YouVersion Logo
Search Icon

2 KRONIEKE 17

17
Josafat regeer in Juda
1Asa se seun Josafat het hom opgevolg. Hy het Juda versterk teen enige aanval van Israel. 2In al die versterkte stede van Juda het hy soldate geplaas. Hy het ook wagposte beman in Juda en in die dorpe van Efraim wat sy pa, Asa, verower het.
3Die Here was met Josafat omdat hy die voorbeeld van sy voorvader Dawid gevolg het en nie die beelde van Baäl aanbid het nie. 4Hy het sy pa se God gedien en die Here se gebooie gehoorsaam in teenstelling met die praktyke in die koninkryk van Israel. 5Daarom het die Here Josafat se koningskap bevestig. Die hele Juda het vir hom geskenke gebring sodat hy baie ryk geword het en groot aansien geniet het. 6Hy was toegewyd aan die wil van die Here. Hy het ook die heidense hoogtes afgebreek en die Asjerapale vernietig.
7In die derde jaar van sy bewind het Josafat sy amptenare gestuur om in al die dorpe van Juda onderrig te gee. Hierdie amptenare het die volgende persone ingesluit: Ben-Gajil, Obadja, Sagaria, Netanel en Miga. 8Hy het ook die volgende Leviete uitgestuur: Semaja, Netanja, Sebadja, Asael, Semiramot, Jonatan, Adonia, Tobija en Tob-Adonija. Die priesters Elisama en Joram was ook saam met hulle. 9Hulle het afskrifte van die boek van die gebooie van die Here saamgeneem. Hulle het rondgegaan by al die dorpe van Juda en die volk onderrig.
10Vrees vir die Here het oor al die omliggende koninkryke gekom sodat nie een van hulle oorlog teen Josafat verklaar het nie. 11Sommige van die Filistyne het vir hom geskenke van silwer as belasting gebring. Die Arabiere het 7 700 ramme en 7 700 bokramme gebring.
12Josafat het al magtiger geword en het vestings en voorraadstede oral in Juda gebou 13en in elke dorp van Juda baie voorrade gehad, en het ’n leër van geharde soldate in Jerusalem geplaas. 14Sy leër is volgens families saamgestel.
Uit Juda was daar 300 000 manskappe, georganiseer in eenhede, en onder die bevel van Adna. 15Joganan het 280 000 manskappe aangevoer. 16Dan was daar Amasja seun van Sikri wat vrywillig vir die Here diens gedoen het en 200 000 man onder sy bevel gehad het.
17Uit Benjamin was daar 200 000 manskappe, toegerus met pyl en boog en skilde. Hulle was onder bevel van Eljada, ’n veteraan. 18Die volgende bevelvoerder was Josabad met 180 000 gewapende manne onder hom.
19Dit was die soldate wat in Jerusalem gestasioneer was om tot diens van die koning te wees, benewens dié wat Josafat in die versterkte stede in die hele Juda geplaas het.

Currently Selected:

2 KRONIEKE 17: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy