Oorweldig deur My Seëninge: Aanmoediging vir Mammas (Deel 4)Voorbeeld

Overwhelmed by My Blessings: Encouragement for Moms (Part 4)

DAG 2 VAN 5

Hoe sal ek ooit my kinders alles kan leer wat hulle moet weet? Wat as ek hulle in die verkeerde skool geplaas het, of 'n sport waarin hulle dalk kon uitblink, laat mis het? Wat as hulle veronderstel was om 'n musikant te wees en ons nie die nodige middele gehad het vir hulle om lesse te neem nie? Wat as ek nie genoeg vir hulle is nie? Wat as ek hulle ruïneer?

Ons is die ma's. Ons is veronderstel om daar te wees vir hulle en seker te maak dat hulle in die regte rigting beweeg en nie misluk nie. Reg?

Ons oneindige vrese en angs om “net die regte ma” te wees,  om die fondamente te lê en die regte geleenthede te voorsien, is uitputtend. Ons hoop dat hulle nie as gevolg van óns hul volwasse jare op 'n terapeut se bank hoef deur te bring nie. Dit is alles oorweldigend en laat ons die toekoms bevraagteken.

Op een of ander manier is ons gekondisioneer om te glo dat 'n ma alles is. Perfek. Pinterest perfek. Ons weet ons eie ma's kon nie aan daardie verwagting voldoen nie, tog het ons die idee dat ons anders sal wees. Beter.

Wag 'n bietjie. Ek het nuus vir jou. Jy is nie genoeg nie.

Het jy nou na jou asem gesnak? Haal diep asem en sê dit saam met my: "Ek is nie genoeg vir my kinders nie."

Dit is in orde. Méér as in orde, en hier is die rede: as ons genoeg was vir ons kinders, sou hulle nie vir Jesus nodig gehad het nie! Ons is vir 'n kort tydjie aan hulle gegee om sy liefde aan hulle te betoon, om hulle sy weë te leer en om hulle groot te maak op die weg wat hulle moet gaan — om tot Hom te nader! Dit is 'n hoë roeping, groter as enige ander. Die beste nuus is dat Hy ons kinders selfs meer as ons liefhet, wat onmoontlik lyk. Hy sal seker maak dat hulle alles leer wat hulle nodig het, alles het wat hulle nodig het, en alles ís wat hulle nodig het. Want  Hy is genoeg!

Hopelik gee daardie besef en verklaring aan jou 'n bietjie nuutgevonde vryheid! Maak 'n nota om gereeld na te kyk: Ek is nie genoeg nie, maar Hy is! Mag jy ophou om jouself te kasty, jou skuld te dra, en eerder vandag in vryheid begin wandel.

“Daar is geen hoër roeping in die lewe as die taak om die kinders te dra en groot te maak wat God aan ons sorg toevertrou het nie.” ~ Dr James Dobson

Vader, dankie dat U genoeg is. Help my om in daardie waarheid te rus, deur te glo dat U my vooruit gegaan het en 'n weg vir my kinders maak, selfs nou. Help my om in die vryheid te leef dat ek nie genoeg is nie, maar dat U meer as genoeg is! Mag u vrede en teenwoordigheid my hart oorstroom terwyl ek in U rus en U vertrou met die toekoms van my kinders.

Aangaande hierdie leesplan

Overwhelmed by My Blessings: Encouragement for Moms (Part 4)

Aanmoeding vir ma's, van 'n ma wat sewe kinders grootgemaak en dit oorleef het om die storie te vertel. Deel 4 van 12 in hierdie reeks van oordenking-leesplanne deur Robin Meadows.

More

Ons wil Robin Meadows graag vir die verskaffing van hierdie leesplan bedank. Vir meer inligting, besoek asseblief: http://Instagram.com/manymeadows