Een lewe: 'n Studie van integriteit in HebreërsVoorbeeld

Een lewe: 'n Studie van integriteit in Hebreërs

DAG 5 VAN 15

Dag 5: Stuur my

Hoe vreemd en wonderlik is dit dat God ’n vraag sou vra. Wat sou Hy graag wou weet? In hierdie oomblik saam met Jesaja is God op soek na iemand wat Hy kan uitstuur. Natuurlik is dit nie omdat Hy nie weet wie sal gaan nie. Hy rig ‘n uitnodiging, nie ’n bevel nie — aan dié wie se harte gereed is daarvoor.

God kon maklik die engele beveel het om sy wil uit te voer, maar Hy kies eerder om gewillige mense te gebruik — mense wat “ja” sal sê.

Jesaja het onmiddelik gereageer. Daar was geen huiwering nie. Hy wou die antwoord wees op God se vraag. Waar kom hierdie bereidheid vandaan? Net oomblikke tevore het hy die oorweldigende heerlikheid van God ervaar — ’n oomblik wat hom vir altyd verander het. In God se teenwoordigheid was die mees natuurlike reaksie om oor te gee aan Hom – om ja te sê vir sy uitnodiging.

Jesaja se hele lewe het binne ‘n oomblik verander. Die volmaaktheid wat hy ontvang het, het dadelik gelei tot ’n herstelde doel en betekenis. Hy het ’n lewende voorbeeld geword van wat dit beteken om deur God se teenwoordigheid verander te word.

En hy het geweet: ander het dieselfde ervaring nodig. In die lig van God se genade teenoor hom, het Jesaja gekies om terug te gaan na die volk en te deel wat hy gesien en ervaar het. Wat het hom gekwalifiseer om namens God te gaan? Niks, behalwe dat hy God gesien het — en deur Hom verander is. Sy gesag het nie uit persoonlike verdienste of godsdienstige kwalifikasies gekom nie, maar vanuit ’n goddelike ontmoeting.

Wanneer ons God se roeping ervaar, kyk ons dikwels onmiddellik na binne en meet ons eie gereedheid of karaktergroei. Dis maklik om onsself dan te diskwalifiseer. Die bevrydende waarheid is egter: God wil ons persoonlike ervaring van verandering gebruik as ’n boodskap wat ander tot transformasie lei.

Dawid het dit verstaan. Ná sy donkerste oomblik het hy besef dat sy eie herstel nie net vir homself bedoel was nie — dit was ’n gawe wat God wou gebruik om ander na Hom toe te trek.

Gebedsrefleksie

Here, hier is ek — nie omdat ek waardig is nie, maar omdat ek u heerlikheid gesien het en deur u genade verander is. Here, hier is ek; stuur my! Amen.

Aangaande hierdie leesplan

Een lewe: 'n Studie van integriteit in Hebreërs

In Hebreërs ontmoet ons die Lewende Een wat in die middel van God se verhouding met die mensdom staan. Hier ontdek ons God se liefde in sy belofte om ons te herstel en aan ons ’n oorwinnende lewe te gee. Hierdie 15-dae leesplan neem ons op ’n reis — van moegheid na rus, van vervreemding na ’n plek waar ons behoort, en van alleenwees na die uitnodiging om deel te wees van God se familie.

More

Ons wil graag Doxa Deo bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.doxadeo.org