Dave Ramsey se Finansiële Wysheid uit SpreukeVoorbeeld

Dag 10: Integriteit Maak Saak
In sy boek "The Millionaire Mind", het dr. Thomas J. Stanley die gewoontes van 'n paar honderd individue met 'n netto waarde van minstens R180 miljoen bestudeer. Hy wou graag uitvind wat die tipiese karaktertrekke van ‘n miljoenêr is en enige gemeenskaplike kenmerke ontbloot wat tot hul rykdom bygedra het.
Terwyl hy die resultate van sy onderhoude en opnames ondersoek het, het Stanley 'n besliste verband tussen persoonlike integriteit en finansiële sukses gevind. Trouens, hy het integriteit as 'n primêre voorspeller van welvaartspotensiaal aangewys — selfs hoër as 'n individu se gekose besigheid of bedryf.
Met ander woorde, integriteit maak saak!
Die rede waarom so baie mense sukkel met die bou van rykdom, is dat hulle ook met integriteit sukkel. Hulle het nie 'n basiese verbintenis tot eerlikheid nie. Dit is 'n kras stelling. Trouens, dit kan so kras wees dat jy dink dit is nie op jou van toepassing nie. As jy egter asemhaal en as jou hart klop, het jy die een of ander tyd gestoei om heeltemal eerlik te wees — en sommige van daardie stryd het waarskynlik iets met geld te doen gehad.
Eenvoudig gestel, daar is twee maniere om geld te verdien en welvaart te bou. Jy kan op oneerlikheid staatmaak, of jy kan heeltemal toegewyd aan integriteit bly. In Spreuke 13:11 het Salomo 'n skerp kontras tussen die twee getrek.
Oneerlike geld kom baie makliker in, maar dit hou nie lank nie. Dit kwyn weg soos sand wat deur ons vingers loop. Eerlike geld egter, verkry deur harde werk en belegging, groei met die verloop van tyd. Dit bied sekuriteit — om nie eens te praat van 'n skoon gewete nie.
Integriteit maak saak — in jou finansies en in elke ander area van jou lewe — want 'n morele verval is nie 'n slagofferlose misdaad nie. Oneerlikheid sal jou, asook diegene om jou, ernstige leed aandoen. Tensy jy jouself aan 'n ultra-hoë standaard hou, sal jy met 'n emosionele en geestelike mankheid deur die lewe stap.
Gelukkig is dit nie te laat om jou koers reg te stel nie. As jy in die verlede suinig was met integriteit, is dit nou die tyd om dit te erken — aan jouself, aan ander en aan God. Herstel vandag daardie swak plek in jou wapenrusting.
Onthou, integriteit maak saak!
As jy hierdie leesplan geniet het en graag nuttige artikels, motiverende verhale en nog nuttige hulpbronne wil ontvang, teken aan by daveramsey.com/newsletters .
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Dave Ramsey is iemand met 'n gesaghebbende mening oor geld en besigheid in Amerika. Ná sy eie bankrotskap op 30-jarige ouderdom het Dave besluit om God se metodes te ondersoek om geld te hanteer. Dave wy hom nou daaraan toe om ander te leer hoe om verantwoordelik met hul geld te wees sodat hulle 'n vrygewige lewe kan lei en 'n nalatenskap vir toekomstige geslagte kan agterlaat.
More