YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 6

6
Die ark word uiteindelik na Jerusalem toe gebring
1Dawid het 30 afdelings uitgesoekte soldate bymekaargemaak. 2Hy en al die mense by hom het na Baäla#6:2 Dis ’n ander naam vir Kirjat-Jearim, vgl 1 Kron 13:6. in Juda gegaan om die ark van God te gaan haal. Dit is die ark waaroor die naam “die Here, die Almagtige, wat oor die gerubs troon”, uitgeroep is. 3Hulle het die ark van God op ’n nuwe wa gelaai en dit uit die huis van Abinadab op die heuwel weggevat. Ussa en Agjo, die seuns van Abinadab, het die wa vergesel. 4Die ark van God was bo-op die wa, terwyl Agjo voor geloop het. 5Dawid en al die mense van Israel het met oorgawe voor die Here gedans terwyl hulle sing en op allerlei musiekinstrumente gespeel het. Daar was liere, harpe, tamboeryne, ratels en simbale.
6Maar toe hulle by die dorsvloer van Nakon kom, het die osse gestruikel. Ussa het sy hand uitgesteek om die ark van God te keer. 7Toe ontvlam die toorn van die Here teen Ussa en tref hom sodat hy daar langs die ark van God gesterf het. 8Dawid was ontsteld omdat die Here vir Ussa so weggeskeur het. Hy noem toe die plek Peres-Ussa#6:8 Of Ussa se Skeur.. Dit is nou nog die naam.
9Dié dag het Dawid bang geword vir die Here en gevra: “Hoe kan die ark van die Here ooit na my toe kom?” 10Dawid was toe nie meer bereid om die ark van die Here in die Dawidstad te laat inkom nie. Hy het dit eerder na die huis van Obed-Edom, die Gittiet geneem. 11Die ark van die Here het drie maande in die huis van Obed-Edom gebly. Die Here het hom en sy hele huis geseën.
12Dis aan koning Dawid meegedeel: “Die Here het die huis van Obed-Edom en alles wat hy besit, geseën as gevolg van die ark van God.” Dawid het toe daarheen gegaan en die ark met groot feestelikheid na die Dawidstad toe geneem. 13Telkens nadat die draers ses tree gegee het, het hulle gaan stilstaan sodat Dawid ’n bul en ’n vetgemaakte kalf kon offer. 14Dawid het met volle oorgawe voor die Here gedans terwyl hy slegs ’n linneskouerkleed aangehad het. 15So het Dawid en die hele Israel die ark van die Here met groot gejuig en geklank van die ramshoring in die stad ingebring.
Mikal vaar teen Dawid uit
16Terwyl die ark van die Here die Dawidstad binnegekom het, het Mikal, die dogter van Saul, van bo uit haar venster toegekyk. Toe sy koning Dawid sien spring en dans voor die Here het sy hom in haar hart verafsku.
17Hulle het die ark van die Here neergesit in ’n tent wat Dawid spesiaal daarvoor laat opslaan het. Dawid het brandoffers en maaltydoffers vir die Here geoffer. 18Toe hy daarmee klaar was, het Dawid die volk geseën in die Naam van die Here, die Almagtige. 19Daarna het hy aan die hele volk, vir elke man en vrou in Israel, ’n ringbrood, ’n dadelkoek#6:19 Sommige manuskripte ’n porsie vleis. en ’n bietjie rosyntjies gegee. Almal het toe huis toe gegaan.
20Dawid het by sy huis gekom om sy gesin te seën. Maar Mikal, Saul se dogter, kom hom tegemoet en sê sarkasties: “Hoe eerbiedwaardig het die koning van Israel vandag opgetree! Hy het homself voor die slavinne ontbloot en soos ’n skaamtelose mens gedra!”
21Dawid het teruggekap: “Ja, ek het gedans voor die Here wat my bo jou pa en sy familie verkies het! Hy het my aangewys as heerser oor Israel, die volk van die Here. 22En ek sal myself selfs nog meer verneder: Ek sal myself volgens jou siening nog geringer ag en steeds geëer word deur die slavinne van wie jy praat!” 23Mikal het haar lewe lank kinderloos gebly.

Currently Selected:

2 SAMUEL 6: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy