YouVersion Logo
Search Icon

2 KRONIEKE 14

14
Die vroeër jare van Asa se bewind
1Toe Abia sterf, is hy begrawe in die Dawidstad. Sy seun Asa het hom opgevolg. Daar was vir tien jaar lank vrede in die land, 2want Asa het gedoen wat goed en reg is in die oë van die Here sy God. 3Hy het die heidense altare en hoogtes verwyder. Hy het ook die klippilare en Asjerapale stukkend gebreek. 4Hy het die volk van Juda beveel om die Here die God van hulle voorouers te gehoorsaam en sy gebooie en opdragte uit te voer. 5Asa het ook die heidense hoogtes en wierookaltare uit elke dorp in Juda verwyder. Asa se koninkryk het ’n tyd van vrede beleef. 6Gedurende daardie vredevolle jare was hy in staat om versterkte stede oral in Juda te bou. In hierdie tyd het niemand probeer om teen hom oorlog te maak nie, want die Here het hom rus gegee van al sy vyande. 7Asa het vir Juda gesê: “Laat ons dorpe bou en hulle versterk met mure, torings, hekke en sluitbalke. Die land is ons s’n, want ons het die Here ons God gedien en Hy het ons rus van ons vyande gegee.” Hulle het toe voortgegaan met hierdie bouwerk en dit voltooi.
8Koning Asa het uit die stam Juda ’n leër van 300 000 soldate gewapen met groot skilde en spiese gehad. Uit die stam van Benjamin het hy ’n leër gehad van 280 000 soldate gewapen met klein skilde en pyl en boog. Albei leërs is saamgestel uit dapper vegters.
9Op ’n dag het ’n Kussiet met die naam Serag Juda aangeval met ’n leër van een miljoen manskappe en 300 strydwaens. Hulle het tot by die stad Maresa gevorder. 10Asa het sy leërs vir ’n geveg in die vallei noord van Maresa opgestel. 11Hy het na die Here sy God om hulp geroep en gesê: “Here, niemand behalwe U kan dié wat hulpeloos is, help teen dié wat magtig is nie. Help ons, Here ons God, want ons vertrou net op U alleen. Dit is in u Naam dat ons teen hierdie hordes stelling ingeneem het. Here, U is ons God; moenie toelaat dat blote mense teen U seëvier nie!”
12Die Here het die Kussiete voor Asa en die leër van Juda verslaan sodat hulle gevlug het. 13Asa en sy leër het hulle agtervolg tot so ver as Gerar. Daar het so baie van die Kussiete omgekom dat hulle leër nie weer kon herstel nie. Hulle is deur die Here en sy leër verslaan, en die leër van Juda het baie goedere buitgemaak. 14Terwyl hulle by Gerar was, het hulle al die dorpe in die omgewing aangeval sodat die vrees van die Here oor daardie mense gekom het. Gevolglik het hulle ook hier baie goedere buitgemaak. 15Hulle het ook die tente van die veewagters aangeval en baie skape en kamele geroof en daarmee teruggekeer na Jerusalem toe.

Currently Selected:

2 KRONIEKE 14: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy