YouVersion Logo
Search Icon

1 SAMUEL 2

2
Hanna se lofgebed
1Toe het Hanna gebid:
“My hart is bly in die Here!
Kyk hoe het die Here
my geseën!
Nou kan ek my vyande
antwoord
terwyl ek my verbly
oor u verlossing.
2Niemand is heilig
soos die Here nie!
Niemand is u gelyke nie;
daar is geen Rots
soos ons God nie.
3“Hou op om so hoogmoedig
en trots te wees!
Moenie met sulke verwaandheid
praat nie!
Die Here is ’n God
wat weet van al jou dade;
Hy sal jou oordeel
volgens wat jy gedoen het.
4Hulle wat magtig was,
is dit nie meer nie;
en hulle wat swak was,
is nou sterk.
5Hulle wat goed geëet het,
ly nou honger;
en hulle wat honger was,
is nou versadig.
Die kinderlose vrou
het nou sewe kinders,
maar die vrou met baie kinders
kwyn weg.
6Die Here laat doodgaan
en laat lewe;
Hy bring sommige na die graf,
maar wek ander weer op.
7Die Here maak een arm
en die ander ryk;
Hy trek een af
en lig ’n ander op.
8Hy verhef die minderwaardige
uit die stof,
die behoeftige
uit die ashoop!
Hy behandel hulle soos prinse
en laat hulle op ereplekke sit.
“Die onwankelbaarheid#2:8a Grondteks pilare.
van die aarde
kom van die Here.
Daarop het Hy
die wêreld gebou.#2:8b Die grondteks se betekenis is onduidelik. Ander manuskripte verskil baie.
9Hy beskerm die getroues
op hulle lewenspad,
maar die goddeloses
word in die graf stilgemaak.
Dis nie deur eie krag
dat ’n mens oorwin nie.
10Hulle wat die Here
weerstaan,
sal vernietig word.
Uit die hemel sal Hy
sy donderende stem
teen hulle laat hoor.
Die Here oordeel
oor die hele aarde.
Hy gee sterkte aan sy koning;
en Hy gee krag
aan sy gesalfde.”
11Daarna het Elkana en Hanna sonder Samuel teruggegaan na Rama toe. Die seun het die Here onder toesig van die priester Eli gedien.
Eli se seuns
12Die seuns van Eli was egter slegte mense sonder enige respek vir die Here. 13Die gebruik van die priesters was dat wanneer iemand ’n offer bring, die dienaar van die priesters met ’n drietandvurk kom sodra die vleis kook 14en dit in die pot of bak steek. Alles wat aan die vurk vassit, het die priesters dan vir hulle geneem. Dit was die gebruik vir al die Israeliete wat na Silo toe gekom het om te offer.
15Maar die dienaar van Eli se seuns#2:15 Grondteks die dienaar van die priester. het gekom nog voordat die vet gebrand is, en het vir die man wat offer, gesê: “Gee vir die priester vleis om te braai! Hy sal nie gekookte vleis aanvaar nie, net rou vleis.” 16As die een wat offer dan sê: “Vat soveel as wat jy wil hê, maar die vet moet eers gebrand word,” het die dienaar geantwoord: “Nee, gee dit nou vir my, anders vat ek dit met geweld.” 17Die sondes van hierdie jong manne was vir die Here baie ernstig, want daarmee het hulle die offer van die Here met minagting behandel.
18Samuel het egter die Here gedien. Hoewel hy nog maar ’n kind was, het hy ’n priesterlike linneskouerkleed gedra. 19Elke jaar het sy ma vir hom ’n manteltjie gemaak en dit saamgebring wanneer sy saam met haar man gekom het om te offer. 20Dan het Eli vir Elkana en sy vrou geseën en gesê: “Mag die Here jou uit hierdie vrou nog kinders gee in die plek van hierdie een wat sy van die Here afgesmeek het.” Daarna het hulle huis toe gegaan. 21Die Here het Hom oor Hanna ontferm. Sy het weer swanger geword en nog drie seuns en twee dogters in die wêreld gebring. Intussen het Samuel voor die Here grootgeword.
22Eli was al bejaard, maar hy het geweet wat sy seuns besig was om aan die Israeliete te doen. So het hy geweet dat sy seuns die jong vroue by die ingang van die tent van ontmoeting seksueel misbruik. 23Dan sê Eli vir hulle: “Die mense kom kla by my oor julle bose dade! Hoekom doen julle sulke dinge? 24My seuns, julle moet ophou daarmee! Wat ek van die mense hoor, is nie goed nie. Julle maak dat die mense teen die Here oortree. 25Wanneer iemand teen ’n medemens sondig, kan God oordeel. Maar as iemand teen die Here sondig, wie sal dan vir hom intree?” Maar Eli se seuns wou nie na hulle pa luister nie, want die Here het alreeds besluit dat hulle moet sterf.
26Soos die jong Samuel groter geword het, het hy ook al meer die guns van die Here en die mense gewen.
’n Waarskuwing aan Eli se gesin
27Op ’n dag kom ’n man van God by Eli met die volgende boodskap van die Here: “Ek het Myself duidelik aan jou voorouers bekendgemaak toe die Israeliete in Egipte slawe van die farao was. 28Ek het jou vader Aäron uit al sy bloedverwante gekies om offers op my altaar te offer, om wierook te brand en om die priesterlike skouerkleed te dra wanneer hy My dien. Ek het die vuuroffers van die Israeliete aan jou familie gegee. 29Hoekom minag julle dan my diere-offer en graanoffer wat Ek in my woning voorgeskryf het? Hoekom het jy meer respek vir jou seuns as vir My? Julle het vet geword van die beste van die offers van my volk Israel!
30“Daarom, sê die Here, die God van Israel: Ek het inderdaad gesê dat jou huis en jou nageslag altyd my priesters sou wees. Maar nou sê Ek, die Here, dit sal nie gebeur nie! Ek eer net hulle wat My eer, en Ek verag dié wat My verag. 31Kyk, daar kom ’n tyd wanneer Ek die priesterskap van jou nageslag en die nageslag van jou pa sal wegneem. Niemand in jou pa se huis sal oud word nie. 32Jy sal in jou ellende na my woning staan en kyk, en sien hoeveel voorspoed Ek vir Israel gee, maar daar sal niemand in jou familie wees wat oud word nie. 33Tog sal Ek een man spaar om by die altaar te dien. Wanneer jou oë dof word en jou kragte min, sal jou afstammelinge in die fleur van hulle lewe sterf. 34Om te bevestig dat wat Ek sê, bewaarheid sal word, sal jou twee seuns, Hofni en Pinehas, op dieselfde dag sterf.
35“Dan sal Ek ’n getroue priester aanstel wat My sal dien. Hy sal doen wat Ek vereis. Ek sal sy nageslag seën en hulle sal lewenslank priesters wees vir my gesalfde.
36“Dan sal jou nageslag voor sy nageslag kom buig en vir geld of ’n stukkie brood bedel. Hulle sal sê: ‘Gee ons asseblief werk in een van die priesterordes sodat ons kos kan hê om te eet.’”

Currently Selected:

1 SAMUEL 2: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy