy.”

Currently Selected:

DANIËL 4: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy