Om die Skrif te kenVoorbeeld

Knowing Scripture

DAG 1 VAN 5

Hermeneutiek

Die Woord van God bereik die doel van God self. Soms lyk dit of die Woord langer neem om sy doel te bereik as op ander tye. Dit is nie te wyte aan enige tekortkoming in die Bybel self nie, maar die gevolg van ons onervarenheid om die Skrif reg te hanteer. As ons weet hoe om die Bybel korrek te interpreteer, beïnvloed die Skrif ons lewens vinniger en meer betekenisvol.

Al die wetenskappe het reëls en metodes wat bepaal hoe daardie wetenskap na behore funksioneer. Bybelse interpretasie is nie anders nie; daar is reëls wat ons moet volg om die Skrif reg te verstaan. Die wetenskap om die Bybel te interpreteer word “hermeneutiek” genoem.

Een algemene benadering in die veld van hermeneutiek, word die "eksistensiële metode van interpretasie" genoem. In hierdie benadering word die teks nie as die Woord van God op sigself beskou nie. Dit is eerder net 'n manier waarop God 'n direkte, onmiddellike ontmoeting met ons siele het. In die eksistensiële benadering is wat God deur die Bybel sê nie altyd dieselfde as wat die teks sê nie. Hierdie benadering beteken dat die teks totaal verskillende dinge vir verskillende mense kan beteken, gebaseer op die leser se kennis.

Ons ontmoet God inderdaad direk in die bladsye van Heilige Skrif, maar dit is omdat die woorde op die bladsye die woorde van God self is. Omdat die Woord van God waar is, kan daar net een moontlike oorspronklike betekenis vir elke Bybelse teks wees. Hierdie betekenis sal vir ons dieselfde wees as vir die oorspronklike gehoor duisende jare gelede, want die waarheid daarvan verander nie. Ons verskillende kulturele agtergronde mag daartoe lei dat die presiese toepassing vir ons anders is, maar nooit die betekenis van die teks nie. As ons die een ware betekenis van die teks wil vind, moet ons die "taalkundig-historiese metode" volg. Hierdie hermeneutiese benadering ondersoek die oorspronklike kulturele agtergrond van die teks en fokus op taal en sintaks om te verstaan wat die skrywer van die teks bedoel het toe hy aan sy oorspronklike gehoor geskryf het. Slegs hierdie metode kan vir ons die oorspronklike betekenis van die Bybelteks gee. Anders sit ons met 'n gevaarlike persoonlike interpretasie wat die waarheid self kan ontken.

CORAM DEO: Om in die teenwoordigheid van God te lewe

As ons die bedoeling van die skrywer ignoreer, kan die Bybel beteken wat ons ook al wil hê dit moet beteken. Verdeeldheid in die kerk, kultiese groepe, radikale persoonlike interpretasies en ons eie Skrifverdraaiing getuig alles hiervan. Wanneer jy die Bybel dus bestudeer, ondersoek Bybelwoordeboeke en kommentare sodat jy die skrywer en sy gehoor beter kan verstaan.

Kopiereg © Ligonier Ministries

Aangaande hierdie leesplan

Knowing Scripture

Die Bybel is so geskryf dat enige iemand dit kan lees en die wesentlike mening daarvan sal verstaan. Die Woord van God moet egter met sorg hanteer word, want as dit verkeerd vertolk word, kan dit misverstande of verwarring veroorsaak. Hierdie 5-dag leesplan verskaf hulpmiddels vir die metodiese interpretasie van heilige tekste.

More

Ons wil graag Ligonier Ministries bedank vir die verskaffing van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.ligonier.org/youversion