YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 21

21
Die Gibeoniete eis vergelding
1Gedurende Dawid se bewind was daar ’n hongersnood wat drie jaar lank geduur het. Toe het Dawid die Here daaroor geraadpleeg. Die Here het geantwoord: “Daar rus ’n bloedskuld op Saul en sy familie omdat hy van die Gibeoniete doodgemaak het.”
2Die koning het toe die Gibeoniete laat roep. Hulle was nie Israeliete nie, maar ’n oorblyfsel van die Amoriete. Israel het voorheen met ’n eed belowe dat hulle nie die Gibeoniete sou uitroei nie. Tog het Saul in sy geesdrif vir Israel en Juda hulle probeer uitwis. 3Dawid vra toe vir hulle: “Wat kan ek vir julle doen? Waarmee kan ek julle vergoed? Sê my sodat julle tot seën kan wees vir die erfdeel van die Here.”
4“Wel,” antwoord die Gibeoniete, “dit gaan nie om silwer of goud nie. Ons wil ook nie hê dat een Israeliet doodgemaak word nie.”
“Sê my net wat wil julle hê,” sê Dawid, “en ek sal dit vir julle doen.”
5Hulle het geantwoord: “Dit gaan om die man wat ons wou uitwis en beplan het dat ons geen plek binne die grondgebied van Israel sou hê nie. 6Sewe mans uit sy familie moet aan ons uitgelewer word sodat ons hulle voor die Here in Gibea van Saul, die een wat die Here uitgekies het, kan teregstel.”
“Dis goed so,” sê die koning. “Ek sal dit doen.” 7Dawid het Mefiboset seun van Jonatan en kleinseun van Saul se lewe gespaar op grond van die eed wat hy en Saul se seun Jonatan voor die Here afgelê het. 8Hy het egter Saul se twee seuns Armoni en Mefiboset uitgelewer. Hulle ma was Rispa, die dogter van Aja. Hy het ook die vyf seuns van Saul se dogter Merab#21:8 Grondteks Mikal. Maar vgl 1 Sam 18:19-20., die vrou van Adriël, die seun van Barsillai die Megolatiet 9uitgelewer aan die Gibeoniete wat hulle op die berg voor die Here tereggestel het. Die sewe is almal saam doodgemaak. Dit was aan die begin van die garsoes.
10Maar Rispa, dogter van Aja, het rouklere gevat en op ’n rots oopgegooi. Sy het gedurende die hele garsoestyd daar gebly totdat die eerste reën geval het. Sy het nie toegelaat dat roofvoëls bedags of roofdiere snags aan haar seuns se lyke vreet nie. 11Toe Dawid hoor wat Aja se dogter Rispa, byvrou van Saul, doen, 12het hy die bene van Saul en sy seun Jonatan by die inwoners van Jabes in Gilead laat haal. Saul en Jonatan het destyds in die geveg op Gilboa teen die Filistyne omgekom. Die Filistyne het die liggame op die stadsplein van die Filistynse stad Bet-San opgehang, maar die inwoners van Jabes in Gilead het hulle liggame daar gaan steel. 13Dawid het hierdie bene van Saul en Jonatan laat haal. Hy het dit saam met die bene van die manne wat die Gibeoniete tereggestel het 14op die dorp Sela in Benjamin, in die grafkelder van Saul se pa, Kis, laat begrawe. Hulle het alles gedoen wat die koning beveel het. Daarna het God die gebede vir die land verhoor.
Verskillende gevegte teen die Filistyne
15Op ’n keer was daar weer oorlog tussen die Filistyne en Israel. Dawid en sy manskappe het teen die Filistyne gaan veg, maar Dawid self het moeg en uitgeput geraak. 16Jisbi van Nob was uit die geslag van die Refaïete. Die gewig van sy bronsspies was ongeveer 3,4 kilogram en hy was gewapen met ’n nuwe uitrusting. Hy het kans gesien om Dawid dood te maak. 17Maar Abisai seun van Seruja het tot sy redding gekom en die Filistyn verslaan. Daarna het Dawid se soldate gesê: “U gaan nie weer saam in die gevegte nie! Ons kan tog nie die risiko loop dat die lig van Israel uitgedoof word nie!”
18Daarna was daar ’n ander geveg teen die Filistyne in Gob. In die geveg het Sibbekai uit Gusa vir Sippai uit die geslag van die Refaïete, doodgemaak. 19Tydens nog ’n geveg teen die Filistyne by Gob, het Elganan seun van Jaäre-Origam#21:19 1 Kron 20:5 Elganan seun van Jaïr. uit Betlehem, vir Goliat die Gattiet doodgemaak. Die steel van sy spies was so dik soos die dwarsbalk van ’n weefstoel. 20In nog ’n geveg teen die Filistyne in Gat was daar ’n baie groot man met ses vingers aan elke hand en ses tone aan elke voet, saam 24. Hy was ook uit die geslag van die Refaïete. 21Hy het Israel uitgedaag. Maar Jonatan seun van Dawid se broer Samma#21:21 Grondteks Simeï. Maar vgl 1 Sam 16:9 Samma. het hom doodgemaak. 22Hierdie vier Filistyne was uit die geslag van die Refaïete van Gat. Dawid en sy soldate het hulle almal doodgemaak.

Currently Selected:

2 SAMUEL 21: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy