As ek weer kon sêVoorbeeld

As ek weer kon sê

DAG 2 VAN 5

Dag 2: Wie iets sê

As my ma sê wat ek geskryf het is goed, laat dit my goed voel. Wanneer die Nobel pryswenner in Literatuur sê ek skryf goed, sal ek só goed voel asof ek self die prys kon wen. Ek ontmoet nie elke dag sulke skrywers nie. My ma, aan die ander kant, is deel van my lewe.

Wanneer ‘n Oscar-wenner sê ek kan toneel speel, dan neem ek dit baie ernstig op. Wanneer my klein boetie sê my optrede op die verhoog was goed, sal dit dalk minder gewig vir my dra. Tog, my klein boetie gaan waarskynlik lank 'n deel my lewe wees.

Die invloed van woorde, hang af van wie dit sê. Ons heg waarde aan sekere woorde omdat dit deur iemand gesê word wat vir ons spesiaal is.

Daarom moet ons sekermaak dat ons die impak besef voordat ons stellings maak. Wanneer ons met iemand gesels, moet ons ondersoek instel wat die impak van ons rol in die persoon se lewe is. Baie keer het ons weens ons rol in die samelewing of elders, ‘n baie groter impak op ander as wat ons besef. Dis nie net wat ons sê wat belangrik is nie, maar ook die rol waarin ons is wanneer ons iets sê.

Wie ons is dra ook krag en kan ‘n wonderlike of negatiewe impak op iemand hê.

In 1 Konings 19 lees ons dat Elia sy opvolger roep om hom te volg – dit was Elisa. Ons lees dat Elisa dit ernstig opneem. Hy los alles, en nadat hy sy ouers gaan groet het, volg hy dadelik vir Elia. Hy neem dit ernstig op omdat Elia die bekendste profeet in die land was.

Elia het egter hierdie roeping óók ernstig opgeneem. As mentor leer hy vir Elisa hoe om God en die volk te dien. Wanneer Elia vir Elisa roep, wil Elisa eers teruggaan. Elia verhoed hom nie. Elia verstaan dat Elisa sekere aspekte van sy lewe in plek moet stel voordat hy hom kan volg. Elia kon vir hom sê: “Ag los dit. Jy wil my nie volg nie.” Maar hy sê vir hom die volgende: “Ek verhoed jou nie.”

Elia weet dat sy woorde krag dra omdat hy ‘n profeet is. Daarom weet hy hoe om te kommunikeer.

Wie jy is wanneer jy iets sê, is net so belangrik soos die woorde wat jy sê. Maak seker jy verstaan wie jy is en watter impak jou woorde gaan hê.

Gebed:

Here, ek wil graag verstaan hoe diegene wat na my opsien my woorde verstaan. Help my om in deernis en liefde met almal te praat. Leer my om soos Elia te verstaan wie ek is wanneer ek iets sê. Amen

Aangaande hierdie leesplan

As ek weer kon sê

By Kerksondermure wil ons graag sien dat elke gelowige die Jesuslewe ontdek wanneer dit by woorde kom. Woorde dra krag. Woorde kan lewens verryk of breek. In hierdie reeks staan ons stil by wat die Woord van God oor woorde sê. Mag jy die Jesuslewe ontdek wat jou woorde betref.

More

Ons wil graag Kerksondermure bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: www.ksm.co.za