Leesplan inligting

Leef deur geloofVoorbeeld

Leef deur geloof

DAG 2 VAN 5

WANDEL DEUR GELOOF 


Eenkeer het ek en my oudste seun, Andy, saadmielies geplant toe daar ’n droogte was. Ons het deur geloof die mielies geplant en daar het net genoeg reën geval sodat dit kon ontkiem. Toe het die mielies egter begin swaarkry. 


Andy het gesê hy sou na die plaas omsien terwyl ons ’n kort vakansie neem. Nadat ons weg is, het die landerye elke dag al hoe droër geword en die mielies het begin krimp. Vroeg een oggend, nadat Andy stiltetyd gehou het, het hy na die landerye gery. Hier het hy op sy knieë neergeval, gebid dat die Here reën sou stuur om die oes te red en toe voortgegaan met sy daaglikse take. Teen die middag het daar groot, swaar reënwolke begin saampak. 


Andy het opgewonde na die lande gegaan en gestaan en kyk hoe die wolke naderkom. Toe het daar egter uit die bloute ’n oostewind begin waai wat die wolke uitmekaargejaag het. Van waar Andy gestaan het, kon hy die vlae reën oral sien val, behalwe waar ons dit nodig gehad het. Sy opgewondenheid het in moedeloosheid en selfs woede verander. 


Andy het teruggegaan na die plaaskantoor en sy Bybel oopgeslaan by Prediker 11:4: “As jy heeldag na die wind kyk, sal jy nooit saai nie. En as jy na die wolke kyk, sal jy nooit oes nie.” God se boodskap kon nie duideliker gewees het nie! Andy het berou gehad oor die ongeloof in sy hart, vir God om vergifnis gevra en toe aanhou werk. Daardie nag het die reën saggies begin val. Die volgende oggend het die mielies so regop soos soldate gestaan. Toe ek en my vrou terugkeer ná ons kort vakansie, het ons ’n splinternuwe saadmielieoes aangetref.


Ons moet deur geloof begin wandel en nie deur sig nie, want as ons in God twyfel en Hom nie vertrou nie, bind ons letterlik sy hande vas. Al wat ons moet doen, is ons heel beste. Die res moet ons in sy hande laat. Onthou, ná elke droogte kom daar altyd reën.


GEBED: Here Jesus, alhoewel U my daagliks seën, is dit vir my moeilik om U ten volle te vertrou. Help my asseblief om te leef deur te glo, ongeag die omstandighede. Help my om altyd te vertrou dat U my sal red. Amen.
Dag 1Dag 3

Aangaande hierdie leesplan

Leef deur geloof

Deur geloof in God word lewens verander, seën ontvang en hoop aangevuur. Geloof in God is die begin van ’n nuwe lewe vol verwondering oor God se grootheid en mag. In hierdie leesplan sal jy die krag van geloof ervaar en ...

More

Ons wil graag Angus Buchan en Christelike Uitgewersmaatskappy bedank vir die verskaffing van hierdie plan. Besoek gerus vir meer inligting: https://www.cumbooks.co.za/

YouVersion gebruik koekies om jou ervaring persoonlik te maak. Deur ons webwerf te gebruik, aanvaar jy ons gebruik van koekies soos beskryf in ons Privaatheidsbeleid