YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 22

22
Dawid se loflied
1Nadat die Here Dawid van al sy vyande en van Saul verlos het, het hy hierdie lied tot eer van die Here gesing. Dit is die woorde van die lied:
2Die Here is my rots,
my vesting en my Redder;
3my God is my rots,
by wie ek skuil.
Hy is my skild,
die krag van my redding,
my vesting, my toevlug,
my verlosser
wat my red van geweld.
4Ek sal roep tot die Here,
Hy wat lofwaardig is,
want Hy red my van my vyande.
5Golwe van die dood
omring my;
strome van onheil
oorweldig my.
6Bande van die dood omring my,
strikke van die dood
wag my in.
7In my angs
het ek tot die Here geroep,
tot my God geroep om hulp.
In sy heiligdom het Hy geluister;
my hulpgeroep
het Hy gehoor.
8Toe het die aarde geskud
en gebewe;
die fondamente van die hemele
het gerammel;
hulle het geruk
vanweë sy toorn.
9Rook het uit sy neusgate
geborrel,
verterende vlamme
uit sy mond,
gloeiende kole
uit sy binnekant.
10Hy het die hemele oopgebreek
en afgekom;
donkerte was onder sy voete.
11Hy het op ’n gerub geklim
en gevlieg,
Hy is gesien
op die vlerke van die wind.
12Hy het homself
in donkerte gehul,
watermassas en onweerswolke
het Hom omsluier.
13Uit die gloed voor Hom
het weerligstrale geblits.
14Die Here se stem donder
uit die hemele;
die Allerhoogste
laat sy stem hoor.
15Hy skiet sy pyle,
verstrooi sy vyande;
sy weerlig flits,
hulle is verbysterd.
16Die bodem van die see
word sigbaar,
die fondamente van die aarde
word ontbloot
deur die gebulder van die Here,
deur die rukwind van sy asem.
17Van bo af
het Hy sy hand uitgestrek
en my gegryp,
uit diepwaters
het Hy my uitgetrek.
18Hy verlos my
van magtige vyande,
van haters wat te sterk was vir my.
19Hulle het aangeval
toe ek swak was,
maar die Here hou my staande.
20Hy lei my na ’n oop ruimte,
en red my omdat Hy my liefhet.
21Die Here beloon
my opregtheid;
Hy vergoed my onskuld,
22want ek was getrou
aan die voorskrifte
van die Here;
ek was nie skuldig
teenoor my God nie.
23Sy voorskrifte het ek gevolg
en van sy bepalings
nie afgewyk nie.
24Ek is onskuldig voor Hom
en het myself weerhou
van sonde.
25Die Here het my opregtheid
beloon,
want ek was onskuldig
voor Hom.
26Vir die getroues is U getrou;
vir die opregtes is U opreg.
27Vir dié wat rein is, is U rein;
vir dié wat vals is, is U vals.
28U red hulle wat nederig is,
maar U verneder
die hoogmoediges.
29U is my lig, o Here.
Here, U verlig my duisternis.
30Met U loop ek ’n leër storm,
met my God
spring ek oor ’n muur.
31God se pad is volmaak.
Die Here se woorde
is betroubaar.
Hy beskerm
dié wat by Hom skuil.
32Want wie anders as die Here
is God?
Wie anders as ons God
is ’n rots?
33God maak my sterk;
Hy maak my pad veilig.
34Hy maak my voete
soos dié van ’n wildsbok,
op hoë plekke
laat Hy my veilig staan.
35Hy oefen my hande
vir die geveg,
my arms
om ’n bronsboog te trek.
36U redding is vir my ’n skild,
u hulp maak my sterk.
37U verbreed die pad
onder my
en my enkels swik nie.
38Ek het my vyande agtervolg
en vernietig,
ek het nie omgedraai
voordat hulle uitgewis was nie.
39Ek het hulle oorrompel
en platgeslaan;
hulle kon nie opstaan nie;
hulle het voor my voete
gesneuwel.
40U het my met krag toegerus
vir die stryd,
my teenstanders
aan my onderwerp.
41U het my vyande voor my
laat vlug;
my haters het ek uitgewis.
42Hulle roep om hulp#22:42 Grondteks Hulle het gekyk.,
maar niemand kom help nie;
hulle roep selfs tot die Here,
maar Hy antwoord hulle nie.
43Ek maal hulle fyn
soos die stof van die aarde;
soos modder op straat
laat ek hulle uitmekaarspat.
44In die stryd met teenstanders
het U my verlos,
my oor nasies
as koning aangestel.
’n Volk wat ek nie geken het nie,
dien my nou.
45Uitlanders word my onderdane;
as hulle van my hoor,
gehoorsaam hulle my.
46Vreemdelinge
word moedeloos
en kom bewend
uit hulle vestings.
47Die Here leef!
Ek prys my Rots!
Ek loof God,
die rots van my redding,
48God gee die oorwinning vir my,
onderwerp volke aan my.
49Hy red my van my vyande.
Buite bereik van teenstanders
verhef U my;
U verlos my van geweldenaars.
50Daarom, Here, sal ek U prys
voor die nasies.
Tot eer van u Naam
sal ek ’n loflied sing!
51U gee groot oorwinnings
aan u koning;
aan u gesalfde is U getrou,
aan Dawid en sy nageslag
vir altyd!

Currently Selected:

2 SAMUEL 22: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy