YouVersion Logo
Search Icon

1 KRONIEKE 29

29
Gawes vir die bou van die tempel
1Koning Dawid het toe na die hele vergadering gedraai en vir hulle gesê: “My seun Salomo, wat God as die volgende koning verkies het, is nog maar jonk en onervare. Die werk wat vir hom wag, is groot. Want die tempel wat hy bou, is nie maar net nog ’n gebou nie. Dit is vir die Here God self! 2Ek het elke hulpbron tot my beskikking gebruik en soveel as wat ek kon, bymekaargemaak om die tempel van my God te bou. Daarom is daar nou genoeg goud, silwer, koper, yster en hout, sowel as groot hoeveelhede oniksstene, ander kosbare stene, duur juwele en allerhande stene en marmerstene.
3“Omdat die tempel van my God my na aan die hart lê, gee ek al my persoonlike skatte van goud en silwer om met die konstruksie daarvan te help. Dit is buiten die boumateriaal wat ek reeds bymekaargemaak het vir sy heilige tempel.
4“Ek gee nou meer as 102 ton#29:4a Grondteks 3 000 talente. goud van Ofir en meer as 238 ton#29:4b Grondteks 7 000 talente. gesuiwerde silwer om die mure van die geboue oor te trek 5en vir die ander werk van goud en silwer wat die ambagsmanne moet maak. Wie gaan my voorbeeld volg? Wie is gewillig om vandag geskenke vir die Here te bring?”
6Toe het die familieleiers, die stamleiers van Israel, die generaals en kapteins van die leër en die koning se administratiewe personeel gewillig bygedra. 7Vir die oprigting van die tempel van God het hulle gegee: byna 170 ton goud#29:7a Grondteks 5 000 talente goud., 10 000 goue muntstukke#29:7b Grondteks 10 000 darieke (Persiese muntstuk), wat 84 kilogram weeg., 340 ton silwer#29:7c Grondteks 10 000 talente silwer., 612 ton koper en 3 400 ton yster#29:7d Grondteks 100 000 talente yster.. 8Onder toesig van Jegiël, ’n afstammeling van Gerson, het hulle ook talle edelgesteentes bygedra vir die skatkamers van die huis van die Here. 9Die volk het gejuig oor die vrywillige gawes, want hulle het vrywillig en heelhartig bygedra vir die Here. Koning Dawid was ook vol vreugde.
Dawid se lofsang
10Dawid het die Here geprys waar die hele vergadering teenwoordig was:
“O Here,
God van ons voorouer Israel,
mag U vir altyd geloof word!
11Aan U, Here,
behoort die grootheid
en heerlikheid,
mag, roem en majesteit.
Alles in die hemel
en op die aarde
behoort aan U, Here.
Aan U behoort die koninkryk.
U is verhewe bo alles.
12Rykdom en eer
kom van U alleen,
want U heers oor alles.
Krag en mag
is in u hand,
om te verhoog
en te versterk.
13Ons dank U, ons God,
en prys u heerlike Naam!
14“Maar wie is ek tog, en wie is my volk, dat ons enigiets vir U kan gee? Alles wat ons het, kom van U af, en ons gee vir U net dit wat U reeds vir ons gegee het! 15Net soos ons voorouers is ons vreemdelinge en bywoners in die land. Ons dae op die aarde gaan soos ’n skaduwee verby, sonder enige verwagting.
16Here ons God, selfs hierdie boumateriaal wat ons ingesamel het om vir U ’n tempel te bou om u heilige Naam te eer, kom van U af. Dit behoort alles aan U!
17“Ek weet, my God, dat U ons harte ondersoek en opregtheid verlang. U weet dat ek dit alles met goeie motiewe geskenk het, en ek het ook gesien hoe u volk vrywillig en vreugdevol hulle geskenke gebring het.
18Here, God van ons voorouers Abraham, Isak en Israel, laat u volk altyd hierdie gesindheid behou. Laat hulle harte altyd getrou wees aan U. 19Gee my seun Salomo die heelhartige begeerte om al u bevele, gebooie en beginsels te gehoorsaam, en om hierdie tempel te bou, waarvoor ek al hierdie voorbereidings getref het.”
20Daarna het Dawid vir die hele vergadering gesê: “Prys nou die Here julle God!” Die hele vergadering het toe die Here, die God van hulle voorouers, geloof. Hulle het in eerbied voor die Here en die koning gekniel.
Salomo as koning aangewys
21Die volgende dag het hulle 1 000 bulle, 1 000 ramme en 1 000 lammers as brandoffers aan die Here geoffer. Hulle het ook drankoffers en baie ander offers ter wille van die hele Israel gebring. 22Hulle het in die Here se teenwoordigheid feesgevier en gedrink en was daardie dag vol vreugde.
Hulle het weer vir Dawid se seun Salomo gekroon as hulle nuwe koning. Hulle het hom voor die Here gesalf as hulle heerser, en vir Sadok as hulle priester. 23So het Salomo die troon in die plek van sy pa, Dawid, uit die hand van die Here ontvang. Dit het goed gegaan met hom, en die hele Israel het hom gehoorsaam. 24Al die koninklike amptenare, leërbevelvoerders en selfs al Dawid se seuns het trou aan koning Salomo gesweer. 25En die Here het Salomo verhoog sodat die hele Israel hom bewonder het. Hy het Salomo selfs meer koninklike eer gegee as enige koning van Israel voor hom.
Opsomming van Dawid se regering
26So het Dawid, seun van Isai, oor die hele Israel regeer. 27Hy het 40 jaar oor Israel regeer, sewe jaar in Hebron en 33 jaar in Jerusalem. 28Hy is op ’n ryp ouderdom dood nadat hy ’n lang lewe, rykdom en eer geniet het. Sy seun Salomo het in sy plek regeer.
29Alles wat in koning Dawid se regering gebeur het, van die begin tot die einde, is opgeteken in Die gedenkskrif van Samuel die siener, Die gedenkskrif van Natan die profeet en Die gedenkskrif van Gad die siener. 30Hierdie verslae sluit al die magtige dade van sy regering in en alles wat met hom en Israel en die omliggende volke gebeur het.

Currently Selected:

1 KRONIEKE 29: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy