As ek weer kon sêVoorbeeld

As ek weer kon sê

DAG 5 VAN 5

Dag 5: As ek dit weer kon sê

Elkeen van ons was al oor ons woorde spyt. Almal het al gewens dat jy eerder iets anders gesê het. Alle mense wens om ‘n tweede kans met ons woorde te kry. Ongelukkig kan niks wat ons doen woorde terug trek nie. Dis soos om tandepasta by ‘n buisie uit te druk. As dit uit is, is dit uit en klaar. Moenie dit probeer terug druk nie – dit is net ‘n gemors.

In hierdie leesplan het ons diep gedelf in die tema van woorde. Ons het gesien dat woorde vir mense verskillend weeg; en dat die rol wat ons beklee baie keer bepaal hoe ernstig mense ons woorde opneem. Ons het gesels hoe om nie ongemaklike stiltes te verbreek nie, en ook om seker te maak wie die persoon is wat praat.

Vandag is die reis meer persoonlik. Dink aan ‘n keer toe jou woorde werklik in iemand se lewe krag gedra het. Hoe het dit gevoel toe jy die invloed van jou woorde sien? Watter effek het dit op jou en die ander persoon gehad?

Dank God vir daardie woorde. Dank God dat hy jou in daardie oomblikke gebruik het.

Dink nou aan ‘n keer toe jy iets gesê het wat jy nou voel jy eerder nie moes gesê het nie. Dink aan die impak wat dit gehad het. As jy nou aan daardie oomblik terugdink, waarom het jy dit gesê? Hoe het dit jou laat voel toe jy die impak van jou woorde sien?

Dank God vir sy vergifnis (selfs al het daardie persoon jou nie vergewe nie). Dank God dat Hy ook deur woorde herstel kan bring.

Dank God vir die feit dat Hy altyd weer met mense genade het – ook met jou.

Jakobus herinner ons dat woorde krag het. Hy praat van ons tonge, dat dit klein is, maar tog oor baie krag beskik.

Vra vir God hoe jy jou woorde kan gebruik om ander op te bou. Hoe wil God jou woorde vir die opbou van ander gebruik?

Paulus gee vir sy vriende in die stad Kolosse goeie raad oor hoe ons woorde kan help om ‘n verskil in ander se lewens te maak. Hy vra dat hulle vir hom sal bid. Gebed help ons om ons eie woorde en bedoelings daarvan te suiwer. Verder sê hy dat woorde altyd vriendelik moet wees. Vriendelike woorde getuig van God se liefde in ons lewens. Wanneer jy so leef, sal dit ook getuig van God se liefde in jou lewe.

Gebed:

Here, help my om met die regte woorde die toekoms in te gaan. Lei my, Heilige Gees, dat my woorde sal getuig van U wat binne-in my woon. Amen.

Aangaande hierdie leesplan

As ek weer kon sê

By Kerksondermure wil ons graag sien dat elke gelowige die Jesuslewe ontdek wanneer dit by woorde kom. Woorde dra krag. Woorde kan lewens verryk of breek. In hierdie reeks staan ons stil by wat die Woord van God oor woorde sê. Mag jy die Jesuslewe ontdek wat jou woorde betref.

More

Ons wil graag Kerksondermure bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.ksm.co.za