YouVersion Logo
Search Icon

1 KRONIEKE 11

11
Dawid word koning oor die hele Israel
1Die hele Israel het na Dawid in Hebron gegaan en vir hom gesê: “Ons is almal deel van u familie. 2Vir ’n lang tyd al, selfs terwyl Saul koning was, was u die een wat in werklikheid Israel gelei het. Die Here u God het vir u gesê: ‘Jy sal die herder vir my volk Israel wees. Jy sal hulle leier wees.’” 3Dawid het voor die Here ’n ooreenkoms met die leiers van Israel gesluit. Hulle het hom as koning oor Israel gesalf, net soos die Here deur Samuel belowe het.
Dawid neem Jerusalem in
4Dawid en die hele Israel het opgetrek teen Jerusalem, of soos dit vroeër genoem is, Jebus. Die Jebusiete, oorspronklike bewoners van die land, het daar gewoon. 5Die inwoners van Jebus het vir Dawid gesê: “Jy sal nooit hier inkom nie.” Maar Dawid het die bergvesting Sion ingeneem. Dit is wat nou die stad van Dawid genoem word.
6Dawid het vir sy soldate gesê: “Wie ook al die aanval teen die Jebusiete lei, sal hoof van my weermag wees!” Joab, die seun van Dawid se suster Seruja, het die aanval gelei. So het hy hoof van Dawid se weermag geword.
7Dawid het die bergvesting sy woning gemaak; daarom noem hulle dit die Stad van Dawid. 8Hy het die stad uitgebrei van die Millo#11:8 Of die ondersteunende terrasse. Die grondteks se betekenis is onduidelik. af reg in die rondte, terwyl Joab die res van die stad herbou het. 9En Dawid het al magtiger geword omdat die Here, die Almagtige, altyd met hom was.
Dawid se magtigste manne
10Dit is die leiers van Dawid se magtigste manne. Hulle was getrou aan Dawid en het hom saam met die hele Israel koning gemaak, net soos die Here vir Israel belowe het.
11Hier is die lys van Dawid se magtigste manne: Die eerste is Jasobam, die Gakmoniet, die aanvoerder van die Drie, die drie grootste soldate tussen Dawid se manne#11:11 Grondteks aanvoerder van die Dertig, of aanvoerder van die kapteins. Hier soos in Griekse weergawe. Vgl 2 Sam 23:8.. Hy het eenkeer met sy spies 300 soldate van die vyand in ’n enkele geveg doodgemaak.
12Volgende tussen die Drie was Eleasar, seun van Dodo#11:12 Dodo is ’n variante naam vir Dodai. Vgl parallelle teks in 2 Sam 23:9. Ook 1 Kron 27:4., ’n afstammeling van Agoag. 13Hy was saam met Dawid in die geveg teen die Filistyne by Efes-Dammim. Die geveg het plaasgevind in ’n stuk land vol gars, en die Israelitiese soldate het vir die Filistyne gevlug. 14Maar hulle het in die middel van die stuk land gaan staan en die Filistyne teruggejaag. So het die Here hulle deur ’n groot oorwinning gered.
15Eenkeer terwyl Dawid naby die grot van Adullam was, het die Filistynse weermag in die Refaimvallei uitgekamp. Die Drie, deel van die Dertig wat Dawid se elitegevegsgroep was, het afgetrek om by hom te wees. 16Dawid het toe in die bergvesting gaan bly, want ’n deel van die Filistynse leër het Betlehem beset. 17Dawid het verlangend gesê: “Ag, hoe wens ek dat ek van die goeie water van die put in Betlehem kan kry, die put by die ingang!”
18Die Drie het toe deur die laer van die Filistyne gebreek, water uit die put van Betlehem wat by die poort was, geskep en dit vir Dawid gebring. Dawid het geweier om dit te drink. Hy het dit voor die Here uitgegiet. 19“Mag God my daarvan bewaar dat ek dit sou drink!” het hy uitgeroep. “Hierdie water is net so kosbaar as die bloed van die manne wat hulle lewe gewaag het om dit vir my te bring.” Dawid het dit nie gedrink nie. Dit is ’n voorbeeld van wat die Drie gedoen het.
Dawid se dertig magtigste manne
20Abisai, die broer van Joab, was die leier van die Dertig#11:20, 21 Grondteks die Drie. Hier soos in Siriese weergawe.. Hy het eenkeer met sy spies 300 soldate van die vyand doodgemaak. Dit was oor sulke kordaatstukke dat hy net so bekend geword het as die Drie.
21Abisai was die bekendste van die Dertig#11:20, 21 Grondteks die Drie. Hier soos in Siriese weergawe. en was hulle aanvoerder, alhoewel hy nie een van die Drie was nie.
22Dan was daar ook Benaja, seun van Jojada, ’n dapper soldaat uit Kabseël. Hy het baie heldhaftige dinge gedoen. So het hy twee van Moab se grootste helde doodgemaak. ’n Ander keer het hy ’n leeu in ’n gat afgejaag. Ten spyte daarvan dat daar sneeu geval het, het hy die leeu gevang en doodgeslaan. 23Op ’n ander keer het hy ’n Egiptiese soldaat wat amper twee en ’n half meter#11:23 Grondteks vyf el. lank was en wie se spies so dik soos ’n wewersbalk was, met net ’n stok doodgemaak. Benaja het die spies uit sy hand geruk en hom met sy eie spies doodgesteek. 24Dit is een van die heldedade wat Benaja so bekend soos die Drie gemaak het. 25Hy was meer geëerd as die ander lede van die Dertig, maar hy was nie een van die Drie nie. Dawid het hom aanvoerder van sy lyfwag gemaak.
26Hierdie manne is ook ingesluit onder die magtige manne van Dawid: Asael, die broer van Joab; Elganan, seun van Dodo, uit Betlehem; 27Samma van Garod; Geles van Pelet; 28Ira, seun van Ikkes van Tekoa; Abiëser van Anatot; 29Sibbekai van Gusa; Ilai van Agoag; 30Marai van Netofa; Geled#11:30 Grondteks Heldai, ’n variante naam vir Geled. Vgl 2 Sam 23:29., seun van Baäna van Netofa; 31Itai, seun van Ribai, uit Gibea van die stam van Benjamin; Benaja van Piraton; 32Hiddai, van naby Nagale-Gaäs#11:32 Of van die klowe van Gaäs.; Abi-Albon, die Arabatiet; 33Asmawet van Bagurim; Eljagba van Saälbon. 34Die seuns van Jasen van Gison; Jonatan, seun van Sage van Harar; 35Agiam, seun van Sarar van Harar; Elifal, seun van Ur; 36Gefer van Mekera; Agija van Pelon; 37Gesro van Karmel; Naärai, seun van Esbai; 38Joël, broer van Natan; Mibgar, seun van Hagri; 39Selek van Ammon; Nagrai van Beërot, wapendraer van Joab, seun van Seruja; 40Ira van Jeter; Gareb van Jeter; 41Urija, die Hetiet; Sabad, seun van Aglai; 42Adina, seun van Sisa, die Rubeniet, leier van 30 manne saam met hom; 43Ganan, seun van Maäka; Josafat van Mitna; 44Ussia van Astarot; Sama en Jeïel, seuns van Gotam van Aroër; 45Jediael, seun van Simri; Joga, sy broer van Tis; 46Eliël van Magawi; Jeribai en Josauja, seuns van Elnaäm; Jitma van Moab; 47Eliël en Obed; Jaäsiël van Soba.

Currently Selected:

1 KRONIEKE 11: NLV

Highlight

Share

Copy

None

Want to have your highlights saved across all your devices? Sign up or sign in

YouVersion uses cookies to personalize your experience. By using our website, you accept our use of cookies as described in our Privacy Policy