Leesplan inligting

Leef deur geloofVoorbeeld

Leef deur geloof

DAG 4 VAN 5

DIE MOED OM TE KAN NEE SÊ


Die Here Jesus is deur Pontius Pilatus ondervra. Pilatus wou Jesus eintlik vrylaat, want hy het geweet dat Jesus niks verkeerd gedoen het nie. Al wat Pilatus wou hê, was dat Jesus alles waarvoor Hy gestaan het, moes afsweer. Jesus het egter nie ’n woord gesê nie. (Matteus 27:11-14)


Dit verg enorme moed om teen die stroom te swem, om op te staan en te sê: “Ek en my huisgesin sal die Here aanbid.” (Josua 24:15) 


Die grootste probleem wat die meeste van ons het, is ons vrees vir mense. Dit is hierdie vrees wat jou sal oortuig om stil te bly en deur die stroom meegesleur te word. 


Ek het nog altyd gedink dit verg moed om te antwoord op die Here Jesus Christus se roeping op jou lewe. Namate ek ouer word, besef ek egter dat dit soms meer moed verg om nee te sê. Ek dink byvoorbeeld aan jongmense wat nee sê vir seks voor die huwelik en vir dwelms, omdat die Bybel sê dat hierdie dinge verkeerd is. 


’n Paar jaar gelede is ek genooi om ’n Christelike veldtog te hou waar ’n baie belangrike rugbywedstryd ook sou plaasvind. Een van die spanne wou die uitreik bywoon wat op dieselfde tyd as die wedstryd sou plaasvind. Hierdie jong manne het vir die bestuur gesê dat hulle graag eerder die Vrydagaand wou speel, sodat hulle daardie Saterdag die byeenkoms kan bywoon.


Hulle het hul man gestaan en die wedstryd is verskuif, alhoewel die datum al maande voor die tyd vasgemaak was. ’n Wonderlike oorwinning! Voor die aanvang van die byeenkoms het ek die betrokke span gevra om op te staan en die skare het hulle toegejuig. 


Ek het gesê: “Ouens, gister se telling sal binne ’n week vergete wees, maar die feit dat julle jul man gestaan het, sal nooit vergeet word nie.” Soms lê daar ewigheidswaarde daarin om nee te sê. Onthou dus: As jy twyfel, sê nee!


GEBED: O Here, dis nie maklik om stroom-op te swem en nee te sê nie. Gee my die moed om nee te sê en gehoorsaam te wees aan die Heilige Gees se leiding in my lewe. Amen. 
Dag 3Dag 5

Aangaande hierdie leesplan

Leef deur geloof

Deur geloof in God word lewens verander, seën ontvang en hoop aangevuur. Geloof in God is die begin van ’n nuwe lewe vol verwondering oor God se grootheid en mag. In hierdie leesplan sal jy die krag van geloof ervaar en ...

More

Ons wil graag Angus Buchan en Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Besoek gerus vir meer inligting: https://www.cumbooks.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid