As ek weer kon sêVoorbeeld

As ek weer kon sê

DAG 1 VAN 5

Dag 1: Woorde dra gewig

Ons verstaan nie altyd die mag van ons woorde nie. Iets wat ons dink ligtelik gesê kan word, het soms ‘n baie negatiewe impak. Woorde dra gewig, en ons besef dit eers wanneer ons die reaksie sien van die een wat aan die ontvangkant van daardie woorde is.

Woorde dra nie dieselfde gewig vir alle mense nie. Wat vir die een aanvaarbaar is om te hoor, is nie vir die ander een aanvaarbaar nie. Ons besef nie altyd watter impak ons woorde het nie. Daarom moet ons ons woorde weeg.

Hierdie leesplan kan jou help om jou woorde te weeg. Daar is twee woorde wat jy gereeld in hierdie reeks gaan raak lees. Wysheid en onderskeiding.

Wysheid is om te weet dat elke ding wat waar is nie altyd en op elke oomblik gesê hoef te word nie. Onderskeiding leer ons die tydsberekening om belangrike woorde te sê.

Die wêreld het dit nodig dat jy wysheid sal hê en kan onderskei wanneer om iets te sê. Die wêreld het nodig dat alle dissipels van Jesus só leef. Om die waarheid te sê, een van die kenmerke van volwasse dissipels van Jesus, is dat hulle bereid is om met wysheid te leef en hul woorde met onderskeiding te gebruik.

In Matteus 12 sien ons dat Jesus met dié rondom Hom gesels hoe om verantwoordelik te leef en dat mense aan hul dade geken word. Hy herinner hulle dan daaraan dat ons ook aan ons woorde geken word, en daarvolgens geoordeel word. Jesus verwys na ligsinnige woorde. In hierdie geval het dit te make met woorde wat ondeurdag gesê is.

Jesus herinner diegene om Hom, en ook vir ons, dat alle woorde gewig dra.

Weeg jou woorde. Raak stil in jou gees en vra vir God hoekom jy wil sê wat jy dink om te sê. Wanneer jy jou woorde dan weeg, sal jy kan onderskei of dit gesê moet word of nie.

Gebed:

Here, ek sukkel soms om my woorde reg te weeg. Soms besef ek eers nádat ek iets gesê het dat hierdie woorde swaarder geweeg het as wat ek besef het. Leer my om met wysheid te dink oor wat ek sê en te onderskei wanneer om iets te sê. Heilige Gees, dankie dat U my in alles lei. Amen.

Dag 2

Aangaande hierdie leesplan

As ek weer kon sê

By Kerksondermure wil ons graag sien dat elke gelowige die Jesuslewe ontdek wanneer dit by woorde kom. Woorde dra krag. Woorde kan lewens verryk of breek. In hierdie reeks staan ons stil by wat die Woord van God oor woorde sê. Mag jy die Jesuslewe ontdek wat jou woorde betref.

More

Ons wil graag Kerksondermure bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.ksm.co.za