YouVersion Logo
Search Icon

1 KRONIEKE 21

21
Dawid neem ’n sensus op
1Satan het teen Israel opgestaan en Dawid aangepor om ’n sensus van die Israeliete op te neem. 2Dawid het opdrag aan Joab en sy offisiere gegee: “Gaan neem ’n sensus op van al die mense in die land, van Berseba in die suide tot Dan in die noorde. En bring dan vir my die uitslag sodat ek kan weet hoeveel mense daar is.”
3Maar Joab het geantwoord: “Mag die Here sy volk honderd maal vermeerder! Maar hoekom, o Koning, wil u dit doen? Is hulle nie almal u dienaars nie? Waarom wil u dit doen? Hoekom moet u Israel laat sondig?”
4Maar die koning het daarop aangedring dat Joab die sensus opneem. Daarom het Joab deur die hele Israel getrek om die volk te tel. Toe is hy terug Jerusalem toe. 5Joab het die getal mense aan Dawid kom rapporteer. Daar was 1 100 000 mense wat militêre diens kon lewer in Israel, en 470 000 in Juda. 6Joab het nie die stamme van Levi en Benjamin getel nie omdat die opdrag van die koning vir hom afskuwelik was.
Oordeel vir Dawid se sonde
7God was baie ontevrede met die sensus, en Hy het Israel daarvoor gestraf. 8Toe sê Dawid vir God: “Ek het baie teen U gesondig en moes nie die sensus opgeneem het nie. Vergewe my asseblief omdat ek hierdie dwase ding gedoen het!”
9Die Here het met Gad, Dawid se siener, gepraat. Dit was die boodskap: 10“Gaan sê vir Dawid: ‘Dit is wat die Here sê: Ek gaan jou drie keuses gee. Kies een van hierdie strawwe, en Ek sal dit doen.’”
11Gad het by Dawid gekom en vir hom gesê: “Hierdie is die keuses wat die Here u gegee het. 12U kan drie jaar van hongersnood kies, drie maande van verwoesting deur u vyande of drie dae van ’n swaar plaag waar die engel van die Here deur die hele land vernietiging bring. Dink hieroor na en laat my weet watter antwoord ek vir die Here moet gee.”
13“Dit is ’n desperate situasie!” het Dawid vir Gad geantwoord. “Maar laat my eerder in die hande van die Here val, want sy genade is baie groot. Moet my tog nie in mense se hande laat val nie.”
14Die Here het ’n plaag oor Israel gestuur, en 70 000 mense van Israel is dood as gevolg daarvan. 15En God het ’n engel na Jerusalem gestuur om dit te verwoes. Maar net toe die engel gereed was om die verderf te saai, het die Here berou gekry oor die ellende en vir die engel gesê: “Dis genoeg! Trek nou jou hand terug.” Op daardie oomblik was die engel van die Here by die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet.
16Dawid het opgekyk en die engel van die Here sien staan tussen hemel en aarde met sy ontblote swaard wat oor Jerusalem uitgestrek is. Toe het Dawid en die leiers van Israel in sak en as op die grond neergeval. 17En Dawid het vir God gesê: “Ek was die een wat die sensus beveel het! Ek is die een wat gesondig het en hierdie baie verkeerde ding gedoen het! Maar hierdie mense is onskuldig. Wat het hulle gedoen? O Here my God, laat u woede teen my en my familie ontbrand, maar moenie u volk vernietig nie!”
Dawid bou ’n altaar
18Die engel van die Here het vir Gad gesê om Dawid te beveel om ’n altaar vir die Here te gaan bou op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet. 19Dawid het gedoen wat die Here hom deur Gad beveel het. 20Arauna was besig om koring te dors toe hy omdraai en die engel sien. Sy vier seuns wat by hom was, het weggehardloop en gaan wegkruip.
21Toe Arauna sien dat die koning aankom, het hy sy dorsvloer verlaat en voor Dawid met sy gesig na die grond gebuig. 22Dawid sê toe vir Arauna: “Laat my asseblief hierdie dorsvloer vir sy volle koopprys koop! Ek wil ’n altaar vir die Here hier bou sodat Hy hierdie plaag sal stop.”
23“Vat dit, o Koning, en gebruik dit soos u wil,” het Arauna vir Dawid gesê. “Hier is ook beeste vir brandoffers en u kan die dorsgereedskap vir hout gebruik om die vuur op die altaar te maak. En vat die koring as ’n spysoffer. Ek wil dit alles vir u gee!”
24Maar die koning het vir Arauna gesê: “Nee, ek dring daarop aan om te betaal wat dit werd is. Ek kan nie wat joune is, vat en vir die Here gee nie. Ek sal nie ’n brandoffer bring wat my niks kos nie!” 25Dawid het Arauna toe byna sewe kilogram#21:25 Grondteks 600 sikkels goud, wat 6,8 kilogram in gewig is. goud betaal vir die dorsvloer.
26Dawid het daar ’n altaar vir die Here gebou en brandoffers en dankoffers geoffer. Terwyl Dawid gebid het, het die Here hom geantwoord met vuur uit die hemel wat sy offers op die altaar verbrand het.
27Toe het die Here met die engel gepraat, en hy het sy swaard in die skede teruggesteek.
28Dawid het op daardie tydstip gesien dat die Here sy gebed geantwoord het. Daarom het hy aangehou om offers op die dorsvloer van Arauna, die Jebusiet, te offer.
29In daardie stadium was die tabernakel van die Here en die altaar wat Moses in die woestyn gemaak het, op die hoogte in Gibeon. 30Maar Dawid wou nie daarheen gaan om God te raadpleeg nie omdat hy bang was vir die uitgetrekte swaard van die engel van die Here.

Currently Selected:

1 KRONIEKE 21: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy