YouVersion Logo
Search Icon

2 SAMUEL 15

15
Die opstand van Absalom
1Kort hierna het Absalom vir hom ’n koets en perde aangeskaf. 50 man het voor hom uit gehardloop. 2Hy het elke oggend vroeg opgestaan en by die ingang na die stad gaan stelling inneem. Wanneer mense na die koning toe daar verbykom om uitspraak oor ’n saak te kry, het Absalom hulle gevra: “Van watter stad kom jy?” As hy sê dat hy uit een van die stamme van Israel kom, 3sê Absalom: “Jy het ’n sterk en regverdige saak, maar daar is niemand om namens die koning na jou te luister nie.” 4Dan voeg hy by: “As ek maar as regter in die land aangestel was, kon elkeen met ’n regsgeding of ’n klagte na my toe kom en ek sou regverdige uitsprake lewer!” 5Wanneer iemand dan voor hom wil buig, het hy sy hand gevat, hom omhels en hom gesoen. 6So het Absalom gemaak met elkeen wat vir regspraak na die koning toe gekom het. Op hierdie manier het hy die toegeneentheid van almal in Israel gewen.
7Na vier jaar#15:7 Volgens verskeie antieke vertalings. Grondteks 40 jaar. sê Absalom vir die koning: “Laat my toe om na Hebron toe te gaan om daar my gelofte vir die Here te gaan betaal. 8Terwyl ek in Gesur was, het ek belowe dat ek die Here sal aanbid as Hy my na Jerusalem toe terugbring.”
9“Gaan gerus maar,” antwoord die koning hom.
Absalom het toe na Hebron toe gegaan. 10Terwyl hy daar was, stuur hy boodskappers na al die stamme van Israel en sê: “Sodra julle die trompette hoor, moet julle sê: ‘Absalom is in Hebron tot koning gekroon.’” 11Hy het 200 gaste uit Jerusalem saamgeneem. Hulle het niks geweet van die hele plan nie. 12Hy het ook vir Agitofel, een van Dawid se raadgewers wat in Gilo gewoon het, laat haal waar hy besig was om te offer. Kort voor lank het al hoe meer mense hulle by Absalom aangesluit sodat die sameswering al groter afmetings aangeneem het.
Dawid vlug uit Jerusalem
13Daar het spoedig ’n boodskapper in Jerusalem aangekom en koning Dawid meegedeel: “Die hele Israel het in ’n sameswering teen u by Absalom aangesluit!”
14“Kom, ons moet onmiddellik gaan,” sê Dawid aan sy ondersteuners by die hof, “anders sal ons nie van Absalom kan ontvlug nie. Maak gou voordat hy ons inhaal en ’n ramp oor ons bring en die stad met die swaard oorweldig.”
15“Wat U Majesteit sê, sal ons doen,” antwoord hulle. 16Die koning en sy huishouding het toe dadelik te voet vertrek. Hy het net tien van sy byvroue agtergelaat om die paleis te versorg. 17Die koning en sy mense het te voet gevlug, maar by die laaste huis het hulle gaan stilstaan. 18Dawid se manskappe het almal by hom verby beweeg, asook die Filistynse huursoldate en die 600 man uit Gat.
Terwyl hulle voor die koning verbytrek, 19vra hy vir Ittai, die leier van die manskappe uit Gat: “Hoekom kom jy saam met ons? Gaan terug met jou manne na koning Absalom toe, want jy is ’n uitlander, ’n vreemdeling in ballingskap. 20Jy het maar kort gelede hier aangekom. Moet ek jou dan laat rondswerf terwyl ek nie weet waarheen ons gaan nie? Gaan gerus terug en neem jou manskappe saam met jou, en mag die Here se goedheid en trou met jou wees.”
21Maar Ittai antwoord die koning: “So waar as die Here leef en u lewe, waar my heer die koning ook al is, daar sal ek ook wees, in dood of in lewe.”
22Dawid het geantwoord: “Goed dan, kom saam!” Ittai en sy 600 manne en hulle families het toe saamgegaan.
23Daar was groot droefheid in die stad en daar is hardop gehuil toe die koning en sy volgelinge verbytrek. Hulle het deur die Kidronvallei gegaan op pad na die woestyn toe.
24Sadok en al die Leviete wat die ark van die verbond van God dra, was ook by. Hulle het die ark van God langs die pad neergesit totdat almal uit die stad was. 25Dawid beveel toe vir Sadok: “Neem die ark van God terug na die stad toe. As die Here my genadig is, sal Hy my terugbring om weer die ark en die heiligdom te sien. 26Maar as Hy sê: ‘Ek is nie met jou tevrede nie,’ sal ek aanvaar wat Hy ook al besluit.”
27Die koning sê toe vir Sadok die priester: “Kyk, jy is mos ’n siener!#15:27 Volgens Griekse vertalings. Grondteks Is jy nie ’n siener nie? Gaan vreedsaam terug stad toe, jy en jou seun Agimaäs en Jonatan seun van Abjatar. 28Jy sal sien dat ek by die driwwe na die woestyn toe wag totdat ek van julle hoor wat in Jerusalem gebeur.” 29Sadok en Abjatar het toe die ark van God na Jerusalem toe teruggeneem en daar gebly.
30Dawid het met die pad geloop wat teen die Olyfberg opgegaan het en het die hele tyd gehuil. Sy kop was toegemaak en hy was kaalvoet as ’n teken van rou. Die mense saam met hom het ook hulle koppe toegemaak en gehuil terwyl hulle teen die skuinste opgegaan het. 31Iemand het vir Dawid gesê: “Agitofel, u raadgewer, is deel van Absalom se sameswering.” Toe bid Dawid: “O Here, dwarsboom tog die raad van Agitofel!”
32Toe Dawid die kruin bereik, het hy daar voor God gebuig. Gusai die Erekiet het onverwags daar aangekom met klere wat geskeur is en grond op sy kop. 33Maar Dawid sê vir hom: “As jy saam met my gaan, sal jy vir my ’n las wees. 34Gaan terug na Jerusalem toe en sê vir Absalom: ‘Ek is u onderdaan, Koning. Ek was eers in u pa se diens, maar nou is ek tot u diens.’ Dan kan jy Agitofel se raad dwarsboom. 35Sadok en Abjatar, die priesters, is daar tot jou beskikking. Sê vir hulle watter planne in die paleis beraam word. 36Hulle twee seuns Agimaäs en Jonatan is saam met hulle daar. Enigiets wat jy hoor, kan jy deur middel van hulle vir my laat weet.”
37Dawid se vriend Gusai het in Jerusalem aangekom net toe Absalom die stad binnekom.

Currently Selected:

2 SAMUEL 15: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy