Leesplan inligting

Moenie Vir Die Vyand ’N Plek Aan Jou Tafel Gee NieVoorbeeld

Moenie Vir Die Vyand ’N Plek Aan Jou Tafel Gee Nie

DAG 3 VAN 6

Die stryd om jou gedagtes


Hier is die waarheid: Jy is na die beeld van God geskep. Jy is bedoel vir groot dinge. Jy is ’n kind van die Koning, en God wil jou vrymaak van enigiets wat jou terughou. Dit is tyd dat jy erns maak daarmee om aanspraak te maak op die oorwinning in die stryd om jou gedagtes. 


Neem ’n oomblik om nugter en eerlik te ontleed of jy vir die duiwel ’n plek aan jou tafel gegee het. Jesus het ’n tafel voorberei voor die oë van jou vyande (Psalm 23:5). Die druk van die lewe is oral om jou, tog het jou almagtige God jou genooi om te kom sit. Die dinee is slegs vir jou en God. Wanneer jy die duiwel toelaat om aan te sit, begin hy die oorvloedige lewe wat vir jou bedoel is, verorber. En dan begin jy in die rigting van sonde en dood beweeg.


Dood in hierdie konteks is geestelike dood – nie ewige veroordeling vir gelowiges nie, maar die verwoesting van jou intieme verhouding wat jy bedoel was om ten volle met God te geniet. Niks kan jou van God se liefde skei nie (Romeine 8:38-39), maar volgelinge van Christus kan steeds weg van God af groei as gevolg van hul keuses. Met sonde in jou lewe verloor jy jou vrede, effektiwiteit, selfvertroue en blydskap. Jy leef beslis nie volgens jou Godgegewe potensiaal nie. Om dinge nog meer te kompliseer, kan jou eie gedagtes en gevoelens kombineer met sonde en versoeking in ’n spiraal, ’n skadelike patroon waar die vyand jou eie begeertes teen jou gebruik (Jakobus 1:13-15).


Ons leef op ’n slagveld. Ons is gemerk as die beeld van God en geteiken deur die vyand. Ons vyand haat God en wil alles wat God se beeld dra, verwoes. Wees bewus hiervan! Hy gaan probeer om jou op die pad na verwoesting te sit deur gedagtes in jou kop te sit wat die teenoorgestelde is van God se wil vir jou lewe. Dit sal jou weglok en aan jou knaag.


Ten spyte van die vyand se bose bedoelings moet jy nie bang of paranoïes raak nie. Onthou, “die Gees wat in julle woon, is magtiger as die gees wat in die wêreld woon” (1 Johannes 4:4). Tog kan jy nie met oogklappe deur die lewe gaan nie. Jou vyand is werklik. Een van die grootste maniere waarop hy werk, is deur onbelemmerde gedagtes. Dit is wat ons moet stop.


Jy het ’n oorwinning in Christus. Omdat Jesus reeds die oorwinning oor sonde behaal het, het jy ook toegang tot dié oorwinning. Sonde, versoeking en slegte denkrigtings hoef jou nie terug te hou nie. Die mag om vry te leef, kom uit jou nabye verbinding met Christus en sy oorwinning. Die stryd word gewen as gevolg van wie saam met ons deur die donker kloof loop en wie saam met ons aan tafel sit wanneer ons deur moeilikhede gaan.


In Christus is jy ’n nuwe skepping. Dit is wat ’n verbintenis met Jesus in ons lewe doen. Oorwinning begin deur jouself met die waarheid te omring. Jy is nie meer ’n slaaf vir die sonde nie. God sal vir jou ’n uitkoms gee. Jy hoef nie vir die vyand ’n plek aan jou tafel te gee nie. Wanneer jy versoek word om sonde te doen, is God getrou en sal Hy deur die Heilige Gees vir jou ’n uitweg gee – selfs wanneer jy heeltemal omring is deur versoeking. Die beste manier om sonde te vermy, is om op Christus te fokus en nie op die sonde nie.


Namate jy nader aan Jesus leef, sal jy besef dat jy God werklik kan vertrou. Jy sal kan terugkyk op jou lewe en die kere sien wat Hy jou uit gevaar gehou het. Hou jou oë op Christus.


NADINK-VRAE


Hoe het sonde jou as gelowige se verhouding met God beïnvloed?


Hoe het God al vir jou die oorwinning oor sonde en versoeking gegee?


Wat kan jy doen om jou oë op Christus te hou terwyl jy wegbeweeg van die sonde?

Dag 2Dag 4

Aangaande hierdie leesplan

Moenie Vir Die Vyand ’N Plek Aan Jou Tafel Gee Nie

Ons almal sukkel soms om ons gedagtes te beheer en hulle eerbaar en verheerlikend vir God te maak. In hierdie 6-dag-leesplan, gebaseer op Louie Giglio se boek DON’T GIVE THE ENEMY A SEAT AT YOUR TABLE, sal jy leer hoe om...

More

Ons wil graag Passion Publishing bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Vir meer inligting, besoek asseblief: https://www.passionpublishing.com

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid