Om die Skrif te kenVoorbeeld

Hiperbool, Metafoor en Personifikasie
Behoorlike Bybelse interpretasie vereis dat ons basiese literêre vorme in ag neem wanneer ons 'n Skrifgedeelte lees. Gister het ons gekyk na die Bybel se gebruik van fenomenologiese en antropomorfiese taal. Vandag sal ons ons tyd wy aan drie ander basiese literêre vorme wat regdeur die Skrif voorkom.
Hiperbool. 'n Hiperbool is 'n opsetlike oordrywing wat gebruik word om iets baie duidelik te stel. Dit is nie dieselfde as 'n leuen of 'n verdraaiing nie, want die spreker verwag van sy gehoor om te verstaan hy oordryf die waarheid ter wille van duidelikheid — nie dat hy 'n spesifieke feitestelling gee nie. Een duidelike voorbeeld van 'n hiperbool in die Skrif is Jesus se gelykenis oor die mosterdsaad (Matteus 13:31-32). In hierdie gelykenis sê Hy die mosterdsaadjie is die kleinste van al die saadjies. Dit is egter welbekend dat daar pitte kleiner as die mosterdsaad is. Dus, as ons nie die gebruik van hiperbool verstaan nie, kan ons dink dat Jesus dwaling leer. Die hiperbool demonstreer egter dat Jesus se primêre doel in hierdie gelykenis nie is om 'n presiese, feit in tuinbou te gee nie. Hy wys eerder daarop dat die koninkryk van God baie klein begin, maar baie groot sal word.
Metafoor. Dit is beeldspraak waar na iets figuurlik gesproke verwys word, maar wat nie letterlik die geval is nie. Een voorbeeld hiervan in die Bybel is wanneer Jesus oor Homself sê: “Ek is die deur vir die skape” (Johannes 10:7b NLV). In hierdie stelling beweer Jesus nie dat Hy van hout gemaak, skarniere het, ensovoorts nie. Hy gebruik die woord “deur” om aan sy dissipels te verduidelik dat Hy die ingang na die teenwoordigheid van God is, net soos gewone deure ingang na huise, lokale ensovoorts is.
Personifikasie. Personifikasie vind plaas wanneer persoonlike vorme van beskrywing vir onpersoonlike dinge gebruik word. Wanneer ons dus menslike eienskappe aan voorwerpe oordra, is dit personifikasie. ’n Goeie voorbeeld hiervan is in Jesaja 55:12. Hierdie vers praat van berge wat sing en bome wat hande klap. Natuurlik dink Jesaja nie die berge sal letterlik sing of die bome letterlik hande klap nie. Hy gebruik eerder poëtiese bewoording om die geweldige vreugde duidelik uit te druk wat na die hele wêreld sal kom wanneer die volk van God hul bekeer en na die Here terugdraai.
CORAM DEO: Om in die teenwoordigheid van God te lewe
Baie kritici lees die Bybel anders as wat hulle ander boeke lees. Gedeeltes soos Matteus 13:31-32 word dus soms verkeerdelik as voorbeelde van foute beskou. Herinner die kritici dat jy weet die Bybel is 'n literêre werk, en, soos alle ander werke, moet ons dit lees met 'n begrip van hiperbool, metafoor en personifikasie in gedagte.
Skrif
Aangaande hierdie leesplan

Die Bybel is so geskryf dat enige iemand dit kan lees en die wesentlike mening daarvan sal verstaan. Die Woord van God moet egter met sorg hanteer word, want as dit verkeerd vertolk word, kan dit misverstande of verwarring veroorsaak. Hierdie 5-dag leesplan verskaf hulpmiddels vir die metodiese interpretasie van heilige tekste.
More