YouVersion Logo
Search Icon

HANDELINGE 8

8
1Saulus het saamgestem met die teregstelling van Stefanus.
Vervolging verstrooi die gelowiges
’n Hewige vervolging van die kerk in Jerusalem het daardie dag begin. Al die gelowiges, behalwe die apostels, het uitgewyk na die gebiede van Judea en Samaria. 2(Godvresende mense#8:2 Grondteks mans. het Stefanus begrawe en hulle het baie oor hom getreur.)
3Saulus het die kerk oral probeer vernietig. Hy het van huis tot huis gegaan, mans en vroue laat uitsleep en in die tronk laat sit.
Filippus preek met groot seën in Samaria
4Die gelowiges wat uit Jerusalem gevlug het, het so ver as wat hulle gegaan het, die Goeie Nuus verkondig. 5Filippus het byvoorbeeld na die stad Samaria gegaan en hulle van Christus vertel. 6Toe die mense hoor wat Filippus verkondig en die wonders sien wat hy doen, het hulle aandagtig na sy boodskap geluister. 7Onrein geeste het met groot geskreeu uit baie mense uitgegaan, en baie wat verlam en kreupel was, is gesond gemaak. 8Daar was groot blydskap in daardie stad.
9In dié stad het ’n man met die naam Simon al vir jare lank die inwoners met sy toorkunste beïndruk. Hy het daarop aanspraak gemaak dat hy iemand besonders was. 10Almal, van die geringstes tot die belangrikstes, het na hom verwys as: “Die Grote, die Krag van God.” 11Hulle het hom baie ernstig opgeneem, juis vanweë sy toorkunste. 12Nou het die mense egter Filippus se Goeie Nuus oor die koningsheerskappy van God en die Naam van Jesus Christus in die geloof aanvaar. Gevolglik is baie mans en vroue gedoop. 13Selfs Simon het gelowig geword, en is gedoop. Hy het Filippus oral begin vergesel, en hy was verstom oor die wondertekens en groot kragte wat hy sien gebeur het.
14Toe die apostels in Jerusalem hoor dat die mense in Samaria die boodskap van God aanvaar het, het hulle Petrus en Johannes daarheen afgevaardig. 15Toe hulle daar aankom, het hulle vir die nuwe gelowiges gebid dat hulle die Heilige Gees mag ontvang. 16Want die Heilige Gees het immers nog nie op een van hulle gekom nie, want hulle was net in die Naam van die Here Jesus gedoop.
17Petrus en Johannes het toe hulle hande op hierdie gelowiges gesit, en hulle het die Heilige Gees ontvang.
18Toe Simon sien dat die mense die Gees ontvang wanneer die apostels hulle hande op hulle sit, wou hy hierdie mag koop. 19“Gee my ook hierdie mag,” het hy gesê, “sodat elkeen op wie ek my hande sit, die Heilige Gees kan ontvang!”
20Petrus het hom egter geantwoord: “Mag jou geld saam met jou vernietig word#8:20 Grondteks saam met jou die verderf ingaan. omdat jy dink dat dié gawe van God gekóóp kan word! 21Hier is nie plek vir jou nie, want voor God is jou hart nie reg nie.
22“Bekeer jou van hierdie boosheid van jou en bid tot die Here. Miskien sal Hy jou bose planne vergewe. 23Ek kan sien jy is vol bitterheid en deur sonde geboei.”
24“Bid júlle tog vir my tot die Here,” het Simon uitgeroep, “dat hierdie verskriklike dinge nie met my gebeur nie!”
25Nadat Petrus en Johannes kragtig getuienis gelewer en die woord van die Here in Samaria verkondig het, het hulle na Jerusalem toe teruggegaan. Op pad het hulle die evangelie ook in baie Samaritaanse dorpies verkondig.
Filippus bring die Goeie Nuus aan ’n ontmande Etiopiër
26Vir Filippus het ’n engel van die Here egter gesê: “Gaan suid#8:26 Of Gaan teen middag. met die woestynpad wat van Jerusalem af Gasa toe loop.”
27Filippus het dit gedoen, en hy het die Minister van Finansies van Etiopië teëgekom. Hy was ’n ontmande in dié hoë pos by die koningin van Etiopië#8:27 Grondteks onder Kandake, soos die koningin van Etiopië genoem is.. Hy het Jerusalem toe gekom om te aanbid, 28en was nou op pad terug. Hy het op sy wa die boek van die profeet Jesaja gesit en lees.
29Toe het die Gees vir Filippus gesê: “Gaan loop langs sy wa.”
30Filippus het nadergedraf en gehoor dat die man uit die profeet Jesaja lees. Hy vra hom toe: “Verstaan u wat u lees?”
31Die Etiopiër het geantwoord: “Hoe kan ek as niemand dit vir my verduidelik nie?”
Hy het Filippus toe mooi gevra om op te klim en by hom te kom sit. 32Die Skrifdeel waarmee hy besig was, lui:
“Hy is gelei soos ’n skaap
na die slagplek,
en soos ’n lam stil is
by sy skeerder,
só het Hy sy mond
nie oopgemaak nie.
33Hy is verneder,
en alle reg is Hom ontsê.
Wie kan van sy nageslag vertel?
Want sy lewe word
van die aarde af weggevat.”#8:32-33 Jes 53:7-8.
34Die ontmande het toe vir Filippus gevra: “Praat die profeet hier van homself of van iemand anders?” 35Filippus het toe by hierdie Skrifgedeelte begin en die evangelie oor Jesus aan hom vertel.
36Op pad kom hulle by water aan, en die ontmande sê: “Kyk, daar is water! Waarom kan ek nie gedoop word nie?”#8:36 Sommige manuskripte het ook nog ’n vers 37 En Filippus het vir hom gesê: “As jy met jou hele hart glo, is dit geoorloof.” Die ontmande het toe geantwoord: “Ek glo dat Jesus Christus die Seun van God is.” 38Hy het toe die wa laat stilhou, en hulle twee het in die water gegaan, en Filippus het hom gedoop.
39Toe hulle uit die water opkom, het die Gees van die Here vir Filippus weggevat. Die ontmande het hom nie meer gesien nie en hy het sy reis met blydskap voortgesit. 40Toe Filippus hom weer kom kry, was hy in die stad Asdod. Hy het daarvandaan deur al die dorpe die Goeie Nuus verkondig totdat hy in Sesarea aangekom het.

Currently Selected:

HANDELINGE 8: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy