YouVersion Logo
Search Icon

2 KRONIEKE 31

31
Hiskia se godsdienstige hervormings
1Toe die feesvierings verby was, het die Israeliete wat dit bygewoon het na die verskillende dorpe in Juda, Benjamin, Efraim en Manasse gegaan. Hulle het die heilige pilare stukkend geslaan, die Asjerapale afgekap en die heidense heiligdomme en altare verwyder. Daarna het die Israeliete na hulle wonings in hulle eie dorpe teruggegaan.
2Hiskia het die priesters en Leviete in afdelings ingedeel, elkeen volgens die aard van sy werk as priester en Leviet. Hulle moes sorg vir die brandoffers en maaltydoffers, die kultiese diens verrig, en sorg vir danksegging en lofprysing in die poorte van die Here se tempel. 3Die koning het ook persoonlik bygedra tot die daaglikse brandoffer, die oggend- en aandoffers, en ook vir die weeklikse Sabbatfeeste en maandelikse Nuwemaanfeeste en vir die ander jaarlikse feeste soos vereis in die voorskrifte van die Here. 4Daarby het hy bepaal dat die volk in Jerusalem die voorgeskrewe deel van hulle inkomste aan die priesters en Leviete moes bring sodat hulle hulleself kon toewy aan die gebooie van die Here.
5Soos die bevel bekend geword het, het die Israeliete van die eerste opbrengste gebring. Dit was koring, nuwe wyn, olie, heuning en al die produkte van hulle landerye. Hulle het baie goed, die tiende van alles, gebring. 6Die Israeliete wat uit Israel na Juda toe verhuis het, het ’n tiende van hulle groot- en kleinvee en van die heilige dinge toegewy aan die Here hulle God, en dit in hope opgestapel. 7Hulle het in die derde maand hiermee begin en in die sewende maand#31:7 Dit is in September en Oktober. is dit voltooi. 8Toe Hiskia en sy amptenare hierdie hope sien, het hulle die Here en sy volk Israel gedank.
9“Waar kom dit alles vandaan?” het Hiskia vir die priesters en Leviete gevra.
10Asarja, die hoëpriester uit die stam van Sadok, het geantwoord: “Vandat die gawes na die tempel van die Here gebring word, het ons genoeg om te eet en ons hou selfs daarvan oor. Die Here het sy volk geseën; daarom is daar so baie goed oor.”
11Hiskia het gereël dat daar voorraadkamers in die tempel van die Here ingerig moes word. Dit is gedoen. 12Al die gawes en tiendes is toe getrou na die tempel toe gebring. Kenanja die Leviet moes daaroor toesig hou en is bygestaan deur sy broer Simi. 13Die toesighouers onder hulle was Jegiël, Asasja, Nagat, Asael, Jerimot, Josabad, Eliël, Jismakja, Magat en Benaja. Koning Hiskia en Asarja, die amptenaar in bevel van die tempel van God, het hierdie reëlings getref.
14Kore, seun van Jimla die Leviet, was die poortwagter by die Oospoort. Hy moes toesig hou oor die vrywillige gawes aan God, oor die uitdeling van die offergawes van die Here, asook die besondere gewyde gawes. 15Sy getroue helpers was Eden, Minjamin, Jesua, Semaja, Amarja en Sekanja. Hulle moes die gawes onder die priesters in hulle dorpe volgens hulle afdelings uitdeel aan groot en klein. 16Hulle het ook die gawes uitgedeel aan alle manlike persone van drie jaar en ouer wat in die register opgeteken is en in die toekoms daaglikse diens in die tempel van die Here sou verrig. Dit sou volgens hulle verantwoordelikhede en indeling plaasvind. 17Hulle het ook uitgedeel aan die priesters wat in die register volgens families opgeneem is, en aan die Leviete van twintig jaar en ouer volgens hulle take en afdelings. 18Dit het ook babatjies, vroue, seuns en dogters van die hele tempelgemeenskap ingesluit, want hulle het hulleself getrou gereinig. 19Ook die priesters, nasate van Aäron, wat op die velde rondom die dorpe gebly het, is nie misgekyk nie. Persone is volgens naam aangesê om al die manlike persone van die priesterfamilies en die Leviete wat in die register opgeneem is, hulle deel te laat kry.
20Op hierdie manier het koning Hiskia oral in Juda gedoen wat goed en reg was vir die Here sy God. 21In alles wat hy onderneem het ter bevordering van die diens in die tempel van God, en sy gehoorsaamheid aan die gebooie en bevele, het Hiskia met sy hele hart sy God gedien. Daarom was hy baie suksesvol.

Currently Selected:

2 KRONIEKE 31: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy