YouVersion Logo
Search Icon

DANIËL 12

12
Die einde van die tyd
1“In daardie tyd sal Migael, die groot leier#12:1 Of die aartsengel; die groot prins., optree. Hy beskerm mos jou volk. Dit sal ’n benoude tyd wees soos daar nog nie was sedert nasies ontstaan het nie. In daardie stadium sal elkeen van jou volk wie se naam in die boek opgeteken staan, gered word. 2Baie wat reeds in die graf is, sal dan uit die dood opstaan. Party sal vir altyd lewe en ander sal eindelose skande en veragting ervaar. 3Hulle wat ander mense leer, sal skitter soos die naghemel. Hulle wat baie mense lei om regverdig te word, sal vir ewig en altyd soos sterre skyn. 4Maar jy, Daniël, moet hierdie woorde geheim hou en die boek verseël tot aan die einde van die tyd. Baie sal hiernatoe en daarnatoe gaan om meer te wete te kom.”
5Ek, Daniël, het toe gekyk en daar was twee ander mans wat daar staan, een aan elke kant van die rivier. 6Een van hulle het vir die man met fyn linneklere aan en wat bokant die water gestaan het, gevra: “Hoe lank sal dit duur voordat hierdie skrikwekkende dinge in vervulling gaan?”
7Ek het gehoor hoe die man met die linneklere aan daar bokant die water sy hand in die lug opsteek en ’n eed aflê by Hom wat vir altyd lewe: “Dit sal ’n tyd, tye en ’n halwe tyd wees. Hierdie dinge sal gebeur wanneer die heilige volk se mag finaal vernietig is.”
8Ek het gehoor wat hy sê, maar ek het dit glad nie verstaan nie. Daarom het ek gevra: “Meneer, wat sal die einde van al hierdie dinge wees?”
9Hy sê toe: “Daniël, gaan nou maar. Hierdie woorde is gesluit en verseël tot in die eindtyd. 10Baie sal gesuiwer en gereinig word en deur hierdie dinge gelouter word. Dié wat kwaad doen, sal aanhou om kwaad te doen. Nie een van die kwaaddoeners sal enigiets verstaan nie, maar hulle wat verstandig is, sal wel verstaan.
11“Van die tyd af dat die gereelde offer afgeskaf is en die gruwelike ding wat verwoesting aanrig,#12:11 Of en die afskuwelike verwoesting. opgerig is, sal 1 290 dae verloop. 12Gelukkig is hulle wat bly wag totdat 1 335 dae verby is.
13“En wat jou aanbetref, Daniël, jy sal gaan rus in die graf, maar jy sal weer opstaan aan die einde en jy sal kry wat vir jou as erfdeel bepaal is.”

Currently Selected:

DANIËL 12: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy