Leesplan inligting

Ten volle Toegewyd: 'n InleidingVoorbeeld

Fully Devoted: An Introduction

DAG 10 VAN 14

Wat Is die Verhaal van die Bybel?



Die Bybel is 'n verhaal wat na Jesus lei, en ons dan verander om meer soos Hy te wees. Dit is die verhaal van God se verlossingsplan om die mensdom te red en die skepping te herstel, wat deur Jesus vervul word. 



Die verhaal van die Bybel begin met Genesis en eindig by Openbaring — en alles tussenin is deel van daardie groter verhaal. In sommige dele van die Bybel beweeg hierdie verhaal baie duidelik vorentoe, terwyl ander dele bedoel is om ons te help om God, onsself en die wêreld op 'n nuwe manier te sien — 'n manier wat die waarheid meer akkuraat weerspieël. 



Dit vind plaas oor ses groot handelinge:



 Skepping — Sondeval — Israel — Jesus — Die Kerk — Nuwe Skepping

Skepping (Genesis 1-2): Dit is die begin van God se verhaal. Hy skep alles, en Hy noem dit goed. Dan skep Hy die mens as sy beeld. Dit beteken dat ons op bladsy een van die Bybel met waardigheid, waarde en 'n doel geskep is. 



God het die mens geskape om in verhouding met Hom te lewe en saam met Hom te heers oor sy skepping. Hierdie deel van die verhaal eindig met die pragtige waarheid dat die eerste mense heeltemal kwesbaar was en hulle geen skaamte gevoel het nie. 



Sondeval (Genesis 3-11): Hierdie deel van die verhaal is waar alles verkeerd loop. Die eerste mense word in die tuin versoek en gee toe aan hul begeertes. God wou saam met hulle werk, maar hulle wou oor Hom heers. 



Hierdie oomblik van rebellie verwoes God se goeie skepping terwyl sonde binnedring en alles besmet. Hemel en aarde is uitmekaar geskeur. Ons sien die vernietigende aard van sonde, en hoe ons rebellie 'n skending was van die manier waarop dinge veronderstel was om te wees. 



Israel (Genesis 12 — Maleagi): Die res van die Hebreeuse Bybel (die Ou Testament) is die verhaal van God wat 'n koninkryk van menslike vennote tot stand bring wat saam met Hom werk deur te begin om vrede weer na die wêreld terug te bring. Dit begin met 'n man met die naam Abraham, wat God gebruik om 'n familie te bou wat uiteindelik 'n groot volk word. 



Namate die verhaal ontvou, sien ons hoe diep die korrupsie van sonde loop. Elke keer as dit lyk asof dinge regtig goed gaan, word iemand versoek deur status, rykdom of mag. 



God draai egter nooit sy rug op sy mense nie. Hy bly getrou. Hy is genadig en bied vergifnis, dit maak nie saak hoeveel keer sy mense struikel nie. Deur hierdie hele deel van die verhaal hou God aan om vir sy volk te sê dat daar 'n dag kom wanneer sonde oorwin sal word, vrede herstel word en al die volke erken dat die God van Israel die een ware God is. Die vraag bly egter staan: wanneer sal hierdie beloftes waar word? 



Jesus (Matteus — Johannes): God se beloftes word vervul wanneer Jesus, die God van hemel en aarde, die geskiedenis in menslike vorm binnekom. Hy bring goeie nuus: Die koninkryk van God is naby! 



Daardie goeie nuus is wat ons die evangelie noem — die aankondiging dat, deur Jesus, ons God weer Koning geword het; sy koninkryk kom op die aarde soos in die hemel; en almal het 'n uitnodiging na hierdie koninkryk.



Dit is die kern van die Bybelse verhaal: Jesus het gelewe, gesterf en opgestaan. Gevolglik is alles anders — sonde, dood en hel is ontwapen. As gevolg van Jesus is ons deur God se Gees vervul en herstel in ons plek as sy vennote.



Die Kerk (Handelinge —Judas): Voordat Jesus na die hemel opgevaar het, het Hy sy volgelinge beveel om voort te gaan met wat Hy begin het: om in vennootskap met God op te tree om die mensdom van sonde te red. Aan die kruis het Jesus die stryd teen sonde, dood en die hel gewen, maar daar is nog werk om te doen. God se koninkryk is gedeeltelik hier, maar nie heeltemal nie. Tot die dag waarop Jesus terugkom om te voltooi wat Hy begin het, is ons geroepe om Jesus getrou te dien. 



Ons rol is om 'n voorskou te gee van wat kom — wanneer hemel en aarde een word. Wanneer dit gebeur, sal God alle dinge nuut maak, boosheid sal uitgeroei word, en die kanker van sonde sal uiteindelik heeltemal verwyder word. 



Terwyl ons gretig uitsien na daardie dag, het ons ons naaste lief, ons doen wat reg is, en ons wandel nederig met God, in die wete dat niks wat ons vir Jesus doen ooit tevergeefs sal wees nie. 



Nuwe Skepping (Openbaring): Die einde van die Bybelse verhaal is nie dat God die oue uitgooi en die nuwe inbring nie. In plaas daarvan is dit God wat alle dinge nuut maak



Die verhaal eindig waar dit begin het — met 'n tuin genaamd Eden, waar hemel en aarde een is, en God by sy mense woon.Hierdie keer is Eden egter nie net 'n tuin nie. Hierdie keer sal Eden 'n ruim stad wees wat mense uit elke taal, stam en volk hul tuiste sal noem. 



Aangesien die einde net die begin is, sal die nuwe skepping vry wees van die verdorwe mag van sonde en in plaas daarvan gevul wees met die aanbidding van God. Bybelse skrywers sê vir ons dat dit so goed sal wees dat geen oog gesien, geen oor gehoor, en geen hart die dinge kon voorstel wat God vir diegene wat Hy liefhet, beplan nie. 



Die verhaal van die Bybel is die verhaal van God se verlossingsplan om die mensdom van sonde te red en die skepping te herstel. Dis ’n verhaal wat in Eden begin en eindig. Dit is die verhaal van God, ons en die wêreld. Dit is 'n verhaal waarvan ons almal deel is. Dit is ook 'n verhaal waarin ons almal 'n rol het om te speel. 



Joernaalvrae




  • Gegrond op vandag se leesstuk, skryf in jou eie woorde wat die evangelie is.

  • Verskil hierdie insig van die Bybel en die evangelie van wat jy voorheen gedink het? Hoe so?

  • Hoe verstaan jy jou rol in die verhaal van die Skrif?


Memoriseervers



“Ek gee julle 'n nuwe gebod: julle moet mekaar liefhê. Soos Ek julle liefhet, moet julle mekaar ook liefhê. As julle mekaar liefhet, sal almal weet dat julle dissipels van My is" Johannes 13:34-35.
Dag 9Dag 11

Aangaande hierdie leesplan

Fully Devoted: An Introduction

Wil jy groei in jou verhouding met God, die Bybel beter verstaan en leer hoe jy vandag vir Jesus getrou in ons wêreld kan volg? Met die Bybelse verhaal as ons gids, kom ons ontdek waarhede en ontwikkel vaardighede wat on...

More

Ons wil graag Life.Church bedank vir die voorsiening van hierdie leesplan. Vir meer inligting, besoek: https://www.life.church/ en www.go2.lc/fullydevoted

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid