Leesplan inligting

Geloof Bo VolmaaktheidVoorbeeld

Geloof Bo Volmaaktheid

DAG 13 VAN 43




Lees: Genesis 18:1–15


SOAP: Genesis 18:14


Is iets te buitengewoon vir die Here? Op die vasgestelde tyd sal Ek terugkom. Volgende jaar hierdie tyd sal Sara 'n seun hê.




Oordenking


Alhoewel dit vreemd mag lyk dat die skrywer van Genesis so ‘n gedetailleerde beskrywing verskaf van Abraham wat ‘n maaltyd vir sy drie besoekers voorberei, lei hierdie gebeurtenis ‘n bespreking in wat deurgaans in die geskiedenis van die verhaal van God se volk voorkom. Ons sal sien watter noue verband daar tussen gasvryheid en God se verbond bestaan, en hoe die morele gesteldheid van God se volk (en ander volke) deur hulle optrede teenoor uitlanders en vreemdelinge weerspieël word. 


Toe die besoekers by Abraham se tent opdaag, het hy onmiddellik begin voorbereidings tref vir ‘n maaltyd, en dit was allesbehalwe afgeskeep. Dit word geopenbaar dat die besoekers Goddelik was. Daar is onsekerheid of dit ‘n drieledige manifestasie van God, of van God en twee engele was. Ongeag, God het Abraham besoek en ‘n maaltyd saam met hom genuttig. 


Dwarsdeur die Skrif was gemeenskaplike maaltye ‘n aanduiding van gemeenskap en dikwels ‘n manier om ‘n verbond te bevestig. Jesus het sy laaste maaltyd saam met sy dissipels geëet en daardeur die Nuwe Verbond bevestig wat Hy met sy dood en opstanding sou inlui. Ons deel steeds vandag hierdie verbondsmaal wanneer ons aan die nagmaal deelneem. Toe Abraham hierdie maaltyd saam met God genuttig het, was dit ‘n aanduiding van die hegtheid van die verhouding tussen hulle. Die verbond wat God met Abraham gesluit het, is weer eens deur hierdie gemeenskaplike maaltyd bevestig. 


Hierdie gebeurtenis het plaasgevind kort nadat God in Genesis 17 die verbond met Abraham bevestig het. Albei kere het God belowe dat Sara, Abraham se onvrugbare en na-menopousale vrou, ‘n seun sou hê. Toe Sara lag oor die Here se bevestiging van die belofte, het God haar herinner Wie die belofte gemaak het. Net Hy is in staat om die onmoontlike te vermag.


Die Hebreeuse woord in Genesis 18:14 wat dikwels met onmoontlik vertaal word, beteken ook wonderlik, buitengewoon of ongelooflik. As God iets so wonderlik, buitengewoon of onmoontlik vir Abraham en Sara kon doen, wat sou Hy bereid wees om vir jou doen? Hy is steeds die God wat wonderwerke doen. Hy doen steeds die onmoontlike, selfs as ons lag. Niks is vir die Here te buitengewoon om in jou lewe te doen nie. Is jy bereid om Hom te glo?




Gebed


Here God, ek weet niks is vir U onmoontlik nie. U kan wonderlike, buitengewone en ongelooflike dinge in my lewe doen. Ek loof U vir die wyse waarop U al onmoontlike dinge vir my gedoen het. God, laat my geloof steeds toeneem namate ek U vertrou, selfs vir die onmoontlike. Want niks is onmoontlik, niks is te buitengewoon vir U nie. Amen.



Dag 12Dag 14

Aangaande hierdie leesplan

Geloof Bo Volmaaktheid

Wat vra God van ons? Dis ‘n vraag waarmee ons almal worstel. Al wat God vra is dat ons glo. "Geloof Bo Volmaaktheid" ondersoek die geloofslewens van Abram (later Abraham genoem) en sy seun Isak. Hulle was nie volmaak nie...

More

Ons wil graag Love God Greatly Afrikaans bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://lovegodgreatly.com/afrikaans/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid